Die opleiding van predikante was en is belangrik vir die Hervormde Kerk. Dit is baie duidelik uit die geskiedenis van die Kerk. Wat die inhoud en fokus van predikante se opleiding moet wees, is al dikwels op kerklike vergaderings en in publikasies bespreek. Die toenemende transformasie van Suid-Afrikaanse universiteite konfronteer die Hervormde Kerk opnuut met vrae oor die toekoms en inhoud van teologiese opleiding.
Oudl MJ Willemse van Roossenekal het al 130 jaar gelede, in 1890, gepleit dat die Hervormde Kerk moet begin met ’n eie teologiese opleiding. In daardie stadium was die Hervormde predikante uit Nederland afkomstig. Predikante het hul teologiese opleiding aan Nederlandse universiteite ontvang, enkele het aan die Kweekskool op Stellenbosch gestudeer. In 1899 het Gemeente Pretoria ’n beskrywingspunt by die AKV ingedien: De Kerkeraad verzoekt de Algemene Kerkvergadering om stappen te nemen, tot het oprichten van eene kweekschool tot opleiding van predikanten voor de Nederduitsch Hervormde Kerk in de Zuid-Afrikaansche Republiek. Die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) het die vestiging van ’n kweekskool in Pretoria tot stilstand gebring.
Universiteit of kweekskool?
Na die oorlog het oudl ADW Wolmarans en ds Jac van Belkum weer begin om ’n eie teologiese opleiding te bepleit. Daar was nie eenstemmigheid oor hoe dit moes plaasvind nie. Ds Goddefroy was ten gunste van opleiding aan ’n universiteit, ds Van Belkum was van mening dat ’n kweekskool ’n beter opsie was. Die twee standpunte (kweekskool of universiteit) het heelwat debat uitgelok.
Intussen het ’n Nederlandse teologieprofessor, prof dr PJ Müller, die beroep na die Hervormde Gemeente Pretoria aangeneem. Hy het van 1904 tot 1909 as predikant van die gemeente gedien, waarna hy na Nederland teruggekeer het. Die Hervormde Kerk het hom versoek om te begin met die opleiding van predikante, wat hy gedoen het. Hy het twee studente, JJ Prinsloo en JJ Kühn, opgelei. Hulle is de facto in ’n “kweekskool” opgelei, en het met groot toewyding in die Hervormde Kerk gewerk. Ds JJ Prinsloo was van 1939 tot 1948 voorsitter van die AKV.
Op 19 Maart 1909 het die 34ste AKV ’n Kuratorium vir Teologiese Opleiding verkies, met die spesifieke opdrag om ’n kweekskool in Pretoria te vestig. In daardie stadium, na die verwoesting van die Tweede Vryheidsoorlog, het die Hervormde Kerk net 12 000 lidmate gehad wat deur 11 predikante bedien is. Die behoefte aan predikante was besonder groot.
Daar was ook sterk teenstand teen die gedagte van ’n kweekskool, onder andere van ds Goddefroy, wat van mening was dat dit goedkoper sou wees om studente in Nederland aan ’n universiteit te laat studeer. Uiteindelik aanvaar die AKV ’n voorstel van oudle BJ Steyn en ADW Wolmarans (met 7 teenstemme): Dat er worde daargesteld een theologische kweekschool, waar jonge mannen kunnen worden opgeleid tot herder en leeraar voor de Nederduitsch Hervormde Kerk in Zuid-Afrika. In 1910 het die Kuratorium die eerste dosente vir die Hervormde Kweekskool aangewys, te wete prof dr PJ Müller, ds Jac van Belkum en dr HCM Fourie, wat sy doktorale studies in Nederland voltooi het. Prof dr Müller en dr Fourie het egter die benoemings afgewys, wat die vestiging van ’n eie kweekskool weer vertraag het.
Die Kuratorium het in 1910 ’n Reglement vir die Hervormde Kweekskool opgestel. In die Almanak van 1911 skryf ds JJ Prinsloo ’n artikel met die titel Onze Kweekschool, waarin hy pleit vir die ontwikkeling van ’n kweekskool waar ook die dosente uiteindelik vanuit die Hervormde Kerk afkomstig moes wees. Die gedagte van ’n kweekskool het wye ondersteuning geniet, soos blyk uit ’n brief wat van Gemeente Rustenburg aan die Algemene Kommissie gerig is (15 April 1912) en in De Hervormer gepubliseer is. Die brief is deur 72 lidmate onderteken. Oudl Koomans van Potchefstroom skryf in De Hervormer die gesloer met die kweekskool is geïnspireerd door de duivel.
’n Universiteit in Pretoria
In 1912 het daar ’n verdere wending gekom, met publikasie van konsepwetgewing wat voorsiening maak vir ’n universiteit in Pretoria. Op 20 Julie 1916 ontvang die Kerk ’n amptelike uitnodiging om mee te werk aan teologiese opleiding by die Transvaal University College, waarop die Kerk positief antwoord en aanbeveel dat die Hervormde Kerk een dosent beskikbaar sou stel. Ook die Presbiteriaanse Kerk het die uitnodiging aanvaar en dosente beskikbaar gestel. Na uitgebreide onderhandeling en briefwisseling, het die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria sy deure geopen, en dr JHJA Greyvenstein, predikant van die Hervormde Gemeente Pretoria, is as die eerste hoogleraar aangestel.
Daarna het baie ander dosente gevolg, wat verseker het dat die Hervormde Kerk tot en met 2000 sy eie teologiese opleiding kon handhaaf en uitbou. Oor ’n periode van 83 jaar was die Hervormde Kerk in die bevoorregte posisie om sy eie teologiese opleiding aan ’n universiteit te handhaaf. Hervormde dosente, wat bekend was met die geskiedenis, teologie en tradisie van die Hervormde Kerk, het tientalle predikante voorberei vir hul dienswerk in die Kerk.
Vanaf 2000
Dié situasie het vanaf 2000 ingrypend verander, toe ’n veelkerklike teologiese opleiding aan die Universiteit van Pretoria tot stand gekom het met dosente vanuit ’n verskeidenheid van kerke. Die nuwe bedeling is deur die 65ste AKV (Oktober 1998) goedgekeur. Dit het duidelik geword dat die owerheid nie meer bereid was om teologiese opleiding te subsidieer wat net ten dienste van een kerk is nie. Een van die besluite wat die 65ste AKV aanvaar het, was die vestiging van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK). Die besluit van die AKV is in Januarie 2000 deurgevoer toe die HTK met sy werksaamhede begin het. Die opdrag van die HTK was om toe te sien dat die teologie en kerklike praktyk van die Hervormde Kerk die nodige aandag geniet en aan die studente oorgedra word.
Kort na die ontstaan van die HTK was daar reeds uiteenlopende standpunte ten opsigte van ’n eie teologiese opleiding. Die 66ste AKV (2001), ’n jaar nadat die HTK geopen het, het die volgende besluite geneem:
Die Kuratorium en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering ondersoek die moontlikheid en wenslikheid om die opleiding van sy dienaars van die Woord ná 2005 selfstandig en onafhanklik te bedryf, met akkreditasie aan ’n universiteit…
Die Hervormde Teologiese Kollege as opleidingsinstansie van die Kerk word uitgebrei en versterk… In ag genome die situasie wat mag ontstaan… word dit aan die Kuratorium in oorleg met die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering opgedra om soos en wanneer nodig, die Hervormde Teologiese Kollege stelselmatig uit te bou. Die uitbouing word aanvanklik op ’n deeltydse basis gedoen, by wyse van kontrakaanstellings deur persone te benoem, of later indien wenslik, ’n voltydse aanstelling te maak. Die persoon of persone moet aan die volgende profiel voldoen:
- Die dosering van Suid-Afrikaanse Kerkgeskiedenis en Kerkreg (Toegespits op die kerkregtelike praktyk binne die Hervormde Kerk).
- Die fasilitering, ontwerp en aanbieding van programme met die oog op die verryking van gemeentelike bediening.
Vanaf 2020
Hierdie besluit en opdragte is sedert 2001 nooit tot uitvoer gebring nie. Die HTK het vir 20 jaar net uit die Hoof van die HTK bestaan, ten spyte van verskeie AKV-besluite wat die uitbou van die HTK moontlik gemaak het. Die grootste enkele rede hiervoor was ’n tekort aan befondsing, veral in die lig van die dalende lidmaatgetalle van die Kerk. Dit was eers in 2020 dat die Kommissie van die AKV, in lyn met die 2001- en 2019-besluite van die AKV, begin het om die HTK uit te brei met die vestiging van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) en die Sentrum vir Reformatoriese Teologie (SRT).
Sedert die vestiging van die HTK in 2000, het die situasie aan die Fakulteit Teologie dramaties verander. Tans beskik die Fakulteit Teologie en Religie oor die dienste van 25 dosente, waarvan 6 lidmate van die Hervormde Kerk en 7 lidmate van die NG Kerk is. Die ander 12 dosente is van verskillende kerke afkomstig. In die aanstelling van nuwe dosente, is die Fakulteit Teologie en Religie gebonde aan die regulasies van die Universiteit wat vereis dat diversiteitsaanstellings die hoogste prioriteit geniet.
Die Fakulteit Teologie en Religie aan UP doseer 53 voorgraadse modules. Van die 53 modules word 18 deur Hervormde dosente gedoseer, en die res deur ander dosente. Tans studeer 740 voorgraadse en nagraadse studente vanuit 45 verskillende denominasies aan die Fakulteit Teologie en Religie by UP. Daarvan is slegs 20 (2,7%) lidmate van die Hervormde Kerk. Hierdie getalle toon dat die posisie van die Hervormde Kerk en Hervormde teologie aan die Fakulteit Teologie en Religie dramaties verander het en nie meer met die situasie van 20 jaar gelede vergelykbaar is nie.
Hierdie veranderende situasie stel groot uitdagings aan die Hervormde Kerk. Die voortgesette uitbreiding van die HTK en die kontrak met die Universiteit van Pretoria sal in aanloop tot die 73ste AKV (2022) besondere aandag van die Kuratorium en die Kommissie van die AKV geniet.
(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Sistematiese en Historiese Teologie)