Prof BJ (Ben) Engelbrecht (1923-2011) het reeds in sy studentejare, deur die toedoen van prof HP Wolmarans, ’n belangstelling in die dialektiese teologie ontwikkel.
Barend Jacobus Engelbrecht is gebore aan die Suikerbosrand, in Spieskloof tussen Nigel en Balfour. Hy het arm grootgeword en moes partymaal kaalvoet en met ’n donkiekar vrugte verkoop. Hy matrikuleer in 1940 aan die Hoër Volkskool Heidelberg. In 1941 begin hy met sy teologiese studies. In 1946 slaag hy sy-BD eksamen met lof en in 1947 vertrek hy per skip, saam met ds PS Dreyer en hul eggenotes, na Groningen vir doktorale studies.
In 1949, slegs 26 jaar oud, promoveer hy onder prof H de Vos met ’n proefskrif getitel Die tydstruktuur in die gedagtekompleks Hegel-Kierkegaard-Barth. In 1952 word hy as professor in die nuut geskepte dogmatiekleerstoel aangestel. Hy was dekaan van die Fakulteit Teologie (Afdeling A) van 1970 tot met sy aftrede in 1987. In daardie stadium was hy die langsdienende hoogleraar in die Fakulteit; van sy kollegas het drie hul doktorsgrade onder sy leiding voltooi. Die invloed van Engelbrecht op Hervormde teologie kan nie betwyfel word nie.
Engelbrecht het reeds in sy studentejare, deur die toedoen van prof HP Wolmarans,’n belangstelling in die dialektiese teologie ontwikkel. Hy het reeds as student ’n Engelse vertaling van Emil Brunner se Gott und Mensch besit en deurgewerk. Vir sy doktorale eksamen in Groningen het hy ook die werk van Haitjema, die bekende Nederlandse dialektikus, deurgewerk. Hy en PS Dreyer het ook ’n semester by Karl Barth in Basel lesings bygewoon. Hulle was ook bevoorreg om die privitisima wat Barth vir doktorale studente aangebied het, by te woon.
Engelbrecht se proefskrif was een van die vroeë pogings van ’n Suid-Afrikaanse teoloog om met veral Barth se teologie erns te maak. Engelbrecht kom na ’n kort (die hele proefskrif is maar 83 bladsye lank) intense bespreking van Barth se denke tot die slotsom dat Barth die waarheid en wese van die Christelike openbaring aan geen verganklike geskape syn of funksie van hierdie syn (denke, gevoel wil, waardeoordeel ens.) wil veranker nie. Engelbrecht het daarmee tot die kern deurgedring van Barth se kritiek teen die liberale teologie van die 19de eeu.
Engelbrecht is egter nie ’n blindelingse navolger van Barth nie. Sy kritiek op Barth kom, interessant genoeg, vanuit ’n pastorale besorgdheid na vore. Hy stel dit dat Barth in sy dogmatiek die pastorale, gemeentelike en praktiese lewensvrae uit die oog verloor. Hierdie kritiek eggo op ’n manier die kritiek wat Bultmann teen Barth gelewer het in ’n brief waarin hy Barth verwyt dat hy in dogmatisme verval het en die eksistensiële aard van teologie mis.
Prof JH Koekemoer, wat Engelbrecht se opvolger in die Departement Dogmatiek was, som Engelbrecht se dialektiese teologie soos volg op: Dit is gegrond in ’n dialoog waarin God eerste gepraat het en die mens alleen maar kan na-praat. Aan hierdie interpretasie van dialektiek het Engelbrecht dwarsdeur sy akademiese loopbaan getrou gebly. Vir hom was teologiese spreke nooit iets anders as na-spreke nie. Die mens kan eers praat nadat hy geluister het.
Koekemoer som Engelbrecht se teologie soos volg op:
- Die Bybel is die enigste outentieke getuienis van die soewereine God, wat altyd God bly, ook in sy Openbaring, in sy Woord.
- Die openbaring van God mag nooit gedegradeer word tot iets wat die mens kan besit of uitbrei of aanvul met sy eie verstandelike vermoë, ervaring of gevoel nie.
- Alle teologiese vrae moet vanuit die Christologie deurlig word. ’n Uitspraak wat prof Engelbrecht dikwels in sy lesings gemaak het, is dat ’n afwykende leer teruggevoer kan word tot ’n afwykende Christologie.
- Voordat ’n persoon oor die mens praat, moet hy eers leer om te luister na daardie Woord wat God in die Woord, dit wil sê in die lewende Woord Jesus Christus, gespreek het.
- Die gees van die modernisme en liberalisme op teologiese gebied is ’n Krankheit zum Tode.
Uit bogenoemde is dit duidelik dat Engelbrecht ’n goeie greep gehad het op die dialektiese teologie en veral die werk van Barth. Engelbrecht publiseer twee huldeblyke aan Barth: een met Barth se dood in 1968 in die HTS, en een met die 100-jarige herdenking van Barth se geboorte in 1986 in Die Hervormer. Gedurende die 37 jaar waarin hy dosent was, het hy jaarliks ten minste twee werke van die Nederlandse dialektici (Haitjema en Van Niftrik) of die Switserse dialektici (Barth en Brunner) voorgeskryf. Hy het vir meer as 30 jaar opeenvolgend Van Niftrik se Kleine Dogmatiek voorgeskryf. Dit is dus duidelik dat die dialektiese teologie ’n groot invloed gehad het op sy lewe en teologie.
Daarom is dit vreemd dat Engelbrecht so min van die dialektiese teologie in sy eie publikasies gebruik maak. As sy publikasies nagegaan word, is dit opvallend dat die dialektiese teologie slegs in agt van sy meer as 150 publikasies ter sprake kom. Van hierdie agt verskyn slegs vier in akademiese tydskrifte; die res is geplaas in Die Hervormer. Die vraag is waarom Engelbrecht, wat self die invloed van die dialektiese teologie op sy lewe en teologie erken, so min na dialektiese teoloë verwys of die dialektiese teologie bespreek. Die antwoord is waarskynlik te vind in sy waardering vir die reformatoriese teologie, veral Calvyn. Daaroor volgende keer meer.
(Ds Willem Dreyer is leraar in Gemeente Delareyville)