Dr Elritia le Roux
Gemeente Roossenekal se eeufeesviering (stigtingsdatum 3 Mei 1919) het op Sondag 19 Mei met ’n erediens en Nagmaal plaasgevind. Dr Elritia le Roux vertel meer.
Sedert my aankoms in die ring van Middelburg was die Nederduitsch Hervormde Gemeente Roossenekal vir my wat die gemeente Filippi vir Paulus was: blydskap en ’n kroon. Gemeente Roossenekal is ’n sprekende voorbeeld daarvan dat gemeentes volledig kerk kan wees sonder ’n voltydse predikant, mits die gemeente self volkome eienaarskap aanvaar vir hul bediening. Dit gebeur met onderskeiding in Roossenekal waar die ouderlinge self leeseredienste by die ouetehuis waarneem en gereeld huis- en siekebesoeke by lidmate doen. Dit is aangrypend mooi, want hul gemeente is volledig deel van hulle en hulle kan hulself nie daarsonder voorstel nie.
Die gemeente wat op 3 Mei 1919 ontstaan het vanuit die Moedergemeente Middelburg, waarvan Roossenekal eers net ’n wyk oftewel ’n “afdeling” was, het hul eeufees op 19 Mei 2019 met ’n luisterryke geleentheid gevier. Die gemoedere was vol, die dankbaarheid groot en die oorweldiging tasbaar vir soveel genade oor soveel jare wat die Here God so ryklik en onverdiend aan hulle geskenk het.
Die geleentheid is geopen met die onthulling deur ds Daan Smit van die gedenksteen waarop Psalm 84: 5 pryk. Daarna is die Nagmaaldiens gelei deur ds Louis Steyn met Skriflesing uit 2 Korintiërs 2. Die fokus van die prediking was die triomf van die evangelie van Jesus Christus wat vir die wêreld onsin is, maar wat aan die gelowiges lewe gee, en die feit dat hierdie triomf die werk van Christus alleen is deur sy genade en nie om mense draai nie. Die sang tydens die erediens was uitsonderlik mooi aangesien 100 gaste die klein kerkgeboutjie gevul het deur Psalm 146 uit volle bors te sing. Dr Elritia le Roux, skriba van die ring van Middelburg, het die gemeente Gesang 527 toegesing. Die kerklied het die perfekte kroon gespan op die versugting dat hierdie gemeente aan die Here God behoort en dat Hy sal gee dat hierdie Kerk nooit ten gronde sal gaan nie.
Oudl Nic Gouws het ’n voëlvlug oor die ontstaansgeskiedenis van die gemeente gegee, gevolg deur groeteboodskappe van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, die ring van Middelburg, die NG Gemeente Roossenekal, die Gereformeerde Kerk Stoffberg, die Afrikaanse Protestantse Kerk se gemeente in Stoffberg, en ds Mariaan Beukes, ’n voormalige leraar van die gemeente, wat persoonlik getuig het van die liefde en hartlikheid wat sy en haar gesin hier ondervind het. Dit was goed om te sien dat in hierdie plattelandse gemeenskap die ekumeniese bande tussen kerke wat op dieselfde belydenisgrondslag staan blakend gesond is en dat daar opregte waardering en liefde vir mekaar is. Daarbenewens is vermeld dat daar gereeld gesamentlike eredienste op spesiale feesdae plaasvind.
Die dankdiens, gelei deur ds Daan Smit, het daarna gevolg, met Skriflesing uit Psalm 150 en die aksent daarop dat die Here die Verbondsgod, die Lofwaardige is wie se lof besing moet word omdat Hy met ons in verhouding tree en ons tot lofsang inspireer. Weer eens was die sang besonders. Daar is afgesluit met die Onse Vader, en die ouderlinge, wat so entoesiasties en opgewonde was oor hierdie eeufeesviering, se oë het vol trane geskiet.
’n Keurige ete is deur die susters van die gemeente bedien en daar is feestelik gekuier. My ervaring was dat Gemeente Roossenekal met hul opregte manier van kerkwees, hul eienaarskap van hul eie gemeente en hul aksent op die essensie van kerkwees, terugkyk op 100 genadejare en kan uitsien na nog geseënde jare in diepe afhanklikheid van die Here.
(Dr Elritia le Roux is leraar in Gemeente Middelburg en skriba van die Ringskommissie van Middelburg)