Stomme Silvanus van Stilfontein skryf: Beste Oupa Stoep, ek hoop Oupa kan my help. Die inperkingstyd is nou amper ’n volle jaar aan die gang en dit voel vir my of ons al hoe minder met mekaar praat. Dink Oupa dis net ek, of voel ander mense ook so?

Beste Silvanus, Oupa dink jou waarneming is heeltemal in die kol. So baie van ons mense is voos van hierdie pandemie en die uitwerking wat dit op alle vlakke van ons lewens het. En dié voosheid maak dat die stiltes tussen woorde al hoe langer, al hoe dieper word. Ene Donna Ashworth het ’n stukkie hieroor geskryf wat baie treffend is. Oupa het dit vry vertaal:

Jy verbeel jou nie dat dit voel asof niemand nou met jou wil praat nie. Boodskappe is kort en antwoorde vat ’n tyd om by jou uit te kom. Praatjies van bymekaarkom of Zoom-gesprekke word op ys geplaas. Gesprekke op groepies pieng nie meer heelnag lank nie.

Dis nie net jy nie. Dis ons almal. Ons is opgebruik. Ons het niks meer om te sê nie. Ons is moeg om te sê “Ek mis jou” of “Ek kan nie meer wag dat hierdie verbygaan nie”. So nou sê ons niks, sit kop neer en probeer net deur elke dag kom. Hierdie is ’n manier van bestaan wat ons nie ken nie, want ons almal ervaar dieselfde al is ons ver van mekaar af. So byt vas, my vriend. As jy lus voel, stuur ’n paar boodskappies uit, maar moenie om verskoning vra as jy stilbly nie.

Dit vat aan ons almal. Maar niemand oordeel jou nie.

Hoop dit beteken vir jou soveel soos dit vir my beteken het, Silvanus.