Angstige Andries van Amersfoort vra: Beste Oupa Stoep, ek is gekies om deel te wees van ons gemeente se gasvryheidsgroep. Deel van ons taak is om elke Sondag die mense voor die diens by die deure van die kerkgebou te verwelkom. Soos die mense inkom, so stel hulle hulself aan my voor, maar ek kan om die dood nie die mense se name onthou nie. Het Oupa dalk vir my raad?

Beste Angstige Andries, Oupa sit met dieselfde kwaal as wat jy het. Oupa sukkel hom vrek om mense se name te onthou en daarom het Oupa al baie nagevors oor metodes om hierdie kwaal te bowe te kom.

Hier is die resultate van Oupa se navorsing:

  • As jy iemand ontmoet, herhaal dadelik hul naam as jy hulle groet. Maar jy moet fyn luister. ’n Wouter mag dalk aanstoot neem as jy vir hom sê: Hallo Mouter!
  • Gebruik woordassosiasie as jy iemand se naam hoor. Gestel jy word voorgestel aan ’n Klaas, dink dadelik aan Klaasvakie en so behoort jy dié persoon se naam makliker te onthou. Pasop tog net om hom nie ’n volgende keer te groet met: Hallo Vaakseun!
  • Maak ’n nota van die persoon se naam, sommer op jou selfoon want dis mos altyd byderhand. Wees egter voorbereid om vir jou meisie te verduidelik hoekom daar lang lyste lukrake name van dames op jou foon is.
  • Jy kan ook van ’n donkiebrug gebruik maak. Dis ’n ou tegniek wat mense van Oupa se geslag, wat nog goeters uit hulle koppe moes leer, ingespan het: Jy maak ’n sinnetjie met woorde wat begin met elke letter van ’n persoon se naam. So kan Sanet onthou word met Sal Altyd Na Ete Trippel.
  • Probeer om die persoon se naam te verbind aan een of ander iets ten opsigte van hul voorkoms. Dit werk nogal goed as jy iemand soos ’n mnr Langenhoven
  • Gebruik die persoon wat jy pas ontmoet het, se naam baie gereeld tydens jul gesprek. Dit help blykbaar om sy of haar naam vas te lê in jou geheue. Oupa het dit een keer gedoen met ’n dame wie se bynaam Liefie Oupa verduidelik nou nog aan Tannie Oupa.

’n Vriend van Oupa het gedink dat hy ’n onfeilbare metode van regstelling het as hy iemand se naam vergeet het. So is hy deel van ’n groep wat die Fanie Botha-staproete in Mpumalanga aanpak. Daar is nog ’n groep op die roete en in die groep is ’n een van sy grootste kliënte, maar hy kon glad nie die kliënt se naam onthou nie. Hy het lang geselsies met hom gehad en elke aand saam met hom van die ou bruin vloeistof teen die koue gevat. Teen die derde aand besluit hy dat dit ongeskik is om so anoniem iemand se kosbare voggies op te drink en span toe sy onfeilbare metode in. Sê my, hoe spel mens nou weer jou naam?, vra hy. Dis maklik, antwoord die man, dis J-A-N. Nodeloos om te sê het hy daardie aand droëbek gaan slaap.

So my liewe André (of is dit nou weer Andries?), Oupa hoop jy vaar beter met hierdie paar wenke as wat Oupa nog sy lewe lank gevaar het.