Duister Danie van Donkerpoort vra: Beste Oupa Stoep, Oupa moet help, asseblief! Hierdie beurtkrag is besig om my onder te kry. Het Oupa dalk enige raad wat my gemoed kan lig?
Beste Danie, Oupa het gedink hy het die nodige lig om jou gemoed te verhelder, maar toe verdwyn dit ook in die donker put van Fase 6-beurtkrag! Oupa onthou dat Oumagrootjie Stoep vir hom ’n glasie vol van ’n mengsel van Engelse sout en aluin elke oggend van sy tienerjare ingejaag het, kwansuis om te help met die puisieplaag wat Oupa getref het. Die mengsel was bitterder as gal, maar drink moes Oupa dit drink elke liewe dag, al het die puisies glad nie gedaal van ’n Vlak 6-besmetting nie.
Wat Oupa vir jou wil sê, is dat ons maar die bitter medisyne van beurtkrag sal moet sluk en aanhou sluk. Behalwe as jy die Lotto wen en vir jou ’n sonpaneelstelsel kan insit, gaan die bitter smaak van ’n paar uur sonder krag elke dag maar deel van ons dieet bly.
Oumagrootjie Stoep het darem vir Oupa ’n lepeltjie suiker gegee na elke dosis van die puisie-konkoksie. Ons moet maar mooi kyk en sien of ons nie iets soets kan kry om die beurtkrag beter te maak nie.
Oupa het mooi gaan dink en toe besef dat Eskom ons eintlik mooi help. Sien, ons het mos elkeen ons roetine wat ons moet volg as ons saans bed toe gaan om te sorg dat ons ’n veilige en ongesteurde nagrus kan hê. In Oupa se huis werk dit so:
As dit donker word, gaan maak Oupa seker dat die krokodille in die grag wat Oupa om sy huis gegrawe het, uit hul hokke is en hul swempatrollies kan doen. Oupa aktiveer dan die twee stelle elektriese heinings om die grag en die huis, sluit die gewapendestaal-buitehek, die veiligheidshek, die voordeur en die drie interne veiligheidshekke op pad na die slaapkamer toe. Oupa sorg dat daar ’n honger rottweiler neffens elke veiligheidshek lê, en dan kan Oupa en Ouma slaapkamer toe.
Oupa sluit die sewe slotte van die slaapkamerdeur, sorg dat die ligte masjiengeweer voor die deur oorgehaal is en dat sy veiligheidsknip aan is, en aktiveer dan die alarm en die laserstrale aan die buitekant van die huis. Oupa maak seker dat beide sy en Ouma se stelle paniekknoppies binne maklike bereik is, en dan eers klim Oupa en Ouma in die bed.
Nou die lekkerte: Eskom sit dan die ligte vir Oupa af…