In hierdie vreemde tye word feitlik almal van ons gedryf deur vrees. Dit is wat ons lees in die voorbladartikel deur ds Dries Beukes.
Met die beplanning van hierdie uitgawe het die inenting van mense bo 60 pas begin. My goeie skoonma, wat ’n baie verantwoordelike mens is, het besluit om vir ’n inenting te gaan. Ek was nogal verras deur die reaksie van mense wat gehoor het dat sy haar laat inent het. Party was in hul harte oortuig dat sy binne ’n paar dae sou sterf, soos die akteur (wat toevallig nié vir ’n inenting gegaan het nie)…
Dit het my net weer laat besef dat daar ’n klomp onkunde, vals nuus en baie menings is oor die saak van inenting teen Covid-19. Ek het in die koerante gelees van die menings-verskille en op sosiale media gesien en gelees wat almal te sê het. Ek het gedink dit is net van oningeligte of verkeerd ingeligte mense. Die reaksie wat Skoonma gekry het, het my egter laat besluit dat ons in hierdie uitgawe iets moet sê en doen oor hierdie saak.
Ek het dadelik ’n paar mense geskakel vir wie ek raad gevra het. Die mening was nogal dieselfde: Willem, dink mooi of jy hierdie pad wil stap, want die mense se menings is opgemaak, dit gaan nie juis ’n verskil maak nie. Dit het my dadelik laat dink aan die video wat ek destyds toe ek nog kapelaan was, gesien het van die ou man wat op die strand loop en ’n jongman daar ver voor op die strand sien wat lyk of hy dans of karate of iets oefen. Toe hy by die jongman kom, sien hy hy tel seesterre op wat op die strand uitgespoel het en gooi dit terug in die see. Wat maak jy? vra die ou man toe vir hom. Ek tel seesterre op en gooi dit terug in die see, anders brand hulle dood in die son. Die ou man sê toe vir hom: Vriend, hierdie strand is kilometers lank, hier spoel elke dag honderde seesterre uit, watter verskil kan jy tog maak? Die jongman tel toe ’n seester op en gooi dit in die see en sê: Vir dié een het ek ’n verskil gemaak…
Ek hoop ons maak vir ten minste één mens ’n verskil, help één mens om die regte ding te doen… Want hoe kan ons as Kerk stilbly? Om langer soos die spreekwoordelike volstruis met ons koppe in die grond te staan en ontken dat ons deur hierdie virus bedreig word, is tog sinneloos en uiters onverantwoordelik. Ek ken niemand wat nie op die een of ander vlak deur hierdie pandemie geraak is nie. Wees eerlik, ek is seker elkeen wat hierdie redaksionele artikel lees, ken iemand wat al Covid-19 gehad het of dalk gesterf het.
Om die waarheid te sê, ek het berig uit verskeie gemeentes in Noordwes gekry wat reeds self besluit het om hul eredienste in die kerkgeboue tydelik te staak as gevolg van die hoë Covid-getalle in hul gemeentes en dorpe.
Ons kan eenvoudig nie toelaat dat vrees en onkunde ons daarvan weerhou om die verantwoordelike ding te doen en ons te laat inent nie. Ons mag nie toelaat dat ons deel van die probleem, eerder as deel van die oplossing, word nie.
Op bladsy 3 van hierdie uitgawe het ons ’n artikel wat ek glo baie van mense se vrae oor die ontwikkeling van die Covid-19-vaksiene sal beantwoord en fopnuus verkeerd sal bewys. Dr Johan Venter skryf nie vanuit fopnuus en straatwysheid nie, hy is ’n kenner wat in die farmaseutiese bedryf is en weet waarvan hy praat. Dit is sy werk, sy vakgebied. Lees gerus hoe hierdie vaksiene ontwikkel is en watter voordele dit gaan inhou.
Ons moenie toelaat dat vrees ons langer gevange hou en ons lewens en almal om ons s’n bedreig nie. Want party vrees die virus, ander se vrees word deur samesweringsteorieë gedryf. So word ons almal deur hierdie vrees opgevreet, en word ons lewens en vryheid by ons gesteel. Ek hoop ons gaan gou deur hierdie vrees kan breek en weer begin leef.
Intussen, doen die verantwoordelike ding en dra jou masker, was jou hande en hou ’n veilige sosiale afstand. Wees versigtig in jou optrede, want jou onbewaakte oomblik kan iemand laat siek word of selfs laat sterf.
Kom ons wen hierdie pandemie saam. Soos die president heel aan die begin van die pandemie vir Max Lucado aangehaal het toe hy gesê het ons sal hierdie pandemie oorwin, dit gaan nie vinnig wees nie en dit gaan met baie pyn gepaardgaan, maar ons gaan dit oorwin. Ons kán as elkeen van ons ons verantwoordelikheid aanvaar, en as ons nooit vergeet nie dat niks vir God onmoontlik is nie.
