Ons vier ’n halfeeu van genade! Dit was die voorstel van een van die lede van ons Feeskomitee toe ons die bewoording van ons spesiale etiketwyn moes finaliseer. Op 22 Julie 2022 was Stellenbosch 50 jaar oud en vir ons was dit voorwaar ’n halfeeu van genade wat ons gevier het.

Sedert 21 Julie 1940 was daar slegs een gemeente van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die Kaap, naamlik Gemeente Kaapstad. Op 19 Mei 1946 het alles begin verander toe daar vir die eerste keer sedert die kerk in die Kaap se naamsverandering weer ’n diens van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Stellenbosch gehou is. Ds A Brandt, predikant van Kaapstad, het die diens in die Hofmeyrsaal gelei. Van toe af is daar van tyd tot tyd eredienste in die Eikestad gehou, maar in 1949 is dit weer gestaak.

Dr AJG Dreyer, ds Brandt se opvolger in Kaapstad, skryf in ’n artikel in die Rigsnoer van Maart 1973: Die vormingsjare van Kaapstad is agter die rug en daar moet nou met mening gewerk word om te desentraliseer. Die kerkraad en die gemeente het besef dat dit nie ideaal is om die gemeentelike lewe in die Kaap rondom die een kerkgebou in Kaapstad te konsentreer nie.

Die gevolg was dat ongeveer 14 mense in Augustus 1966 in die sitkamer van ’n manskoshuis in Stellenbosch byeengekom het. Hulle het besluit om een keer per maand ’n erediens in Stellenbosch te hou. By die tweede gemeentevergadering in Augustus 1968 is enkele broeders tot kerkraadslede verkies, naamlik broeders Van Schaik, Hemink en Swanepoel as ouderlinge, en broeders Kruger en Coetzer as diakens. Broeder Swanepoel is verkies tot skriba en broeder J Vos as kassier.

Die Lutherse Kerk in Stellenbosch het hul gebou tot die gemeente se beskikking gestel en die eerste diens daar is op 18 September 1966 gehou, bygewoon deur 30 persone. In 1967 het die een keer per maand verander na twee oggenddienste per maand wat om 08:30 begin het. Vir die meeste mense, veral vir die studente, was dit te vroeg. Die son kom in die winter maar laat op in die Kaap! Met die predikant wat om 10:30 weer in Kaapstad moes preek, was daar geen ander keuse nie.

In 1969 is die aantal dienste per maand vermeerder tot een erediens per Sondag – twee oggenddienste en twee aanddienste per maand. Danksy pastorale hulp in Kaapstad kon die oggenddienste nou om 09:00 begin. Vanaf 21 Maart 1967 is daar toestemming verleen dat Stellenbosch sy eie bankrekening kon open. Hulle kon dus nou hul eie finansies behartig en ’n boufonds begin. Die susters het met groot entoesiasme weggespring en die koektafels het gereeld meer as R100 per keer geïn.

In 1969 het die gemeente ’n pragtige Nagmaalstel van broeder en suster Vos as geskenk ontvang, en van toe af kon albei sakramente op Stellenbosch bedien word. Die kategese het met vyf kinders begin, aanvanklik aan huis van ouderlinge MaClean en Behrens, en later in die polisiesaal.

Die grootste behoefte van die gemeente was ’n perseel vir ’n kerkgebou, aangesien die bearbeiding van lidmate, en veral studente, ’n probleem sou bly solank daar nie ’n eie kerkgebou was nie. Om geskikte grond binne trefafstand van die Universiteitsgemeenskap te kry, was egter nie ’n maklike taak nie. Die enigste oplossing – koop ’n ou huis en slaan dit plat. Na ’n lang soektog en baie onderhandelinge, is die perseel op die hoek van Bosman- en Hofmeyrstraat, die beste perseel van almal, vir die bedrag van R31 000 aangekoop. Binne enkele jare is reeds R11 000 van die bedrag afbetaal, en aan die begin van 1971 is die bestaande gebou, ’n losieshuis, gesloop. Die bouplanne vir die kerk was gereed.

Die AKV van 1970 het fondse beskikbaar gestel vir ’n kerkgebou op Stellenbosch. Die gemeente het R75 000 ontvang waarvan R20 000 as lening terugbetaalbaar was. Alle verdere kostes moes deur die gemeente self gedra word. Daar is ook ’n standplaas vir ’n studenteleraar op Stellenbosch goedgekeur, hoewel ’n deel van die standplaaskoste deur die gemeente self gedra sou word.

Op 17 Augustus 1971 is dr SGA Golden, wat met verdere studies in Nederland besig was, as predikant van die gemeente beroep. Hy het die beroep aanvaar en is op 13 Februarie deur prof JI de Wet in Kaapstad bevestig. Behalwe dat daar nou gereelde eredienste op Stellenbosch kon wees, is daar vanaf Januarie 1972 ook met eredienste in die Paarl begin. Op 21 Julie 1972 het Gemeente Stellenbosch van Kaapstad afgestig en ’n selfstandige gemeente geword. Tygerberg, Bellville en Wynberg het op dieselfde datum afgestig.

 

Op 19 Mei 1973 het die groot dag aangebreek en is die nuwe kerkgebou ingewy. Die prediking is deur ds JGM Dreyer (senior) van Potchefstroom waargeneem en groete en gelukwensinge is oorgedra, onder andere deur prof JP Oberholzer namens die Kommissie van die AKV, mnr AB van N Herbst namens die Raad van Finansies, en dr AJG Dreyer namens die ring van Kaapland.

In 1975 is ds WCJ van Rensburg na die gemeente beroep, en hy begin met dienste in die Strand ook. Hy het die gemeente in 1980 verlaat en na bykans twee jaar is hy deur ds PF Viljoen opgevolg, wat in 1982 in die gemeente bevestig is.

Die gemeente het vinnig uitgebrei en ontwikkel in ’n gemeente met buitewyke en ’n preekpunt in die Strand/Somerset-Wes-gebied sowel as in die Paarl. In Augustus 1986 is ’n subsidie van R800 per maand aan die gemeente toegestaan vir die vestiging van ’n tweede standplaas, op voorwaarde dat Worcester dan ook by die gemeente ingesluit moes word. In Stellenbosch is ’n standplaas vir studente geskep wat deur die Raad van Finansies gesubsidieer is. Dus is daar ’n tweede standplaas vir die gemeente geskep.

In 1987 verlaat ds Viljoen die gemeente en word ds P Grobler in die gemeente bevestig. Na die skepping van die tweede standplaas, word ds CJA Pieterse op 7 Februarie 1988 as tweede predikant in die gemeente bevestig. Daar is ondertussen ’n kerkgebou in Strand gebou en een in die Paarl aangekoop. In Worcester is grond aangekoop met die oog op die bou van ’n kerkgebou. Daar is toe gereelde eredienste gehou in Stellenbosch, Strand en Paarl, met wyksdienste in Worcester en Malmesbury.

Sedert 1988 is daar elke tweede maand ’n algemene kerkraadsvergadering in Stellenbosch gehou. Die ander maande se kerkraadsvergaderings en toerusting is in die buitewyke gehou.

Op 1 Desember 1988 neem die kerkraad kennis dat die Kommissie van die AKV die skep van ’n ekstra standplaas goedgekeur het en dat ’n addisionele subsidie van R20 000 daarvoor toegestaan is. Die volgende indeling is goedgekeur:

  • Afdeling A: Stellenbosch en Worcester, en dit word deur ds P Grobler bearbei. Hy woon in Stellenbosch in die pastorie.
  • Afdeling B: Strand, Somerset-Wes en Hermanus, en dit word deur ds CJA Pieterse bearbei. Hy woon in sy eie huis in Somerset-Wes.
  • Afdeling C: Paarl, Wellington en Malmesbury, en dit sal deur die nuwe predikant bearbei word en hy of sy sal in die Paarl woon.

Elke afdeling sou hul eie werkwyse onder leiding van die betrokke predikant bepaal en hul eie finansies bestuur. Daar sou twee gesamentlike kerkraadsvergaderings per jaar in Stellenbosch gehou word, en die Finansiële Kommissie sou as oorkoepelende Kommissie maandeliks vergader en kontrole uitoefen.

Daar is besluit om ’n getroude vrou as predikant in die derde standplaas te beroep, met die interessante motivering dat haar vergoedingspakket sonder behuising, munisipale koste, pensioen en medies kon wees, aangesien haar man as broodwinner daarvoor verantwoordelik sou moes wees. Ds MM de Kock is beroep en daardeur is geskiedenis gemaak deurdat ds De Kock die eerste vrouepredikant was wat in die Kaapprovinsie bevestig is.

Ds De Kock het die beroep aanvaar en hoewel die notules van die kerkraadsvergadering nie aandui wanneer sy bevestig is nie, het sy in Januarie 1989 haar eerste kerkraadsvergadering bygewoon. Op 8 Augustus 1989 tree sy die eerste keer op as voorsitter van die gesamentlike kerkraadsvergadering. Tydens die betrokke vergadering word besluit dat daar voortaan een aanddiens per maand in Stellenbosch gehou sou word, naamlik op die eerste Sondagaand van die maand. Di Pieterse en Grobler sou die dienste om die beurt lei.

Op 4 Augustus 1991 stig die Paarl af en op 11 Augustus 1991 die Strand. Stellenbosch het voortbestaan as Gemeente Stellenbosch met ’n preekpunt in Worcester. Ds P Grobler was na die afstigtings predikant van Stellenbosch, ds Pieterse van die Strand, en ds De Kock het die Paarl bearbei.

In 1991 is ds Grobler deur dr LC Bezuidenhout opgevolg. Hy is weer in 1994 deur dr J Buitendag opgevolg. Onder dr Buitendag (nou prof Buitendag) se leiding is Hervormatiehof-woonstelle op die perseel opgerig waar verblyf aan 33 studente verskaf word. Dit dra by tot die gemeente se finansiële onafhanklikheid. Dr C le Roux het dr Buitendag in 2001 opgevolg en is vandag nog predikant van Stellenbosch.

Gemeente Stellenbosch het met groot dankbaarheid ons 50ste verjaardag gevier, met dank aan elke predikant en elke lidmaat wat in die gemeente gewerk het en daartoe bygedra het dat ons hierdie groot dag kon vier. Dit was ’n heerlike fees wat begin het met ’n Bybelse ete, gevolg deur ’n potjiekosdag op Saterdag 23 Julie en ons Feesdiens op Sondag 24 Julie. Ons dank aan ons Hemelse Vader dat ons as gemeente so geseën is oor die jare, en ons eer Hom dat dit deur sy genade steeds goed gaan met die gemeente.

(Ds Chris le Roux is leraar in Gemeente Stellenbosch)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap