Tranerige Tryntjie van Trichardt skryf: My oupa is onlangs oorlede en ek moet die reëlings vir sy begrafnis tref. Die ondernemers het vir my ’n dokument met ’n lys van opsies gegee vir die diens, wat wissel van ’n klein lykswaentjie wat deur ’n motorfiets getrek word tot duiwe wat vrygelaat kan word. Kan Oupa my dalk help sodat ons op waardige wyse afskeid kan neem van my oupa?
Liewe Tryntjie, heel eerste my innige simpatie met julle groot verlies en baie sterkte met jou taak om in moeilike omstandighede moeilike reëlings te moet tref. Dit wil vir Oupa lyk of jy op die regte spoor is, want jy sê dat julle waardig afskeid wil neem van julle oupa. Dis die kern waaroor dit vir my gaan by ’n afskeidsdiens, of dit nou ’n begrafnisdiens of ’n verassingsdiens is.
Dis bly in die eerste plek ’n erediens waar Woordverkondiging in die middelpunt behoort te staan en alles wat gereël word, behoort die vertroostende evangeliewoorde te ondersteun en nie daaraan afbreek te doen nie. Om finaal afskeid te neem, bly ’n traumatiese gebeurtenis, en dit is Oupa se belewenis dat ’n diens wat gekenmerk word deur waardigheid, eenvoud en respek, grootliks daartoe bydra om die trauma van die gebeurtenis so ietwat te versag.
Die teenoorgestelde is ongelukkig waar van al die elemente wat deesdae aangehak word by ’n troosdiens. Daar is baiekeer persone wat uit die goedheid van hulle harte aanbied om ’n skyfievertoning te maak waarin die lewe van die oorledene uitgebeeld word. Dit is ’n edele gedagte, maar die praktyk is dikwels dat die skyfievertoning ’n lewe van sy eie kry en maklik tien tot vyftien minute lank word. Foto’s wat vir die familie baie beteken, word ingeskandeer en vertoon dikwels baie dof op die skerm. Baie foto’s het ook nie veel betekenis vir die mense in die gemeente wat hulle respek kom betoon het nie, want hulle verstaan nie die konteks waarbinne die foto geneem is nie.
Dit wil ook vir Oupa klink of elke liewe Afrikaanse sanger deesdae voel dat hy of sy ’n “afskeidsliedjie” deel van hulle repertoire moet maak. Hierdie liedjie neig meestal na soetsappigheid, en as Oupa na ses van hulle in ’n ry moet luister terwyl die skyfies vertoon, beweeg hy gevaarlik naby aan ’n erge suikersiekte-aanval.
Die ander nadeel is dat die baie persoonlike foto’s wat gewys word, die geneigdheid het om die nabye familie so te ontstel dat hulle omtrent niks van die res van die diens inneem nie. Oupa stel voor dat dit vir almal dalk beter sal werk as die familie ’n ete reël waar die oorledene se gunstelinggeregte voorgesit word, sy of haar gunstelingmusiek gespeel word en al die hartsmense die kans kry om hulle gunstelingherinneringe van die oorledene te deel.
Oupa het gehoor dat daar oor baie jare gebruike veral rondom begrafnisse ontstaan het wat simbolies respek wil betoon deur te wys dat ’n mens nie haastig is om van die oorledene afskeid te neem nie. Dis een van die redes hoekom ’n begrafnisstoet baie stadig ry en hoekom ’n mens meestal om ’n draai by ’n begraafplaas inry. Die stadige sak van die kis in die graf is ook deel van hierdie manier van respek betoon.
Ons sal nog vir ons nuwe gebruike moet uitwerk wat pas by verassingsdienste, veral omdat verreweg die meeste dienste deesdae roudienste by ’n verassing is. Oupa hoop ons kan daarby uitkom om iets te vind wat respek en ’n waardige en nie-gejaagde manier van afskeid neem, uitbeeld.
’n Laaste ware verhaal wat dalk hierdie punt onderstreep: ’n NG kollega van Oupa vertel dat hy by ’n graf gestaan het nadat daar swaar reëns uitgesak het. Terwyl hy praat en die kis sak, kom hy agter dat die grond onder sy voete besig is om weg te sak. Hy besef toe dat daar net een uitweg vir hom oorbly en dit is om bo-oor die graf te spring na die droër grond aan die ander kant. ’n Week of wat later kry hy ’n oproep wat vra of hy iemand sal begrawe, maar die persoon vra toe spesifiek dat hy asseblief die oorwinningsprong wat die oorgang van die tydelike na die ewige so treffend uitgebeeld het, weer sal doen…