In hierdie aflewering kyk ons na die vestiging van ’n eie teologiese opleiding vir die NHKA.

Kort na die Vrede van Vereeniging (1902), het die Kerk begin om aandag te gee aan die vestiging van ’n eie teologiese opleiding, hoewel dit reeds in 1893 die eerste maal deur oudl MJ Willemse van Roossenekal op die agenda van die AKV geplaas is. Die oprigting van ’n eie opleiding het saamgehang met die noodsaaklikheid dat daar ’n universiteit in die ZAR opgerig sal word. Daardie ideaal het nader gekom toe die Staatsgimnasium in 1897 in Pretoria geopen het. Die skool, wat met Nederlandse leerplanne gewerk het, was daarop ingestel om die kinders voor te berei om tot ’n universiteit toegelaat te word. Daarom is nie net kursusse in moderne tale aangebied nie, maar ook in die klassieke tale, Latyn en Grieks. Hervormde predikante soos  ds P van Drimmelen en dr HCM Fourie was as jong seuns by die Staatsgimnasium ingeskryf om hulle vir universiteitstudie in Nederland voor te berei.

Aanvanklik is daar in die Hervormde Kerk beplan om ’n eie kweekskool te stig. Die verarmde toestand waarin die land na die Tweede Vryheidsoorlog was, het dit onmoontlik gemaak. Tog is die ideaal nie laat vaar nie, want met die AKV van 1909 is die saak weer uitvoerig bespreek. Daar het oudl NM Prinsloo die eie opleiding as noodsaaklik vir die behoud van die Kerk gestel. Hy het geargumenteer: Ik wil de bakens van mijn plaats behouden. De kerk is mijne erfenis en ik wil die houden. Ik ben voor opleiding van onze eigene zonen voor onze kerk. In daardie gees is besluit om ’n fondsinsameling te hou, ’n reglement vir ’n Teologiese Kweekskool op te stel, en om ’n Kuratorium vir die Opleiding te benoem. In ’n buitengewone AKV wat in Julie 1909 gehou is, is besluit om op 1 Augustus met die teologiese opleiding te begin. Dit het egter nie ’n werklikheid geword nie.

Intussen het prof dr PJ Muller in 1904 uit Nederland gekom om as predikant in Gemeente Pretoria te dien. Hy is in 1890 namens die Ned Hervormde Kerk as kerklike professor in die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Amsterdam aangestel. As gevolg van dr Abraham Kuyper se vyandigheid teen die Hervormde Kerk (hy was die leier van die Gereformeerde Doleansie en Eerste Minister van Nederland), is die subsidie vir die kerklike professors teruggetrek en het prof Muller sy werk verloor. Van 1896 tot 1902 was hy predikant van die Franssprekende gemeente van Haarlem. In 1903 het oudl ADW Wolmarans Nederland besoek en prof Muller versoek om ’n beroep na Pretoria te oorweeg.

In sy skrywe aan prof Muller, gee Wolmarans die volgende beskrywing van die Hervormde Kerk: Ons volk is tamelijk streng Kalvinistisch, doch wij moeten niet hebben de bekrompen Kalvinist, die bijvoorbeeld verbiedde ’s Zondags per rijtuig kerkwaarts te gaan of kos te koken omdat de dienstboden moeten rusten overeenkomstig de Wet. Ook moet wij niet hebben zij die eerst Gods Woord willen verbeteren en dan ’t overige neemt als Gods Woord. … Doch wij moeten hebben een man die ondubbelzinnig verklaard de Bijbel aan te nemen als Gods Woord en als de enige fondament van ons tegenwoordige en toekomstige leven…

Wat opvallend is, is dat Wolmarans baie duidelik ’n “middelposisie” inneem: Aan die een kant wys hy die oordrewe, bekrompe Calvinisme af; aan die ander kant ook die Modernisme wat nie erns maak met die Bybel as die Woord van God nie. Histories gesproke, verteenwoordig dit tot ’n groot mate die teologiese verskil tussen die Her-vormdes en Gereformeerdes in die Transvaal. Hervormde teologie was nog nooit fundamentalisties of ortodoks Gereformeerd nie. Tegelykertyd het die Hervormde lidmate en predikante hul respek vir die Woord van God en die belydenisskrifte behou. Die “middelposisie” is telkens deur die loop van die 20ste eeu bevestig, onder andere met die oprigting van die Hervormde Teologiese Studies (HTS), wat as subtitel gehad het vir die bevordering van Bybels-reformatoriese teologie. Daar is doelbewus gekies om nie te praat van “gereformeerde” teologie nie.

Muller het die beroep na Pretoria vir vyf jaar aangeneem en in April 1904 in Pretoria aangekom. In die vyf jaar dat hy in die Kerk gewerk het, het hy ’n belangrike rol gespeel as voorsitter van die AKV en as predikant wat na die Tweede Vryheidsoorlog se verwoesting Gemeente Pretoria weer georden en in vaste bane gestuur het.

Prof Muller se grootste bydrae in die Kerk was ongetwyfeld dat hy bereid was om met die opleiding van predikante te begin. In Julie 1909 het twee jong manne, JJ Prinsloo en JJ Kuhn, hul eerste lesing van prof Muller gekry in sy studeerkamer in die pastorie van Gemeente Pretoria. Naas die onderrig in die klassieke tale, het prof Muller  hulle in al die teologiese vakke onderrig. As dogmatikus van formaat was prof Muller die ideale leermeester. In 1909, na slegs ses maande se teologiese opleiding, is sy twee leerlinge tot die dienswerk van predikant in die Kerk toegelaat. Ten spyte van hul beperkte opleiding, het hulle as Hervormde predikante dienswerk van onskatbare waarde gelewer.

Nadat sy ooreenkoms met Gemeente Pretoria verstryk het, het prof Muller in 1909 weer na Nederland teruggekeer. Sy invloed het nog lank in die Kerk nagewerk omdat sy dogmatiekhandboek wat hy in 1893 geskryf het en in 1908 in uitgebreide vorm weer uitgegee het, vir bykans 30 jaar die voorgeskrewe dogmatiekhandboek vir Hervormde predikante was. Die titel van die handboek is Handboek der Dogmatiek ten dienste der Ned Hervormde Kerk. Muller se persoonlike kopie, deur homself geteken en met sy eie potloodaantekeninge in die kantlyn, is in my besit. 

Die handboek was lank in omloop omdat Muller so ’n bekende kerkleier was en by gewone lidmate en predikante vertroue ingeboesem het. Die boek was ook bruikbaar omdat Muller eers die geskiedenis van elke leerstuk weergegee het en so die behoudende en kerklike standpunt saam met sy eie (meer liberale) opvattings aan die orde gestel het. Hierdie benadering en metodologie sal in ons tyd as Historiese en Sistematiese Teologie beskryf word. Dit is daarom merkwaardig dat in 2020, meer as 100 jaar na die hersiene uitgawe van Muller se dogmatiekhandboek verskyn het, die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria weer ’n Departement vir Historiese en Sistematiese Teologie ingestel het.

(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)

af
af
Deel met behulp van
Copy link