Prof FJ (Frans) van Zyl (1913-2008) se bydrae tot die teologie in die Hervormde Kerk is van onskatbare waarde. Sy nadenke oor die dialektiese teologie het die Hervormde Kerk in ’n bepaalde teologiese rigting gestuur.

Francois Jacobus van Zyl is gebore in die Marico-distrik. Hy matrikuleer in 1932 en meld in 1933 aan vir teologiese studies. In 1939 word hy georden, en hy bedien vervolgens die gemeentes Standerton, Lydenburg, Springs en Wonderboompoort. Hy voltooi sy doktorale studies in 1959 en promoveer onder leiding van prof HP Wolmarans in Godsdienswetenskap. Met die aftrede van Wolmarans in 1959, word Van Zyl aangewys as dosent in Godsdiens- en Sendingwetenskap.

In Frans Van Zyl vind ons die presiese teenstelling van prof Ben Engelbrecht, oor wie in die vorige aflewering geskryf is. In Engelbrecht se publikasies het daar betreklik min van die dialektiese teologie na vore gekom, terwyl Van Zyl se publikasies ’n oorvloed van verwysings na die dialektiese teologie bevat. Dit was Frans van Zyl, meer as enigiemand anders, wat die Hervormde Kerk se belangstelling in die teologie van Karl Barth gevestig en bevorder het. Reeds in 1944 word Van Zyl (wat in daardie stadium maar ’n skamele vyf jaar lank predikant was) deur die Predikantevergadering gevra om ’n studie te doen oor Karl Barth en sy navorsing in Die Hervormer te publiseer sodat die breër kerklike publiek van hierdie belangrike teoloog kennis kon neem. Van Zyl het op twee ander geleenthede artikelreekse in Die Hervormer oor Barth se teologie gepubliseer: in 1969/1970 en in 2003, op die ouderdom van 90, ’n lang reeks van 23 artikels. Dit is duidelik dat Van Zyl geglo het dat die dialektiese teologie nie net van akademiese belang was nie, maar ook vir die algemene lidmaat belangrik was.

Van Zyl het hom oor ’n periode van 60 jaar indringend met die teologie van Barth besig gehou. Van Zyl se grootste bydrae tot die Hervormde Kerk was die uitwerk en verduideliking van begrippe wat kenmerkend aan die dialektiese teologie is. Watter gesoute Hervormer het nog nie in hul katkisasieklas hierdie stelling gehoor nie? Die Bybel is God se Woord in mensetaal. Of ’n predikant van die kansel af hoor sê dat God die Gans Andere is nie? Albei hierdie stellings kom direk uit die dialektiese teologie.

Dit is egter nie net in die tipiese Hervormde manier van praat dat ons die invloed van Van Zyl hoor nie, maar ook in die huidige terminologie wat in die Hervormde Kerk gebruik word wanneer van “missionale kerkwees” gepraat word. Alhoewel Van Zyl dalk nooit die term missionaal gebruik het nie, was hy een van die predikante wat in 1945 die Algemene Kerkvergadering beweeg het om nie langer hul sendingverantwoordelikhede te ontduik nie. Reeds in 1972 sê Van Zyl dat die doel van sending groter is as slegs die opbou en die bestaan van die Kerk, en dat dit om die heerskappy en koninkryk van Christus gaan. Ook daarin het hy by Barth aangesluit. Deur die gesprek oor sending op die agenda van die Hervormde Kerk te hou, is die Kerk voortdurend herinner aan die evangeliese opdrag om die evangelie aan almal te bring.

Frans van Zyl se bydrae tot die teologie in die Hervormde Kerk is van onskatbare waarde. Sy nadenke oor die dialektiese teologie het die Hervormde Kerk in ’n bepaalde teologiese rigting gestuur, en sy Skrifbeskouing het as gids gedien om die roetekaart te lees.

Daar is egter ’n kritiese vraag wat gevra moet word in verband met BJ Engelbrecht. Waarom het Van Zyl, wat in dieselfde periode as Engelbrecht dosent was, sy dialektiese hart op die mou gedra, terwyl Engelbrecht na die teologie van Calvyn en die Reformasie teruggegryp het? Die een antwoord kan eenvoudig persoonlike voorkeur wees. ’n Ander antwoord kan wees dat Engelbrecht hom in ’n tydperk van groot spanning en konflik in die kerk en politiek gehou het by ’n onaanvegbare teologiese erfenis.

Die verskille word duidelik wanneer gekyk word na Van Zyl se sieninge oor kerk en volk. Hy het wel die Hervormde Kerk se beleid van volkskerklike sending onderskryf, maar ons kan ook by Van Zyl ’n groter afstand teenoor die volk as by Engelbrecht sien. Hierdie punt kan geïllustreer word deur die artikels wat albei dosente in 1974 met die 50-jaar-vieringe van die Van der Hoff Teologiese Studentevereniging geskryf het. Engelbrecht skryf in ’n byna triomfantlike berig in Die Hervormer van Maart 1974 dat die toonaard van Van der Hoff en die teologiese opleiding van ons Kerk Christelik-nasionaal is… en dat die fakulteit en Van der Hoff dankbaar moet wees vir die mooi tradisie en dit sal uitbou. Van Zyl stel aan die ander kant by dieselfde geleentheid Verbeel ek my maar net, of is dit ’n feit dat ’n georganiseerde politieke blok besig is om in ons geledere gevorm te word? en vra dan: Is dit ’n spontane, normale en gesonde verskynsel dat Van der Hoff die laaste paar jare feitlik in sy geheel beheers word deur ’n politieke rigting?

In die laaste paar bydraes is gepraat van “Hervormde” teologie. Soos gesien kan word uit die bostaande aanhalings, is dit egter duidelik dat Hervormde dosente nie altyd saamgestem het oor wat Hervormde teologie sou wees of wat dit beteken om ’n Hervormer te wees nie. Die meningsverskille het tot konflik gelei en dikwels die gesprekke in die Hervormde Kerk oorheers. Daaroor meer in volgende bydraes.

(Ds Willem Dreyer is leraar in Gemeente Delareyville)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap