Op die derde dag van die nuwe jaar stuur iemand vir my ’n prentjie van ’n baie bekommerde man. Daar is ’n byskrif: Op 1 Januarie begin ’n nuwe dekade, op 2 Januarie hoor ons dat die grootste deel van Australië brand, en op 3 Januarie begin die VSA en Iran die derde wêreldoorlog. Dinge gebeur nogal vinnig…

Wel, ek hoop die oorlog is op die ou end nie waar nie, maar wat waar is, is dat dinge vinnig gebeur. Hier is ons aan die begin van nog ’n nuwe jaar, en die versoeking is groot om maar weer soos in die verlede in die negatiewe vas te val en sonder moed en sonder raad deur die lewe te gaan.

As ek maar net dink aan die dorre Karoo waardeur ons vir ons gesinsvakansie gery het en die moedeloosheid wat my hart oorspoel het. Weke later is daar die beelde van Karooboere wat in waterplasse dans na die genadereën wat onlangs daar geval het. Dan besef ’n mens daar is hoop. Ja, ek weet, en dit met ’n stukkende hart, dat die reën ook te laat was vir baie boere, maar daar is hoop. God het nie sy rug op ons gedraai nie. Die vreugde op die foto’s en die videogrepe het ’n mens tog weer met nuwe moed en hoop gevul.

Daarom is dr Annette Potgieter se artikel, ’n Nuwe begin, so gepas. Op ’n besondere manier vat sy ons deur die vrees vir nuut begin en wys ons aan die hand van die vertelling van die wonderwerk in Kana, waar Jesus water in wyn verander het, dat verandering ’n fees is wanneer dit geskoei is op die verandering wat Jesus vir ons vergestalt.

Aan die einde van verlede jaar het ons as redaksie besluit dat ons vanjaar die voorblad van Die Hervormer vir ’n ander doel wil gebruik. Ons wil probeer om van swaar teologie op die voorblad weg te kom en eerder goeie nuus daar te plaas. Die droom is om elke maand iets te vertel van wat in ons Kerk gebeur waar gemeentes, of dan die Kerk as geheel, planne maak en maniere vind om as missionale kerk ’n verskil in mense se lewens te maak. Om te vertel hoe gemeentes die evangelie van hoop en verlossing in die wêreld uitdra.

In hierdie uitgawe vertel ds David Barnard in die artikel Verslete skoene en die herberg van die projek wat Gemeente Magaliesmoot begin het en wat hulle die Muurbalherberg noem. Hulle verhaal is vir my presies dit wat ek dink ons in die Kerk moet deel. ’n Verhaal van ’n gemeente wat nie net vaskyk in die uitdagings wat hulle in die gesig staar nie – in hulle geval dat hulle deur armoede omsingel word – maar dat hulle uitreik, deel is van ’n gemeenskapsprojek en ook hierdie herberg begin het. Mag die Here hulle werk seën, en mag hulle ook God se seën en genade elke dag beleef.

Ek nooi ander gemeentes wat ook sulke verhale kan vertel uit om met my kontak te maak en hulle verhaal met die res van die Kerk te deel. Dit maak nie saak hoe groot die gemeente is of waar dit geleë is nie, deel julle verhaal asseblief met ons sodat ons saam kan feesvier, saam kan hoop, saam kan droom.

2020 is ook ’n spesiale jaar omdat ons as Kerk saam met die Bybelgenootskap hulle 200ste verjaardag in Suid-Afrika vier. In hierdie uitgawe is daar berigte op die middelblad oor die feesvieringe en beplanning van die Bybelgenootskap vir hierdie feesjaar. Ek hoop dat gemeentes sal saamwerk om hierdie ’n besondere jaar te maak waar ons God sal loof en prys omdat ons sy Woord in ons eie taal kan lees. Kom ons, as Kerk, help hulle om die doelwit van tweemiljoen Bybels ’n werklikheid te maak. En dan wag ons ook met opgewondenheid op die 2020 Afrikaanse vertaling wat in November beskikbaar sal wees.

Dr Barry van Wyk lewer ’n betekenisvolle bydrae tot die gesprek oor Skrifbeskouing in sy artikel, Oor Skrifbeskouing, Karl Barth en dies meer. Hy wys ons daarop dat die Bybel nie maar net ink op papier is nie. Op sy tipiese reguit manier stel hy dit duidelik: Barth se Skrifbeskouing draai om God, genade en geloof. Die Bybel is nie mensegedagtes oor God nie, maar God se getuienis oor die mens. Daar is vir die kerk eintlik net een keuse en dit is die woord van God en die diens van sy Woord.

Ek nooi skrywers uit om met die redaksie in verbinding te tree oor gedagtes rakende Skrifbeskouing. Neem asseblief ook aan hierdie gesprek deel.

My bede is dat jy hierdie jaar elke uitgawe van Die Hervormer sal geniet. Ek weet ook dat almal nie altyd met alles wat ander deelnemers skryf, saamstem nie. Kom ons begin weer om debatte te voer oor dit wat ons in Die Hervormer lees. Reageer gerus op artikels deur ’n brief van maksimum 400 woorde te skryf en e-pos dit na produksie@nhk.co.za. Stel die saak, maar moenie persoonlik raak of oor iemand anders skryf op ’n manier waarop jy nie sou wou hê ander oor jou moet skryf nie. Neem deel, asseblief, want hierdie koerant is ons koerant, die plek waar ons as Hervormers met mekaar kan kommunikeer en met mekaar kan debatteer.

Mag elkeen van julle ’n geseënde 2020 beleef.

elwillsauer@gmail.com

Share via
Copy link
Powered by Social Snap