In hierdie aflewering kyk ons verder na die vestiging van ’n eie teologiese opleiding vir die NHKA.
Na die vertrek van prof PJ Muller in 1909 na Nederland, het
die opleiding van Hervormde predikante tot stilstand ge-kom. Gevolglik moes die Hervormde Kerk weer predikante uit Nederland of van die NG Kerk bekom, wat al moeiliker was, veral na die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914.
Uit die notules van die AKV blyk dit telkens dat die Hervormde Kerk zijne Gereformeerde belijdenis… hetgeen de eenige waarborg is tegen allerlei nieuwe onbijbelsche leeringen die tegenwoordig verkondigd en aangenomen worden wou handhaaf. Die AKV was diep bewus van die gevare wat die Modernisme ingehou het. ’n Eie opleiding is gesien as ’n waarborg vir die handhawing van kerklike teologie. Die AKV het besef dat solank as wat die Kerk nie inspraak in die teologiese opleiding het nie, dit die voortgang van die Kerk kan belemmer. In 1909 het ds Jac van Belkum hom baie skerp oor die saak uitgelaat: Ik zeg: wij moeten de school hebben. Zonder haar gaan wij dood.
Daarom besluit die AKV in Julie 1909 dat ’n kweekskool vir die opleiding van predikante gevestig moet word. ’n Kuratorium is benoem wat bestaan het uit ds CW du Toit, ds Jac van Belkum, ds A Murray en ds PW Ennis. Saam met hulle is die ouderlinge JA Malherbe, ADW Wolmarans, JH Visage, DJ Bodenstein en A van der Brast benoem. Terselfdertyd is ’n heffing aan al die gemeentes opgelê om so die nodige fondse bymekaar te maak.
Die besluite is nooit uitgevoer nie. Dit het saamgehang met die feit dat die owerheid die stigting van ’n universiteit in Pretoria teruggehou het. In die plek van ’n eie opleiding het die Kuratorium toe ’n reëling met die Teologiese Fakulteit in Utrecht getref waarvolgens hulle die Neder-landse professore ’n bykomende salaris betaal het om na die teologiestudente van die Hervormde Kerk om te sien. Op grond van hierdie reëling het ds Simon Vermooten, ds SJ Strydom en die latere prof SP Engelbrecht aan die Universiteit van Utrecht studeer.
Ds Van Belkum het vanaf 1912 weer begin om die stigting van ’n kweekskool te bevorder. Sy argument was dat jongmense aan ’n universiteit tot teoloë gevorm word, maar aan ’n kweekskool kan die Kerk vir haar herders en leraars vorm. Die Kerk wil immers oor predikante beskik wat kan preek, huisbesoek doen en kategese hanteer. ’n Kweekskool, so oordeel Van Belkum, kan predikante van karakter vorm wat vervul is met die Gees, mense wat deur God geroep is tot diensbaarheid.
Tydens die AKV van 1916 het dit egter bekend geword dat daar tog ’n Teologiese Fakulteit aan die Transvaal University College (TUC) verbind kon word, en die AKV het opdrag gegee dat dié moontlikheid eers ondersoek moet word. Dit het ’n werklikheid geword nadat uitvoerig met die owerhede onderhandel is. Dr JHJA Greyvenstein, wat toe predikant van Gemeente Pretoria was, is deur die Kuratorium as die eerste dosent van die Kerk aangewys.
Dr Greyvenstein was afkomstig uit die NG Kerk, maar hy het as Kaapse rebel aan die Tweede Vryheidsoorlog deelgeneem en sy teologiese studie in Utrecht afgerond met ’n doktorsgraad wat hy verwerf het onder prof Hugo Visscher, wat konfessioneel georiënteerd was en een van die stigterslede van die Gereformeerde Bond was. Dit het meegebring dat Greyvenstein deur die Hervormde Kerk met die opleiding van predikante vertrou is.
Nadat die ooreenkoms met die TUC bereik is, kon Greyvenstein op 1 April 1917 met sy werksaamhede begin. Volgens die ooreenkoms sou die opleiding volgens die duplex ordo funksioneer. Dit beteken dat daar algemene en kerklike vakke was. Die algemene vakke is deur verskillende dosente hanteer, terwyl prof Greyvenstein die kerklike vakke hanteer het. Die kerklike vakke was Dogmatiek, Praktiese Teologie en Kerkgeskiedenis.
Aanvanklik was daar bedenkinge in die Kerk omdat die teologiese opleiding aan ’n Engelstalige universiteit gevestig is en die feit dat die studente lesings moes volg by dosente wat nie lidmate van die Hervormde Kerk was nie en buitendien net Engels kon praat. Tydens die AKV van 1919, waar die saak ter sprake was, het prof Greyvenstein dié opmerking gemaak: Het lijkt of de broeders denken dat alleen ds MacMillan en niet ik invloed heeft op onze studenten. Ze vergeten, dat ik met hen omga als een vader met zijn kinders. Er is geen gevaar voor mislukkings. Die vergadering het die gerusstelling aanvaar. Met hierdie uitspraak het prof Greyvenstein onder die studente as Vadertjie bekend geword.
Kort hierna is die Hervormde dosentekorps vergroot met die aanstelling van prof SP Engelbrecht in Kerkgeskiedenis, en prof HP Wolmarans in Godsdienswetenskap. Soos reeds gemeld, het Engelbrecht aan die Universiteit van Utrecht studeer, terwyl Wolmarans aan die Universiteit van Groningen studeer het. Daar het hy kennis gemaak met die Dialektiese Teologie, veral die bydrae van Emil Brunner. Hy het in sy lesings breedvoerig aan Brunner se teologie aandag gegee. So het dit gebeur dat die Dialektiese Teologie reeds baie vroeg ’n bepaalde invloed op die Hervormde Kerk en Hervormde teologie uitgeoefen het.
(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)