Opgewonde Otniël van Oudekraalfontein vra: Beste Oupa Stoep, ek is baie opgewonde nou dat ek die moontlikhede van kunsmatige intelligensie (KI) begin ontgin. As jy die regte vrae vra, kan die kletsbot vir jou ’n volledige preek uitwerk, nogal in Afrikaans ook! Dit maak my hande los om die belangrike dinge in die gemeente te doen, soos om ballonne op te blaas vir Klein Jeug se Peppa Pig-partytjie. Dink Oupa dat ek nou maar my kommentare en woordeboeke kan verkoop, want ek gaan hulle mos nie meer nodig kry nie?
Beste Otniël, Oupa was sy lewe lank iemand wat gehou het van vooruitgang op die gebied van tegnologie. Sowat 50 jaar gelede was Oupa, pas ná hy in sy eerste gemeente aangekom het, baie opgewonde toe hy kon begin werk op ’n twin floppy-rekenaarstelsel wat op die CPM-aandryfstelsel gehardloop het. Oupa het met twee vingers sy preke getik en hulle dan uitgedruk op ’n stippeldrukker (dot-matrix). En Oupa het gedink hy is tog so innoverend! Daardie preke was niks beter nie as die handgeskrewe preke wat Oupa aanvanklik gemaak het. Die enigste verskil is dat Oupa nou nog toegang het tot daardie handgeskrewe preke in hul roomkleurige preekboekies, terwyl die CPM-gebaseerde preke nie eens deur die FBI se beste rekenaars ontsyfer kan word nie.
Oupa het dus geleer om nie te gou op loop te gaan met alle tegniese nuutskeppings nie. Oupa onthou ook iets wat ’n wyse proffie hom as student geleer het: Inspiration is nine-tenths perspiration. KI kan ’n handige hulpmiddel wees om by die eindproduk van ’n preek uit te kom, maar Oupa glo dat KI nooit die eindproduk self kan wees nie. Oupa voel dat jy maar moet sweet met ’n teks, met jou eksegese, met jou nadenke oor hoe jy jou preek wil formuleer. Hierdie is maar ’n paar stappe op die moeisame maar tog baie bevredigende paadjie om by ’n deurleefde preek uit te kom.
KI bly ’n siellose, tegnologies aangedrewe middel. En dit hou verskeie risiko’s in. Die volgende verhaal illustreer wat Oupa bedoel. ’n Superkomper is ontwikkel wat klaarblyklik enige teks in enige taal kon vertaal na enige ander taal toe. Iemand voer toe Matteus 26: 41 – Die gees is gewillig, maar die vlees is swak – in die oorspronklike Grieks in en vra die rekenaar om dit te vertaal in Engels. Die liggies op die rekenaar het geflits, dit het gestaan en tjir-tjir maak, en toe met die volgende antwoord vorendag gekom: The whiskey was fine, but the steak was mediocre.
So, my liewe Otniël, hou asseblief jou kommentare en woordeboeke, snuffel gereeld deur hulle as jy preek maak. Wat is die leuse van die Van der Hoff Teologiese Vereniging nou weer? Bewaar wat aan jou toevertrou is…