Pregnante Petra Poggenpoel van Philippolis vra: Beste Oupa Stoep, ek verwag my eersteling en ons het nou ’n hewige twis in die familie oor wat die baba se naam moet wees. My skoonma, Zeldine, dring aan dat sy naam met Z moet begin: Ziggo as dit ’n seuntjie is en Zuleika as dit ’n dogtertjie is. Ek voel meer vir ’n naam soos Pieter. Wat staan ons te doen?

Alvic, Kyana, Chenique, Mika, Jenay, Scarlett, Logan, Keegan, Jarred, Charmoné, Ronaldo, Anique, Elizke, Kierra, Claudette, Connor, Jevon, Brayden… Beste Petra, dis werklike name wat Oupa gekry het op ’n klaslys van Ouma Stoep se registerklas in ’n baie Afrikaanse skool. Die eksotiese name kom saam met vanne soos De Beer, Koekemoer, Spies, Van Wyk, om maar net ’n paar te noem. Oupa kon nog nooit die geit verstaan om vir ’n kind so ’n uitheemse naam te gee gekoppel aan ’n gewone Boere-van nie. Dit maak net nie sin nie.

So gebeur dit die ander dag dat ’n paartjie wil kom doop en sê dat hulle vir hul dogtertjie ’n mooi Bybelse naam gekies het, Toe Oupa vra wat die naam is, antwoord Mamma baie trots: Delores. Oupa wis nie van so ’n naam in die Bybel nie en vra waar dit voorkom. O, almal ken dit, antwoord Mamma. Delores is my shepherd, I shall not want…

My raad, liewe Petra: Pieter Poggenpoel val baie mooi op die oor!