Paniekbevange Pastor van Patensie vra: Beste Oupa Stoep, een van die meer senior ouderlinge in my gemeente het my kom sien, vergesel van sy seun wat nou ’n tweedejaarstudent in kommunikasiekunde is. Dié mannetjie beduie toe vir my dat ek heeltemal verstok geraak het in die manier hoe ek met die gemeente kommunikeer. Ek moet meer interaktiewe kommunikasie hê, beduie hy vir my. Ek is nie juis iemand wat op my voete kan dink nie. Ek hou daarvan om te oordink wat ek gaan sê. Die ouderling staan natuurlik bankvas agter sy seuntjie. Help asseblief, Oupa, wat staan my te doen?
Beste Pastor, Oupa het oneindige empatie met jou. Oupa is ook iemand wat daarvan hou om sy woorde te weeg en so ’n bietjie aan hulle te herkou voor hy hulle op die wêreld loslaat. Maar eerste dinge eerste. Onthou dat daar geen intelligenter wese in die ganse heelal is as ’n tweedejaarstudent nie. So ’n student se intelligensie is egter net boekekennis.
Hy het nog ’n lang pad om te loop om lewenskennis op te doen. Sou hy iets meer van die lewe leer, sal hy gou besef dat daar nie een manier van kommunikasie is wat pasgemaak is vir elke situasie onder die son nie. Daar is ’n plek vir interaktiewe kommunikasie en daar is mense vir wie dit beter werk as vir ander. Maar dit het ook maar sy voetangels. Jou studentjie gaan nog ontdek dat hy lekker besig is om interaktief te kommunikeer, dan loop hy hom vas in iets wat hom soos ’n goudvis gaan laat lyk, so hap hy na borrels.
Oupa illustreer graag met drie ware verhale. ’n Kollega het besluit om ’n kinderdiens te hou en het al die maatjies voor die kansel op die mat laat sit. Hy het tussen hulle gaan staan en baie moeite gedoen om, met prente en al, te verduidelik dat hulle respek moet hê vir en gehoorsaam moet wees aan hul ouers. Hy het regtig gedink dat hy sy punt goed gemaak het, tot hy aan die einde vir die kinders vra Nou wat het julle vandag geleer? Pieter-Jan, ’n rooikop-sproetgesigseuntjie, se hand was eerste op. Met die gepaste handgebaar en in sy kenmerkende bry-stemmetjie, het hy selfvoldaan geantwoord Jy magh nie middervingher wys nie…
Die tweede gebeurtenis: Oupa het vir ’n vroulike kollega gevra om met sy ouderlingevergadering te kom praat oor die huwelikslewe vanuit ’n vrou se oogpunt. Oupa se kollega het baie moeite gedoen en ’n skitterende praatjie gelewer. Ná die tyd vra sy toe ook of daar enige vrae is. Daar was ’n effense stilte, toe steek ’n ouderling sy hand op. Kan Dominee vir my sê hoekom, as ek twee uur die nag van die gholfbaan af by die huis kom, my vrou vir my so smoorkwaad is, en ek was nie eens daar om haar kwaad te maak nie?
Gebeurtenis nommer drie: By ’n baie streng en uiters formele kollega van Oupa is daar een aand by ’n kerkraadsvergadering ’n hewige diskussie oor die standaard van die broodjies wat ná begrafnisdienste bedien word. Die saak is vir meer as ’n halfuur ernstig gedebatteer, maar die debat het ontspoor toe ouderling James ewe onskuldig sy hand opsteek en sê: Dominee, ek wil eendag veras word. Dink Dominee die susters sal die broodjies toast by my diens se teedrinkery?
Jy sien, liewe Pastor, sou jy jou daarin begewe om so ’n interaktiewe vraag-en-antwoord-styl te volg, moet jy daarop voorbereid wees dat jy enige antwoord kan kry. Weet ook dat daar antwoorde gaan kom wat jou soos ’n Pieter-Steph du Toit-plettervat gaan tref, ’n plettervat waarvan jy net glad nooit sal kan opstaan nie…
