Bekommerde Bertha van Bekkersdal vra: Beste Oupa Stoep, my ouers trek beide al by diep in die tagtigs. Hulle is albei nog baie gesond, maar ons begin agterkom dat my pappie se geheue hom baie in die steek laat. Ons het eers gedink dis net vergeetagtigheid, maar dit raak nou so dat hy soms nie weet wie my ma is nie of nie sy pad terug van die winkel kan kry nie. Het Oupa dalk vir my raad oor die pad vorentoe?
Beste Bertha, uit jou beskrywing wil dit klink of jou dierbare pappie simptome begin toon van wat party mense die lang vergeet noem. Die slim mense sou sê dis dalk demensie of alzheimers wat by jou pa begin manifesteer. Oupa se eerste aanbeveling sou wees dat julle vir Pappie so gou moontlik by ’n mediese praktisyn kry. Hulle kan help om met allerhande toetse vas te stel wat die omvang van Pappie se toestand is.
Sou dit wees dat Pappie in ’n vroeë stadium van demensie of alzheimers is, moet julle weet dat ’n moeilike en moeisame paadjie vir julle as gesin voorlê. Oupa was op ‘n keer by ’n praatjie oor hoe om met geliefdes met hierdie toestande om te gaan. Oupa onthou (gelukkig nog!) dat daar gesê is dat daar drie goue reëls is.
Die eerste is: Moenie te veel vrae vra nie. Persone met demensie of alzheimers bevind hulle in die posisie waar hulle besef dat hulle ‘n eenvoudige vraag soos: Wat het jy vir ontbyt gehad? moet kan beantwoord, maar hulle kan net nie. Hoe meer vrae daar kom wat hulle weet hulle behoort te kan beantwoord maar nie in staat is om te beantwoord nie, hoe meer trek die mense terug in hulle doppe.
Die teede goue reël is: Moet nooit weerspreek nie. Al sou Pappie iets heel onsinnig sê soos: Ou Jan van Riebeeck het gister by my kom kuier, moenie sê: Maar Pa, Jan is al vierhonderd jaar terug dood nie. Gaan net aan met die gesprek en sê iets soos: Ek hoop Pa het hom goed uitgetrap vir al die nonsens waarvoor hy verantwoordelik is, veral vir die beurtkrag waarmee ons so sukkel.
Die derde goue reël is: Leer om van herhaling te hou. Jy gaan dieselfde storie oor en oor en oor en oor hoor. Moenie die persoon daarop wys dat hy of sy tien minute terug vir jou dieselfde storie vertel het nie.
Oupa sal ’n vierde reël byvoeg: Behou jou sin vir humor. Iemand met vroeë demensie bedank Oupa nou die dag hartroerend vir die mooi roudiens wat hy vir haar broer gelei het. Oupa waardeer altyd ’n goeie kompliment, maar het gesukkel om sy gesig reguit te hou toe die dame in alle erns vir Oupa sê: En dominee, die absolute hoogtepunt van die diens wat ek nooit sal vergeet nie, was toe jy die perde deur die kerk laat galop het!
Oupa bid julle baie sterkte toe. Julle gaan dit nodig kry!