Vitterige Veronique van Verena vra: Beste Oupa Stoep, ek het pas my aanstelling as huweliksbevestiger gekry. Ek wil graag alles perfek reg doen, maar ek is so bang dat ek ’n huwelik bevestig wat onwettig is omdat die paartjie verlangse familie van mekaar is. Kan Oupa my dalk help om nie so ’n fout te maak nie?
Beste Veronique, Oupa het, toe hy kort ná die sondvloed as huweliksbevestiger aangestel is, ’n handboek getiteld Handleiding vir Huweliksbevestigers ontvang. Oupa beveel aan dat jy so ’n boek in die hande kry en paragraaf 29 op bladsy 5 goed bestudeer. Daar sal jy byvoorbeeld sien dat ’n suster se seun se dogter nie met ’n suster se dogter se seun in die huwelik mag tree nie.
Jy raak ’n baie belangrike en sensitiewe saak aan. Oupa het hiervan eerstehands kennis, want ’n lidmaat het eendag voor Oupa kom sit en sy lot soos volg beween: Laat ek vir Oupa vertel wat gebeur het: Ná ou Breggie my ontval het, het ek mos weer gaan staan en trou, met Sannie. Sannie se dogter wat 19 jaar oud is, trek toe ook by ons in. Later werk dinge so uit dat my pa ook by ons kom bly het. Die ou bok het mos altyd ’n oog vir die jong blaartjies gehad en hy en my tweede vrou se dogter raak verlief op mekaar en hulle trou toe ook. Toe gebeur die volgende:
My pa word oombliklik my stief-skoonseun. My vrou het die skoonma van haar eie skoonpa geword.
Toe word my stiefkind, dis nou my vrou se dogter, swanger en sy raak ’n seuntjie ryker van my pa se kant af. Daai kleintjie is mos eintlik my halfbroer. Maar omdat hy nou van my stiefkind af kom, is ek ook my halfbroer se oupa. Toe begin ons bietjie verbouereerd raak oor die situasie…
Maar dis nog niks: Toe word ek en my vrou ook ’n seuntjie ryker. Toe is dinge behoorlik deurmekaar, want as jy mooi uitwerk, is my pa in daardie stadium toe my kind se swaer, ek is my stiefma se half-oom, en my vrou is haar eie kind se tante.
My seun is ook sy eie pa se neef. Maar wat my kop gebreek het, was toe ek agterkom ek het in die proses my eie oupa geword…