DEEL 1 – DIE AGTERGROND

Donderdagmiddag 15:00 is nie gewoonlik ’n stil tyd op kampus nie. Maar op 5 September voel die kampus soos ’n verlate stofstraatdorpie in ’n cowboy-fliek. ’n Mens verwag dat ’n tolbos nou enige oomblik oor die laning tussen die Teologiegebou en die Musaion gaan waai. Die Universiteit van Pretoria het klasse en toetse afgestel in solidariteit met die slagoffers van die gender- en xenofobiese geweld wat die land in rep en roer het. Omdat die studente daarop aangedring het.

’n Mens wonder oor die mees weerlose mense wat op kampus en in winkelsentrums werk. Wat reeds voor 04:00 soggens moet opstaan om teen 06:00 op kampus te wees om die tuine te onderhou en die geboue skoon te maak. Wat eers 22:00 saans huis toe kan vertrek wanneer die winkelsentrums gesluit het en klaar skoongemaak is. Wat nie van werk vrygestel is nie. Dink net watter kragtige boodskap dit sou stuur as studente in hul massas by die busstoppe en treinstasies en taxi-laaiplekke gewag het om hierdie werkerskorps wat die land so ongesiens aan die gang hou, veilig na die werk en na die huis te vergesel.

Alle Fakulteite word wel aangemoedig om Vrydag 6 September ’n soort vigil of gebedsuur te hou. So sluit die Fakulteit Teologie en Religie by die res van die land (onder andere ook by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en Universiteite Suid-Afrika) aan. Een van die studente bid: Ons tel miskien nie self onder die slagoffers of die oortreders nie, maar ons staan voor U as Suid-Afrika. Die kollektiewe bewussyn van verantwoordelikheid weerklink in die een studentegebed na die ander. Dis iets wat hierdie generasie wat tans studeer, verstaan. Ons bestaan saam. Ons glo saam. Ons ly saam. Omdat ons almal deur dieselfde idees beïnvloed en gevorm is. Idees wat die studente by hierdie Fakulteit leer om krities te beskou en nie sonder meer as hul eie oortuiging te aanvaar nie.

Die idees wat ons vorm en beïnvloed, vertel ’n storie. Die akademie noem daardie storie diskoerse. ’n Diskoers werk soos die vervaardiging van ’n film. Die regisseur van die film (die diskoers) bepaal hoe die teks (die werklikheid) vertolk moet word. Die akteurs (gewone mense) se rolle is belangrik, ja, maar hulle bepaal nie self die verloop van die storie nie.

Die idees waarvolgens die samelewing funksioneer, is baie oud. Niemand wat vandag leef, het gehelp om dit te skep nie. Ons hou dit wel in stand, omdat ons oor duisende jare geleer is dat hierdie idees die werklikheid is.

DEEL 2 – DIE VROUE

Van hierdie skadelike idees wat die menslike samelewing stuur, is nie net so oud soos die Bybel nie, maar kom ook uit die Bybel. Dat vroue minder mens is as mans. Wanneer Israel straf verdien, word die volk sonder uitsondering deur die profete as ’n ontroue vrou voorgestel, met God as die verontwaardige maar geduldige en vergewensgesinde manlike eggenoot.

Wanneer die regisseur van die fliek (die “dominante diskoers”) sê dat ‘n vrou minder mens is as ‘n man, is vroue uitgelewer aan ander se optrede. Dan is vroue altyd mens in verhouding tot ’n man: ’n dogter, vrou, sussie, niggie, vriendin. Dan is ’n vrou die mindere wat beskerm en versorg moet word, omdat sy dit nie self kan doen nie. In plaas daarvan dat alle mense menswaardig is en ons daarom van elke mens verwag om in ooreenstemming met hul menswaardigheid op te tree.

Vroueregte is ’n baie onlangse verskynsel in die wêreld se geskiedenis. Dis nou duisende jare later en die idees wat ons glo, sê nog steeds dat ’n man meer mens is as ’n vrou. Dis nou maar eers 150 jaar vandat vroue al hoe meer begin sê het hierdie idee is nie waar nie.

Dis nog nie eens 100 jaar terug dat vroue in Suid-Afrika die eerste keer kon stem nie, eiendom kan besit nie, ’n eie werk en lewe kan hê nie. Daardie eerste keer was dit ook net wit vroue. Die enigste rede hoekom hulle stemreg gegee is, was om ’n groter teenstem teen die stemreg van swartmense te hê. Daardie heel eerste keer was vroue en swartmense net  instrumente.

In 1930 sê dr TC Visser tydens die hof se bespreking oor stemreg vir vroue: Dit is ’n wetenskaplike feit dat die ontwikkeling van ’n vrou se brein opgehou het in ’n stadium waarna die man s’n steeds verder ontwikkel het (self vertaal uit The Star van 8 Mei 1930). Ja, natuurlik is dit belaglik. Ja, natuurlik het ons sedertdien baie ver gevorder. Maar ons het nog baie ver om te gaan voordat hierdie aangeleerde idee dat manwees die norm is vir menswees uit ons kollektiewe onderbewussyn verban word.

’n Gesonde samelewing sal een wees waar geen mens dink dat enige iemand verdien om verkrag te word nie. Waar geen mens as net ’n lyf of net ’n instrument beskou word nie. Waar geen mens se menswaardigheid bo ’n ander s’n gereken word nie.

Die boek van Job begin in hoofstuk 1 met Job se tien kinders. Sewe seuns en drie dogters. Job bring by voorbaat ’n offer vir die seuns vir ingeval hulle iets verkeerd doen wanneer hulle jolig verkeer. Dan tref die tragedie. Hy verloor nie net al sy besittings nie, maar ook al sy kinders. Aan die einde van die boek in hoofstuk 42 kry Job weer tien kinders, weer sewe seuns en drie dogters. Hierdie keer bring hy nie by voorbaat offers vir wat die seuns dalk verkeerd mag doen nie. Hierdie keer word die drie dogters by name genoem: Jemima, Kesia en Keren-Puk (Job 42:14). Hierdie keer erf die dogters saam met die seuns (Job 42:15).

Wat het verander?

Die film het ’n ander regisseur gekry. Die teologie van die dag is verkeerd bewys en het verander. Die dominante diskoers het verander. Die kollektiewe onderbewussyn van die samelewing het verander. En toe is daar plek vir vroue as mense.

 

DEEL 3 – DIE VREEMDELINGE

Dis nie anders met vreemdelingehaat nie. 2018 se fliek BlacKkKlansman vertel die ware verhaal van Colorado se eerste swart polisieman. Tydens sy heel eerste undercover opdrag gaan luister hy na ’n swart aktivis wat vertel dat hy as kind lief was vir die Tarzan-verhale. As seuntjie het die aktivis Tarzan ondersteun wanneer hy die Afrika-stamhoofde laat les opsê. Hy het Tarzan selfs aangemoedig: Maak hulle dood! Totdat hy eendag besef het dat hy Tarzan aanmoedig: Maak my dood! Hy vergelyk dit met ’n Joodse seuntjie wat sien hoe die Nazi’s mense na die konsentrasiekampe vervoer en hulle aanmoedig om dit te doen.

In 1953 sê dr HF Verwoerd in ’n toespraak: Die Naturelle sal van kindsbeen af geleer word om te besef dat gelykheid met Europeërs hulle nie beskore is nie. Daar is geen plek vir die Bantoekind bo die vlak van sekere vorme van arbeid nie (self vertaal uit http://www.saha.org.za/youth/the_future_is_ours.htm).

Steve Biko sê in 1971 tydens ’n seminaar in Pietermartizburg: Swart Bewussyn … poog om die leuen dat swart ’n afwyking van die norm wat wit is te demonstreer (self vertaal uit https://www.sahistory.org.za/article/defining-black-consciousness).

In daardie selfde jaar sê hy in Kaapstad: Die basiese uitgangspunt van swart bewussyn is dat swartmense alle waardesisteme moet verwerp wat van hulle vreemdelinge in die land van hul geboorte maak en hul basiese menswaardigheid verminder (self vertaal uit https://www.sahistory.org.za/archive/quotes-steve-biko).

As slagspreuk van die Suid-Afrikaanse Studenteorganisasie, formuleer die einste Steve Biko: Witmense moet besef dat hulle net mens is, nie meerderwarig nie. Dieselfde geld vir swartmense. Hulle moet besef dat hulle ook net mens is, nie minderwaardig nie (self vertaal uit https://www.sahistory.org.za/archive/quotes-steve-biko).

Die idees (diskoerse as filmregisseurs) wat menslike samelewings al vir duisende jare stuur, sê witmense is meer mens as swartmense. Maar dis nie net witmense wat hierdie leuen geglo het nie. Swartmense het dit ook geglo en die witmense se minagting het ’n selfhaat geword wat geïnternaliseer is. Dit gaan verder terug, lê dieper in die kollektiewe oortuiging as Apartheid. Apartheid kon gebeur omdat hierdie kollektiewe oortuiging bestaan. En die gevolge en implikasies en effek daarvan gaan vir nog etlike jare, dekades, miskien eeue (asseblief nie, Here), voortduur en beveg moet word. In ’n hedendaagse samelewing waar hierdie leuen steeds na dekades en eeue se kondisionering geglo word, is dit baie maklik om die geïnternaliseerde selfhaat op die ander te projekteer.

Dit verskoon vir seker nie die geweld teen vreemdelinge nie, maar dit kan miskien insig gee in die psiges van mense wat swaarkry en nie weet hoe hulle gaan oorleef nie in ’n land waar hulle nog steeds na 25 jaar aan die kortste end trek. Miskien kan ons aan iets dink om te doen, ’n manier om te help bedink, as ons verstaan hoe sulke dinge gebeur.

IsiXhosa/IsiZulu

Senzeni na?

Sono sethu, ubumnyama?

Sono sethu yinyaniso?

Sibulawayo

Mayibuye i Africa

 

Senzeni na?

Senzeni na?

Kuyisono ’kubamnyama

Kuyisono kulelizwe

Afrikaans

Wat het ons gedoen?

Ons sonde is dat ons swart is?

Ons sonde is die waarheid.

Hulle maak ons dood.

Laat Afrika terugkeer.

 

Wat het ons gedoen,

Wat het ons gedoen?

Dis ’n sonde om swart te wees.

Dis ’n sonde in hierdie land (wêreld).

Sou die geweld in dieselfde mate voorgekom het as die meerderheid mense in Suid-Afrika volgens die regisseur van die film (die dominante diskoerse) nie nog steeds verdoem was tot daardie deel van die samelewing wat net nooit aan die regisseur (die dominante diskoerse) se onmenslike standaarde, vereistes en reëls kan voldoen nie? Sou die geweld dieselfde afmetings aangeneem het as die meerderheid mense in Suid-Afrika dieselfde toegang tot kwaliteit mediese en munisipale dienste gehad het as dié van ons wat aan mediese fondse behoort en lopende water en elektrisiteit in ons huise het? As die klein stukkie van menswaardige lewe nie ’n stukkie was wat mense voel gedeel moet word en verloor kan word nie?

 

DEEL 4 – KAN ONS ASSEBLIEF HIERDIE ONKAPABELE REGISSEUR VERVANG?

As mense vir 4 000 jaar vertel word dat die samelewing ’n huis is en die idees wat die samelewing stuur is die mure, dan is dit natuurlik dat ons die mure tot elke prys in stand wil hou en beskerm. Die era waarin ons leef, wys toenemend vir ons dat dit wat ons gedink het die mure van die huis is, besig is om los te trek. Wag ’n bietjie! Mure is nie veronderstel om “los te trek” nie! Wat gaan hier aan? Die idees wat die samelewing die afgelope 4 000 jaar gestuur het, was toe nooit die mure self nie. Dit was net die muurpapier! Muurpapier wat in elk geval oud en lelik geword het en die gif wat in die geskiedenis in die mensdom losgelaat is, nog daarin dra. Trek dit los! Haal dit af! Die mure van die huis is God self. God wat die oorsprong van lewe en Lewe self is.

Here, stuur vir die mense van hierdie land u Gees. Heilige Gees, wees U self so deel van ons menswees soos die bloed in ons are en die asem in ons longe. Leer ons, elke liewe een van ons hier aan die suidpunt van Afrika, om te besef en te herken wanneer ons op verskillende maniere (van die onbeduidendste tot die mees ekstreme) besig is om die muurpapier wat nie U is nie teen wil en dank teen die muur terug te plak. Leer ons om die moontlikhede van ’n lewe sonder hierdie lelike muurpapier – dat party mense meer mens is as ander mense – raak te sien en ons daarvoor te beywer.

Ons bid in ons nasionale volkslied:

Daal neer o Gees, Heilige Gees.

Kom woon in ons.

Lei ons, o Heilige Gees.

Amen.

af
af
Deel met behulp van
Copy link