Oupa Stoep
’n Kerkraadslid vra Oupa Stoep hoekom die dominee ook bid net voor hy op die kansel klim as die kerkraad enkele sekondes vantevore in die konsistorie ook gebid het vir die verkondiging in die erediens daardie Sondag. Oupa Stoep was gestonk vir ’n antwoord, maar gelukkig het Oupa Stoep slim vriende…
Die gebruik om in die konsistorie voor die erediens ’n gebed te doen, asook vir die predikant om ’n gebed te doen wanneer hy of sy die kansel bestyg, is deel van ’n baie ou kerklike tradisie, beduie een van Oupa Stoep se vriende hom toe. Dit is egter nie net ’n tradisie nie – dit berus op die oortuiging dat God self, deur sy Gees, in die erediens teenwoordig is. Dit hou ook verband met die spreuk wat vroeër jare op feitlik elke kansellap in die Hervormde Kerk te sien was: So spreek die Here!
In die Engelse kerklike tradisie was dit die gebruik om voor en na die erediens vir die prediking te bid. Baie Hervormde gemeentes het steeds die gebruik om voor en na die erediens ’n konsistoriegebed te doen. Anthony Burgess (oorlede in 1664) skryf op ’n plek dat prediking sonder gebed sinneloos is, omdat die woorde van die prediker op sigself kragteloos is.
Dit is God self, deur die werking van die Heilige Gees, wat swak mensewoorde verander in die kragtige Woord van God. Met die konsistoriegebed en die kanselgebed voor die tyd word gebid dat die Here mense se harte en verstand sal open sodat hulle nie net mensewoorde sal hoor nie, maar die Woord van God. Met die gebed ná die erediens word gebid dat God deur die Gees die prediker en die gelowiges as kinders van God in die wêreld sal laat leef.
Dit is egter nie net die kerkraad wat voor en na die erediens in die konsistorie bid, of die predikant wat bid voor hy of sy die kansel bestyg nie. In die Hervormde Kerk is dit ook die gebruik dat lidmate voor die erediens ’n stilgebed doen. Dit is nog baie algemeen om te sien dat lidmate hul sitplekke in die kerk inneem en dan bid. Die gebed voor die erediens kan ’n oomblik van persoonlike toewyding wees, maar behoort ook voorbidding vir die predikant te wees, vir die verkondiging van die Woord en die werking van die Heilige Gees.
In die reformatoriese teologie is daar ’n onbreekbare band tussen die Woord van God en die Heilige Gees. Daar is geen Woord sonder Gees en Gees sonder die Woord nie. Luther het by geleentheid geskryf die Bybel op sigself is dooie letters; dit is eers wanneer die Heilige Gees ons oortuig van die waarheid daarvan dat die Bybel die lewende Woord van God word. Daarom is God se Woord altyd dinamies en kragtig, maar alleen omdat die Heilige Gees dit so maak. Daarom het dit in die reformatoriese tradisie ’n vanselfsprekende gebruik geword om te bid vir die werking van die Heilige Gees voor, tydens en na die verkondiging van die Woord.
Calvyn het gesê dat wanneer die predikant die evangelie suiwer verkondig, is dit asof die gemeente die stem van Christus self hoor. ’n Predikant wat deeglike eksegese gedoen het en gebid het dat die Heilige Gees die mensewoord sal bekragtig, kan sê: So spreek die Here…
Oupa Stoep het net een keer in sy lewe geglips en nie gebid voor hy by die kansel opgeklim het nie. Hy was nog ’n jong dominee toe ’n eerbiedwaardige ouderling, wat toevallig ’n advokaat was, gevra word om die konsistoriegebed te doen. Hy het baie mooi gebid, dié ouderling, maar op ’n plek, toe hy Here wou sê in sy gebed, toe sê hy Edelagbare… ag ek bedoel: Here. Oupa Stoep het so gegiggel dat hy skoon vergeet het om by die kanseltrappie ’n gebed te doen…