U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van bo aan u gegee is nie (Joh 19: 11 AFR2020). Die Allerhoogste het mag oor ’n menslike koninkryk en Hy gee dit aan wie Hy wil (Dan 4: 17, 25 en 32 AFR2020).
As kind is ek gefassineer deur die bemarkingsfoefies wat kort-kort deur veral koeldrank- en petrolmaatskappye gebruik is om kinders en motoreienaars te lok om hul produkte bo dié van die kompetisie te kies. Dink byvoorbeeld aan die dingbat, of die lugrederylogo’s wat op ’n kaart gepas het, of die Disney-karakterplakkers, of die Galoopies, die Smurfies, die Caltex-hasie – en dan natuurlik die herhalende gunsteling, die klimtol (algemeen bekend as die yo-yo).
Verder het dit my opgeval dat treffers so elke tien jaar of wat herwin is en dat dit dan opnuut met groot fanfare in die mark geloods is. Min het ek tóé besef dat dit eintlik maar net oor verkope gaan en nie oor my nie. Al hierdie veldtogte wat vir ons as kinders so aanloklik was, was natuurlik net variasies op wat ek later in my lewe op ’n meer tegniese vlak as merchandising sou leer ken, maar ek het dit nie toe besef nie.
Gegewe die bewese patroon om die treffers weer van nuuts af te loods, was dit verbasend dat die klimtol oor die afgelope 20 jaar nie weer sy verskyning gemaak het nie. Dit was lankal te wagte dat een van die groot koeldrankhandelsname weer die klimtol sou laat herleef, maar dit het nie gebeur nie. Die rede hiervoor het eers in Januarie hierdie jaar duidelik geword toe die hele wêreld skielik gekonfronteer is met die grootste klimtol van alle tye – die nuwe Amerikaanse president.
Die einde van die heersende wêreldhandelstruktuur
Die Amerikaanse president mnr Donald Trump het skielik ’n faktor geword waarvan elke individu gedwing word om kennis te neem. Hier het ons nou vir die eerste keer in jare ’n leier wat oënskynlik ’n samelewing verteenwoordig waarmee ons onsself vroeër kon vereenselwig, maar wie se agenda ooglopend groot ontwrigting vir alle ander lande op die horison plaas.
Ons het reeds die skerp kant van mnr Trump se interpretasie van die wêreld en die wêreldekonomie ervaar – en ons sit daagliks in afwagting wat die volgende rondte van sy lukrake op-en-af beleidstoepassing gaan inhou en wat dit vir ons as volk en as gelowiges gaan beteken.
Nou moet ek onmiddellik byvoeg dat alles wat hy doen nie noodwendig verkeerd of sleg is nie, maar dat die groot gevaar daarin lê dat hy dit so onvoorspelbaar doen, en dat die volle impak daarvan op ons lewens eers mettertyd sigbaar gaan word. Vanuit ’n analitiese perspektief is daar redelike eenstemmigheid dat die eerste onmiddellike impak deur inflasie en rentekoerse bepaal sal word.
Dit is alombekend dat daar dreigende konflik tussen mnr Trump en die voorsitter van die sogenaamde Federal Reserve mnr Jerome Powell is, wat beteken dat die onsekerheid rondom rentekoerse nog vir ’n wyle gaan voortduur. Die Federal Reserve is die Amerikaanse Reserwebank en ’n mens sou verwag dat dié se besluite rondom rentekoerse beperk sou wees tot die Amerikaanse ekonomie en weinig gevaar vir ons inhou. Helaas nie! Die Amerikaanse dollar is die wêreld se reserwegeldeenheid wat beteken dat die absolute oorgrote meerderheid van transaksies oor internasionale grense in dollar denomineer en verhandel. In kort, as gevolg van hierdie oorheersende posisie van die dollar in internasionale handel beteken dit dat enige rentekoersaanpassing in Amerika ’n direkte en onmiddellike uitwerking op ons plaaslike markte het.
Die tweede aspek is natuurlik inflasie. Toe dit vroeg in 2023 duidelik raak dat daar dreigende onderliggende inflasiedruk in die Amerikaanse ekonomie is, het menige van ons aan hierdie kant van die aardbol nie gedink dit gaan ’n beduidende impak hier te lande hê nie. Hoe verkeerd was ons nie. Binne ses maande het die inflasiewolke erg begin opsteek en toe dit eers in die prys van brandstof begin reflekteer, was die koeël deur die kerk. Reeds aan die einde van 2023 was dit duidelik dat ons in ’n sogenaamde inflasiespiraal vasgevang is en dat baie huishoudings en families ’n ernstige lewenskostekrisis in die gesig staar.
Vir die persoon op straat wat in baie gevalle ’n gelowige is en iewers in een van ons gemeentes ’n lidmaat is, het hierdie post-Covid-kombinasie van inflasie en rentekoerse vinnig ontwikkel tot ’n huishoudelike krisis. Die twee pertinente vrae is: Wat staan my nou te doen? en Hoe lank gaan dit so voortduur voordat daar verligting is?
As gelowiges behoort ons te besef dat daar nie maklike antwoorde op hierdie vrae is nie. Verder is dit ook nie moontlik om universele antwoorde te verskaf wat elke persoon se situasie in die algemeen aanspreek nie. Nee, dit is in baie gevalle persoonlik, privaat en sensitief.
Die krag om die Amerikaanse klimtol te oorleef en uit te ry totdat daar weer sprake van normaliteit kan wees, kan slegs deur ons Heiland aan ons as gelowiges geskenk word. Wanneer ons gekonfronteer word met wêreldse gebeure wat ons sukkel om klein te kry, dan is dit nodig dat ons doelbewus terugkeer na die Bron.
En waar vind ek die versekering? In Jesus se woorde dat Pilatus se gesag slegs van God kom, en in ’n soortgelyke verwysing wat Daniël drie maal herhaal naamlik dat Nebukadnesar se mag deur die Allerhoogste gegee is volgens sy eie raadsbesluit.
(Ds Daniel Steinmann is redakteur van Namibia Economist en predikant in Gemeente Windhoek)