Verwarde Finalejaar van Verwoerdburg vra: Beste Oupa Stoep, ek is nou in die finale jaar van my teologiese studies en ek weet nie of ek nou al moet begin spaar sodat ek teen die einde van die jaar vir my ’n toga kan koop vir die legitimasieplegtigheid nie. Gaan dit nie goedkoper wees om net een te huur nie? Ek sien dat al hoe minder dominees togas dra terwyl hulle preek. Dink Oupa ek sal waarde vir my geld kry as ek ’n dure toga koop?
Beste Finalejaar, Oupa het vir jou ’n kort antwoord: Onomwonde JA! Sien, as jy ’n toga koop en dra, word jy deel van ’n tradisie wat meer as vyf eeue oud is! Oupa is van mening dat ons deesdae baie arm geword het aan tradisies, ook en veral in ons kerklike lewe. Die dra van ’n toga deur ’n predikant is vir Oupa ’n baie mooi en ’n baie betekenisvolle tradisie.
In April 2019, toe jy óf ’n verdwaasde eerstejaar óf ’n alwyse tweedejaar was, het Oupa vertel hoe dit gekom het dat ons dominees ’n swart toga dra. Dit kom kortliks op die volgende neer: Die dra van ’n toga is ’n gebruik wat gekom het uit die tyd van die Kerkhervorming, meer as 500 jaar gelede. In die Katolieke Kerk het die ampsdraers togas van verskillende kleure gedra wat die verskil in hul range en status binne die Kerk aangedui het. Die manne van die Kerkhervorming het daarteen besluit. Vir hulle was die werk van ’n dominee meer ’n dienswerk as ’n amp met verskillende vlakke van status, en daarom het hulle gekies om ’n swart akademiese toga te dra om te wys dat hulle akademies toegerus was vir hul werk deurdat hulle ’n graad aan ’n universiteit behaal het.
In ons dag en tyd het hierdie betekenis so effe vervaag, maar vir Oupa bly dit iets kosbaars. Daar lê ook ’n stuk gesonde raad in hierdie geskiedenis. As jy vir jou ’n toga koop, oorweeg dit sterk om ’n gewone akademiese toga te koop soos wat jy by jou gradeplegtigheid sou dra en nie een met swaar fluweelinsetsels nie. So ’n toga kan onhebbelik warm word in ons somermaande. Oupa is nou al op sy derde gewone akademiese toga. Die vorige twee het ongelukkig ’n bietjie gekrimp in die was…
Oupa weet dat daar niks in die Kerkorde staan wat die dra van ’n toga verpligtend maak nie. Dit bly elke predikant se keuse. Die dra van ’n toga al dan nie verander ook net mooi niks aan die kwaliteit van die boodskap wat ’n predikant bring nie. Oupa mag dalk die enigste een wees wat nog so dink, maar vir hom pla die neiging om meer wêrelds as die wêreld te probeer wees in die inrigting van eredienste nogal baie. Oupa voel dat ons in die erediens omgaan met die Gans Andere God en dat dit positief is as die inrigting van die erediens iets van hierdie gans andersheid probeer weerspieël. Die gebruik van die kleure van die kerklike jaar, die aansteek van ’n Christuskers en ja, die dra van ’n toga deur die liturg, dra onder andere, in Oupa se mening, baie hiertoe by.
Daar is so baie mooi tradisies wat loop saam met die toga. Oupa het grootgeword met die gebruik dat ’n teologiestudent se tuisgemeente vir hom of haar hul eerste toga koop en dat die student se ma vir hom of haar die toga aantrek voordat die student die proefpreek lewer. Die toga word weer gedra by die legitimasieplegtigheid. ’n Volgende mooi tradisie is dat, wanneer ’n proponent beroep en bevestig word, die proponent kniel nadat hy/sy op die vrae in die formulier geantwoord het, en al die geordende predikante wat teenwoordig is, kom lê dan die hande op die proponent se kop wanneer die proponent amptelik tot geordende predikant verklaar word. Oupa was al by geleenthede waar al die predikante togas aangehad het, maar ook by ander waar net die liturg ’n toga aangehad het. Eersgenoemde geleenthede was vir Oupa, en hy glo ook vir die proponent, baie meer aangrypend en waardig.
Oupa was nou die dag by ’n erediens waar ’n predikant wat ’n beroep ontvang het, bevestig is in die gemeente. Predikante is gevra om hul togas aan te trek, en daar het ’n mooi klomp predikante voor in die kerk gestaan om die dominee se hand te skud na die bevestiging. Dit was ook baie mooi en baie waardig, tot een van die dominees gesê het dat die klomp dominees wat daar in hul togas gestaan het, hom herinner het aan die versreël Halfmaan van geweldenaars….
’n Ander kosbare gebruik, in Oupa se oë, wat grootliks in onbruik verval het, is dat dominees wat die roudiens van ’n kollega bywoon, met hul togas aan in die konsistorie byeenkom voor die diens en dan, in gelid van oudste tot jongste, uitstap en saam sit vir die erediens. Daar lê tog vir Oupa iets in hierdie gebruik wat sê dat dié dominees hul respek en waardering vir hul kollega se dienswerk wys deur hul togas aan te trek as hulle die roudiens bywoon.
Oupa merk ook iets baie interessant op. Oupa het in die afgelope verlede nogal baie paartjies in die huwelik bevestig wat nie deel van sy gemeente was nie. Dis gewoonlik die kinders van familie, vriende of ander kennisse. Feitlik al die troues, soos die gebruik tans is, word bevestig nie ín ’n kerkgebou nie, maar in die kapel van die onthaalplek. Oupa vra vir elke paartjie of hulle wil hê dat hy sy toga aantrek vir die seremonie, en deur die bank vra hulle dat Oupa dit asseblief moet doen. Nou die interessantheid: By letterlik elke troue kom daar iemand na die tyd na Oupa toe en bedank hom en sê dat dit so lekker was dat hulle in ’n diens was waar dit vir hulle gevoel het of daar ’n predikant aan die woord was en nie net sommer iemand wat praatjies maak nie…
Oupa wil beklemtoon dat hierdie sy eie en baie persoonlike perspektief op die dra van ’n toga is. Oupa staan glad nie krities teenoor dominees wat verkies om nie ’n toga te dra nie. Oupa respekteer ten volle hul keuse. Oupa hoop tog, liewe Finalejaar, dat Oupa jou kon beïnvloed om dalk te oorweeg om wel vir jou ’n toga te kry en hom te dra. Op stuk van sake, soos iemand vir Oupa gesê het toe hy eendag sy toga aantrek, enige vriend van Batman is ’n vriend van my!
