My proefskrif vir my PhD in Semitiese Tale se tema is: ’n Retories-kritiese studie van die verhaal van Bashir (Leiden Oriental Ms 951(2)).

Die verhaal van Bashir is ’n Arabiese teks uit die negende eeu wat ’n polemiese gesprek tussen ’n Moslem en sy Christen-teenstanders weergee. Dit speel af tussen die sewende en agtste eeu tydens die Bisantynse oorlog tussen die Christene in Bisantium en die Moslems gedurende die Umajjade-dinastie. Bashir, wat as jong kind uit Bisantium na ’n Moslemland weggevoer is, word aan huis van die kalief as Moslem opgevoed. As volwassene vlug hy terug na die Bisantium en word weer ’n Christen. In Bisantium word hy ook ’n vertroueling van die keiser, waarskynlik keiser Leo IV. Die keiser stel hom in ’n vername posisie aan.

Dan word daar 30 Moslem-krygsgevangenes na Konstantinopel gebring. Bashir begin hulle ondervra, ook oor hul godsdiens. Die geskiedenis lig uit dat daardie oorlog net soveel ’n godsdiens- as ’n politieke oorlog was en dat dit algemeen was om gevangenes tot jou godsdiens te probeer bekeer. Een van die 30 Moslems was ’n geestelike leier van die Moslems, naamlik sjeik Wasil van Damaskus. Die verhaal handel dan oor die Christene se futiele pogings om die sjeik tot die Christendom te bekeer. Bashir begin die sjeik ondervra, maar kan uiteindelik nie die sjeik se argumente beantwoord of weerlê nie. Hy erken dat hy as soldaat nie daarvoor opgelei is nie, en laat kom ’n priester. Die priester het ’n reputasie oor sy vermoë om Moslems te bekeer, maar hy word deur die sjeik verneder, tot so ’n mate dat Bashir hom wegjaag.

Dan tree die keiser self toe nadat hy van die priester se vernedering gehoor het. Hy praat met die sjeik, maar word ook deur die sjeik se argumente in ’n hoek gedryf. Hy laat kom ’n tweede priester wat beskryf word as die “hoof van die Christendom in Bisantium”, dit wil sê, die patriarg van Konstantinopel. Wasil bly egter in beheer van die gesprek, en selfs die patriarg kan geen van die sjeik se argumente weerlê nie. Die sjeik oortuig die keiser dat die Christene in Bisantium besig is met afgodsdiens, aangesien hulle ikone vereer in hul kerkgeboue. Woedend begin die keiser om kerke te vernietig en geestelike leiers dood te maak. Die geestelikes vlug na die Moslemland waar hulle dan veilig is. Die sjeik word dus uitgebeeld as die persoon wat keiser Leo IV beïnvloed het om met sy beleid van ikonoklasme (vernietiging van beelde) te begin.

Die navorsing het nie ten doel gehad om die inhoud van die argumente te beoordeel nie, maar om met ’n retoriese analise die outeur se strategie waardeur hy sy lesers van sy ideologiese standpunt oortuig, vas te stel. Dit is duidelik dat hierdie polemiese teks nie ’n historiese gesprek tussen Christene en ’n Moslem weergee nie, maar eerder ’n aggressiewe propagandateks is wat Moslems oproep om hul Christen-teenstanders uit te daag en te oortuig dat die Islam die ware godsdiens is.

Die outeur het bepaalde strategieë gebruik om die lesers van sy hoofidees te oortuig. Die hoofidees kan so saamgevat word:

  • God funksioneer agter die skerms en alles wat gebeur, is vooraf deur Hom bepaal en geskied deur sy bestiering.
  • Jesus is ’n mens soos ander mense en moet dus nie as God aanbid word nie.
  • Die Christendom is ’n valse godsdiens.
  • Die Christene is bose mense.
  • Moslems is goeie mense.
  • God is aan die kant van die Islam, die ware godsdiens.

Om die lesers van sy idees te oortuig, gebruik hy die volgende strategieë:

  • Strategie 1: Oortuig die lesers van die betroubaarheid van die verhaal.
  • Strategie 2: Behou die lesers se aandag.
  • Strategie 3: Bevestig ’n vertrouensverhouding met ’n bepaalde persoon (die sjeik) as die een wat beheer neem en die waarheid verteenwoordig.
  • Strategie 4: Oortuig die lesers met logiese, emosionele en outoritêre argumente sowel as ander retoriese tegnieke.
  • Strategie 5: Oortuig die leser dat die outeur oor ’n hoër vlak van kennis beskik (agter die skerms) en dus blindelings vertrou kan word.

Die outeur se hoër vlak van kennis kom na vore in sy beskrywing dat Bashir deur die Satan verlei is om die Christendom te onthou en terug te keer daarheen.

Daar is verskeie hoofargumente wat gebruik is en die kern van die verhaal uitmaak.

Logiese argumente

’n Bekende vorm van logiese argumente is die sogenaamde sillogisme. In die sjeik se gesprek met die verskillende verteenwoordigers van die Christendom maak hy van logika gebruik om aan te dui waarom Jesus nie as God aanbid kan word nie.

Voorbeeld 1:

  • Adam het nie ’n aardse vader nie en word nie aanbid nie.
  • Jesus het nie ’n aardse vader nie.
  • Dus, Jesus moet ook nie aanbid word nie

Voorbeeld 2:

  • Adam het bepaalde menslike eienskappe en is ’n mens.
  • Jesus het dieselfde menslike eienskappe.
  • Gevolgtrekking: Jesus is ’n mens soos Adam en moet dus nie aanbid word nie.

In die sjeik se gesprek met die ander Christene volg daar dan ’n hele aantal soortgelyke argumente wat op logika gebou is

Emosionele argumente

In retorika betrek emosionele argumente die lesers of hoorders se emosies, maar dit het ook te doen met straf of beloning. ’n Goeie voorbeeld kom aan die einde van die verhaal voor nadat die sjeik die adhan (oproep tot gebed) in die kerkgebou uitgeroep het. Die Christene se oordeel oor die adhan is dat dit ’n oorlogslagspreuk is, as gevolg van die woorde Alah’l akbar (Allah is die grootste) wat daarin voorkom. Die sjeik verdien dus die dood.

Die outeur se strategie is egter dat Christene se boosheid teenoor die opregtheid van die sjeik beklemtoon word. Die sjeik verklaar dat hy met ’n godsdienstige handeling uit sy hart uit besig was. Moslemlesers wat bewus sou wees dat die adhan ’n daad van toewyding is, sou dus oortuig wees dat die sjeik verdien om beloon te word en die Christene om gestraf te word.

Outoritêre argumente

Die outeur maak ook van outoritêre argumente gebruik waardeur die sjeik sy teenstanders van die waarheid oortuig en die outeur die lesers oortuig om sy standpunt te aanvaar. Die outeur stel die sjeik van die begin af as ’n outoritêre figuur voor, en die sjeik word die verpersoonliking van positiewe gesag en voorbeeld. God, wat alles deur sy bestiering bepaal het, is deurgaans in beheer. Hierdie stelling oor God word gekoppel aan die Moslems se gevangeneming en bepaal dus vooruit dat dit wat met die gevangenes, en dus spesifiek met die sjeik, gaan gebeur, deur God bepaal is.

Subtiele krag van oorreding in die prediking

Dit is so dat hierdie teks in ’n heel ander kultuur afspeel as die kultuur waarin ons prediking gegrond is. Dit gaan immers oor die Christendom wat deur die Islam verslaan en selfs verneder word. Maar die beginsels wat hier geld, kan dalk ook vir ons in ons prediking van waarde wees. Die subtiele krag van oorreding is tog ook iets waarna ons in ons prediking streef. Die prediker se doel is sekerlik om die hoorders van sy of haar standpunt te oortuig, op so ’n wyse dat ons die hoorders graag in beweging wil bring.

As predikers sal ons die hoorders altyd wil oortuig van die betroubaarheid van die boodskap wat ons bring. Die prediker sal daarop fokus om die hoorders se aandag te behou. Prediking sal nie geslaagd wees indien die prediker nie deur die hoorders vertrou word nie. Bewustelik of onbewustelik probeer ons die hoorders ook met verskillende argumente van die waarheid van ons boodskap oortuig.

Dit kan vir ons van waarde wees as ons in ons prediking meer aandag gee aan die retorika.

(Dr Chris le Roux is leraar in gemeentes Stellenbosch en Worcester)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap