In Genesis 1: 1 – 2: 3 vertel die priesterskrywer ons God se skeppingswerk is ses plus een dae. Vir God wat alles kon oorsien, was dit goed en gaaf (Gen 2: 2). Volgens Genesis 1: 14 stel God die son en maan as lampe aan om dag en nag te onderskei en om as tekens te dien vir vaste tye en vir dae en jare.

Onder vaste tye dink die skrywer al aan die kultiese feeste wat vir Israel ingestel word en deur die omloop van die maan gesinjaleer word as nuwe geleenthede. Die dae en jare reël die burgerlike jaar. Maan en son gee elkeen ritme aan sy eie ryk, die burgerlike en die liturgiese.

Op die sewende dag was God klaar met sy taak. Na hierdie goeie begin gaan die verhaal voort en verduidelik dat alles nie goed en gaaf gebly het nie. Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld (Gen 6: 11, AFR1983). Die mense wat ons ken en self ook is, kom nie meer uit daardie beginhoofstuk nie en kan ook nie daarheen terugkeer nie. Daardie gulde geleentheid het ons verspeel. En verder kom daar nog by dat die mens gevaar inhou vir die wêreld en die geskiedenis. Ja, die geskiedenis word geensins minder as die omgewing bedreig nie. Die mens kan net in aanmatigende verantwoordelikheid meen dat die heelheid en goedheid van die wêreld van sy werke afhang. So kom sy sonde, ongeloof na vore. Hy matig homself so aan omdat hy nie in God, die Skepper, glo nie, in wie se skeppingswerk alleen die hemel en aarde heel en goed is. Die behoud van die wêreldorde gaan nie kom deur samewerking van God en mens nie, maar bly net van God af moontlik.

Kan hierdie menslike aanslag op ’n manier bestuur word? Laat ons hoor wat die ou priester daaroor nagedink en vir ons nagelaat het.

In Eksodus vertel hy dat die Here vir Moses ontbied en hom noukeurig inlig oor hoe hy die tabernakel met alles daarin moet inrig soos wat dit daarna in die tempel in Jerusalem herhaal sou word. Wanneer die tabernakel en sy kultiese toebehore by berg Sinai klaar is en Moses sy oë daaroor laat gaan en alles goed vind, kom ons skrywer met ’n duidelike sinspeling op die sesde en sewende skeppingsdag: So het Moses dan die werk voltooi. Toe het die wolk die tent van samekoms oordek, en die heerlikheid van die Here het die tabernakel vervul (Eks 40: 33-34, AFR 33/53). Die Bybelse verhaal trek ’n parallel tussen die bou van die tempel en die voltooiing van die skepping. Met die tempelliturgie word iets bereik wat vergelyk kan word met die skeppingswerk van God.

Nou kom die vrae by ons op: Here, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? (Ps 15: 1, AFR33/53). Ons moet dit met huiwering vra, want wat anders as ’n skuldvordering kan ons verwag waarin ons blootgestel staan as diegene wat onsself verloor het in ons ywer om vir die goedheid van die wêreld te sorg en die Here in die proses uit en weg te werk? Maar wanneer die opvordering sy betekenis kry uit die woord van God, waarin dit om die gawe gaan wat hierdie woord ook altyd is, dan word ons verander deur die oordeel van die Here na hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek (Ps 15: 2). Ons word in die eindtyd in verplaas en waar dit vir ons geklink het na ’n voorwaarde om in die teenwoordigheid van God te verkeer, het dit nou ’n gevolg geword van sy ontferming oor ons, vreemdelinge. En as die Here my so opnuut deur sy woord kan skep, is Hy ook so Skepper van hemel en aarde.

Ons verstaan en behartig dit dan dat die wêreld sy heelheid en goedheid kry as skepping van God, nie van mensewerke nie. As iemand wat my verlore bestaan opnuut uit die woord van God ontvang, kry my verantwoordelikheid vir die wêreld ’n ander karakter. Dit gaan om ’n onberispelike lewenswandel, om ’n ondersteunende rol in die gemeenskap te vervul, en daarom dat ’n mens se woord jou eer is. Oënskynlik het hierdie sake niks met godsdiens of met die kultus te doen nie. Tog bring die Psalm hierdie tussenmenslike gedrag in verband met die geloof in God. Ons alledaagse optrede het dus met die Here te doen. Ons lewe ’n eenheidslewe. Vir elke pelgrim wat by die heiligdom opdaag, word dit op die hart gedruk.

(Dr Piet Boshoff is emerituspredikant van die NHKA)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap