In hierdie aflewering kyk ons na die groei en vermindering van lidmaatgetalle in die Hervormde Kerk.
Die Hervormde Kerk het deur die loop van die 20ste eeu geweldig vinnig gegroei. Dit was grootliks te danke aan ’n hoë geboortesyfer. Gesinne met ses tot tien kinders was baie algemeen. Tot in die 1970’s het die Kerk ook groot aansien in die gemeenskap geniet en was dit eintlik vanselfsprekend dat mense lidmaat van ’n kerk sou wees. Sekularisasie en ongeloof het nie wyd voorgekom nie. Waar deeglike en toegewyde bediening deur predikante en kerkraadslede plaasgevind het, het gemeentes gegroei en gemeentestigtings gereeld plaasgevind. Oor ’n periode van 50 jaar het Hervormde gemeentes meer as 200 kerkgeboue opgerig.
Sedert die 1980’s het die Hervormde Kerk begin om stelselmatig lidmate te verloor. Die vermindering van lidmate is nie uniek aan die Hervormde Kerk nie – dit is ’n wêreldwye tendens. In die meeste lande bestaan die tradisionele gereformeerde kerke nog net as minderheidsgroepe. Hierdie wêreldwye tendens kan met enkele voorbeelde aangetoon word.
Duitsland
Kerklike statistieke vanuit Duitsland is betroubaar, omdat die jaarlikse belastingopgawes vereis dat daar ’n aanduiding gegee word van kerklidmaatskap. Gevolglik kan die vermindering van lidmate in die Evangelische Kirche Deutschland (EKD) noukeurig aangetoon word. Hieruit blyk dat daar in 1991 (pas ná die hereniging van Duitsland) nog 29,2 miljoen Protestante in Duitsland was. In 2001 was daar slegs 26,45 miljoen. Tussen 1991 en 2001 het die EKD dus ’n verlies van 2,75 miljoen lidmate gehad. Die tendens duur steeds voort.
Nederland
In 1947 was 17,1% van die Nederlandse bevolking nie meer formeel lidmaat van enige kerk nie; in 1979 het die syfer op 27% gestaan en teen 1993 op 52%. Lidmate van die Nederlands Hervormde Kerk het in 1900 ongeveer 90% van die Nederlandse bevolking uitgemaak. In 2000 was dit slegs 14%. Die verwagting is dat heelwat gemeentes in Nederland in die volgende 30 jaar sal verdwyn.
VSA
Die Barna Research Group se 2005-verslag, The State of the Church, het vasgestel dat die getal volwassenes in die VSA wat nie meer eredienste bywoon nie sedert 1991 verdubbel het – van 39 miljoen na 75 miljoen. Barna voorspel dat teen die huidige koers, plaaslike kerke en denominasies teen 2025 die helfte minder lidmate sal hê en dat hulle erediensbywoning drasties sal daal. Hierdie statistieke word bevestig deur die navorsing wat Sally Morgenthaler in 2003 gedoen het. Sy het bevind dat die werklike bywoning van eredienste in die VSA op 18% staan, waarvan die gereformeerde kerke slegs 3,4 % uitmaak. Charismatiese groepe trek 9% van die bevolking na hul eredienste en die Rooms-Katolieke Kerk 6,2 %.
NHKA
Die Hervormde Kerk het van 1910 tot 1987 in reële terme gegroei, veral as gevolg van aanwas en groei in die bevolking. In die laaste twee dekades vertoon die Hervormde Kerk ’n dalende tendens. Dit korreleer met die dalende geboortesyfer by die blanke bevolking. Die blanke bevolking het die afgelope dekades met meer as ’n miljoen mense gedaal. Die effek daarvan is in skole, kerke en veral plattelandse gemeenskappe redelik ingrypend.
Daar word tans 75% minder kinders gebore as 40 jaar gelede. Talle jongmense het die Kerk verlaat deur óf na ander kerke te gaan, óf te emigreer, óf buitekerklik te word. In die huidige stadium is die getal sterftes in die Kerk reeds meer as die getal geboortes. Dit beteken dat die Kerk verouder en dat die getal kinders eenvoudig afneem. Dieselfde proses is ook in ander kerke aan die gang.
Dit beteken dat die Hervormde Kerk in die toekoms nie deur natuurlike aanwas en deur die normale proses van doop, kategese en belydenis sal groei nie. Dit beteken dat gemeentes dit in die toekoms toenemend moeilik sal vind om predikante te versorg en tradisionele strukture in stand te hou. Die gaan van die Hervormde Kerk vra om met kreatiewe oplossings vorendag te kom, om te verseker dat die bediening van die evangelie voortgaan.
Die effek van ’n konstante daling in lidmate hou ernstige gevolge vir die Kerk in. Dit sluit in die verswakking van die Kerk se finansiële posisie, rasionalisering van sinodale poste, voltydse predikante wat te duur raak en kleiner gemeentes wat hul deure sluit. Alice Mann se navorsing oor die invloed van grootte op die funksionering van gemeentes het aangetoon dat die grootte van ’n kerk die prosesse, struktuur en dinamika wat in die kerk werksaam is, grondig beïnvloed: When organisms change significantly in size, they must also change in form. Hierby kan gevoeg word: As organisasies in grootte verander, verander nie net die vorm nie, maar ook die identiteit en funksionering van die organisasie. Dit beteken onder andere dat die opleiding van predikante, die funksionering van gemeentes en die manier hoe gemeentes bestaan ingrypend aangepas sal word. Dit het implikasies vir die identiteit van die Kerk.
Dit is om hierdie rede dat die Hervormde Kerk en die afgelope paar Algemene Kerkvergaderings belangrike besluite geneem het oor die roeping en identiteit van die Hervormde Kerk.
(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)