Oor 2026 kan ek net sê: Die jaar begin in diepe dankbaarheid.
In 2025 was dit dankbaarheid-op-’n-drafstap, met hoogtepunte soos die onverwagse geleentheid om iets van kerkwees, teologie en die universiteitswese in postkommunistiese Oos-Europa te ervaar. ’n Volgende was toe my broerskind sy doktorale studie by my voltooi het en die drie week oue nuwe lewetjie saambring na die gradeplegtigheid – my 92-jarige ma se eerste agterkleinkind. ’n Derde was die interessante ander wêreld van die Oos-Kaapse Sinode van die NG Kerk in Gqeberha wat ek kon meemaak.
En toe lees ek oor die Sinode van die Gereformeerde Kerke en hul besluit oor vroue. Dit gebeur met ’n vlugtige gevoel van dankbaarheid dat dit niks met my te doen het nie.
Toe bring Januarie 2026 my tot stilstand.
In die Kaap by my ma kry ek die uitnodiging om die tweede diens in Januarie in die Tygerberg kerk waar te neem. Ek was ’n hoërskoolkind en teenwoordig toe daardie kerkgebou ingewy is. Die voorsitter van die AKV, prof Bart Oberholzer, het vir die geleentheid gekom. Tydens die koffiedrinkery onder in die saal wys my pa na my en sê vir hom: Sy wil teologie studeer. Oom Bart antwoord: Laat sy kom. Dit was so anders as die afwysende boodskap wat my koshuismaat, Christina Landman, destyds van ’n leier in die NG Kerk gekry het. Gelukkig het die akademie plek vir haar flink verstand gehad. Op 11 Januarie 2026 staan ek weer in daardie einste kerksaal en onthou oom Bart se woorde.
Op 25 Januarie 2026 is dit presies 45 jaar gelede dat ek ná ses jaar se teologiestudie as predikant in die NHKA georden is. Skielik slaan dit my: niks hiervan is vanselfsprekend nie. Was ek in ’n ánder kerk, waar ánder leiers met seggenskap oor mense se lewens en klem op ánder tekste in die Bybel ánder besluite geneem het, sou ’n halwe eeu van my lewe uitgewis gewees het. Dit sou gewoon nie bestaan het nie. Die besef laat my met ’n geskokte stilstaan-dankbaarheid – ’n diepe verwondering dat ’n lewe wat so maklik glad nie kon gewees het nie, tóg was.
Dankie, my kerk, vir 50 jaar van lewe – dat my menswees erken en my roeping gerespekteer is. Dankie, my kerk, vir die keuse van Genesis 1: 27 (AFR83), … as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het God hulle geskep en Galasiërs 3: 28 (AFR83), Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één, as rigtinggewend vir die besluite van leiers met seggenskap oor ander mense se lewens.
Dankie, my kerk.
(Prof Yolanda Dreyer is emerituspredikant van die Nederlandssprekende Gemeente)