Roomse of Anglikaanse nagmaalborde en -bekers op ’n Hervormde nagmaaltafel? Is dit moontlik?

Op die foto kan voorwerpe van Gemeente Rustenburg se ou nagmaalservies gesien word: ’n broodskottel en deksel, twee broodbordjies, twee bekers en ’n bêrekissie. Die broodskottel is gemaak van tin wat ’n metaalmengsel is wat ’n silwergrys antieke voorkoms verleen. Die bak is 35 x 14 cm groot. Die twee broodborde en twee nagmaalbekers is van silwer. Daarop is die Christelike monogram IHS met ’n kruis op die H binne ’n son in ’n sirkel rondom gegraveer. IHS is die afkorting vir die Latynse term Iesus Hominum Salvator wat beteken Jesus, die Verlosser van die mense. Dit is afgelei van die Griekse naam vir Jesus en word dikwels in die Katolieke en Anglikaanse Kerke gebruik. Nou hoe sou bekers en borde uit ’n moontlike nie-Hervormde kerklike wêreld in die middel 1800’s in Rustenburg tuisgekom het?

Op 16 Junie 1860 het die 40-jarige William Robinson die nagmaalservies en die mahoniehoutbêrekissie (29 x 31 cm) aan sy gemeente geskenk. Hy was ’n Engelse baba van 1820-Setlaar-ouers. William gaan egter in Hollands skool in Cradock, vereenselwig hom geheel en al met die Voortrekkerideaal en word ’n lidmaat van die Hervormde Kerk. In 1840 stig hy die eerste skool in Potchefstroom. Vroeg in 1853 vestig hy hom in Rustenburg en in Augustus 1853 woon hy as diaken die eerste Algemene Kerkvergadering op Rustenburg in die ou kerkgebou by. Daar word gemeen dat hy ’n steunpilaar as ouderling en raadgewer in die NHKA was. Hy is vir ’n tyd lank landdros op Rustenburg en tydens die 1872-presidentsverkiesing is hy ’n kandidaat teen ds Thomas F Burgers. Hy was ’n regterhand van president Paul Kruger en sterf in 1914 in Middelburg, Transvaal. Sy geborduurde swart rookmussie, wat ’n algemene gebruik was vir vername manne om te dra tydens die rook van ’n sigaar, sigaret of pyp om te verhoed dat hul hare na tabakrook ruik, is ook te siene in ons kerkmuseum. Daar word in William se biografiese inligting vertel dat hy vanaf 1840 vir 30 jaar lank jag- en handelstogte kruis en dwars deur die gebied van die Ngamimeer tot by Grahamstad onderneem het en ’n befaamde olifantjagter en ontdekkingsreisiger was. Dit is bekend dat hy hierdie nagmaalservies van Rustenburg in Grahamstad gekoop het, dus midde-in die Engelse Anglikaanse en Katolieke (handels) wêreld.

Voordat gemeentes silwerware kon bekostig is die beste wat mense gehad het, gebruik. Die geelbruin glas nagmaalbekertjies van Potchefstroom wat gebruik is met die stigting van die gemeente op 26 Maart 1842 wys dit vir ons. Net so sou kerkmense op trek en op verafgeleë bymekaarkomplekke nagmaal gevier het met mooi glas, porselein of tin. Duur silwer is meestal deur welgestelde gemeentelede aan gemeentes geskenk. Soms is die donateurs se name deur hulself  of deur die ontvangers  daarop gegraveer.

Is ’n broodskottel vreemd? Dit was destyds die gebruik om die brood in dik snye te sny en dan in die broodskottel met die deksel te plaas sodat dit nie uitdroog nie, soos in ’n opdienbak. Die dominee het daaruit die snye geneem en telkens elkeen gebreek, niks is vooraf gesny nie. Min lidmate het aan ’n tafel gesit – ruimte voor die kansel was beperk. Daar is báie tafels bedien, want die kerke was stampvol. Vele snye brood was nodig in ’n groot boepensskottel! Mettertyd het hierdie skottels verdwyn en is hul plek ingeneem deur die broodskaal. Dit is ’n broodbord op ’n voetstuk waarop die broodrepe of -brokke lê waaruit die rondstuurborde gevul word. Soms is ’n effense klam doek daaroor gegooi en vandag sommer kleefplastiek om uitdroging te verhoed.

Die servies kan gesien word in die Pionierskas en die kissie is op die nagmaaltafel in die liturgiese ruimte in die SP Engelbrecht-museum. Die skinkkan of -beker van hierdie stel ontbreek ongelukkig. Professor SP Engelbrecht het in 1948 in die Almanak gevra dat die Kerk die bekers en die borde moes help soek, wat toe wel teen die eeufees van die gemeente in 1950 gebeur het, maar die skinkkan het nog nooit te voorskyn gekom nie. OF Mentzel beskryf ’n nagmaalsviering aan die Kaap in die 1730’s en deel ons mee hoe daar ook nie ’n skinkkan was nie, net ’n aantal bottels Constantia-rooiwyn op die tafel.

(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)