Ons gedenk tans die uitstorting van die Heilige Gees. Dit was die moment waarop die geskiedenis van die kerk begin het – toe God se Gees van mense besit geneem en hulle toegerus het om die blye boodskap van verlossing te verstaan, te glo en uit te dra in die wêreld.
Maar wat presies doen die Heilige Gees, en hoe werk dit?
Die nonsens-meter
Ons kan met redelike veiligheid aanvaar dat geen faset van menslike gedrag só volmaak is dat dit bo kritiek verhewe is nie. Dit is om twee redes waar.
Die eerste rede is die feit dat mense denkende wesens is wat oorsaak en gevolg kan insien en logiese prosesse kan verstaan. Ons oorweeg gedurig of dit wat mense sê en doen logies rasioneel is, en of dit uitloop op geldige en aanvaarbare uitkomste. Indien nie, is kritiek geregverdig.
Die tweede rede waarom mense mekaar kritiseer, het na my mening te doen met die eksperimentele aard van die samelewing. Van dag tot dag, en selfs oomblik tot oomblik, word mense gekonfronteer met situasies wat beslissings en oplossings verg. In sekere situasies tree hulle eenders op, sodat ’n mens kan praat van algemene menslike gedrag. In ander situasies tree hulle totaal verskillend op, en dan praat ons van unieke persoonlike gedrag. In albei gevalle is daar veranderlikes wat menslike gedrag onvoorspelbaar maak, en dit gee aan die samelewing ’n eksperimentele vloeibaarheid waarbinne mense in wisselwerking met en dikwels teen mekaar optree.
Die kombinasie van rasionele denke en eksperimentele vloeibaarheid skep die noodsaak vir ’n kritiese benadering tot dit wat mense doen, sê en dink. In hierdie opsig is ’n kritiese benadering ’n goeie ding, omdat dit sorg dat die samelewing aanhou ontwikkel.
Die maatstaf van sonde
Die Bybel bring ’n ander aspek van menslike gedrag in berekening by die kritiese beoordeling, en dit is die kategorie van sonde. Sonde kan gemeet word aan die skadelike uitkoms daarvan vir individue en die samelewing in geheel, maar die basis van beoordeling is eerder geestelik. God staan naamlik vir alles wat goed, reg en navolgenswaardig is. Al die waardes wat met God vereenselwig word, is goed en heilsaam. Alles wat teenoorgesteld is, is sleg en afbrekend. Die toets lê by die vraag of dit heilig is of boos. ’n Heilige lewe is belyn met God se waardes, terwyl ’n onheilige of bose lewe in botsing is met daardie waardes.
Die apostel Paulus waarsku in Galasiërs teen dwaalleraars wat gelowiges wil verwar oor die maatstaf van wat reg en verkeerd is, of dan heilig en onheilig. Soos dikwels in ons eie tyd ook gebeur, maak hierdie leraars mense wys dat dit goed en wel is om Christus as Redder te aanvaar, maar dit is nie genoeg nie. Die heiligheid van God vereis meer as Christus – dit vereis ook dat jy die Joodse godsdienstige wette moet nakom soos om die Sabbat te onderhou, vaste gebedstye in stand te hou, rein kos te eet, besnydenis toe te pas, en so meer.
Paulus se vraag is: Het die wet vir die Jode redding gebring? Die antwoord is nee, die wet bring nie redding nie, dit wys bloot die sonde uit. Die wet, sê hy, gaan nie oor geloof nie. Dit gaan oor die daad. Dit is ’n meetinstrument, en as jy daarmee meet, kom jy net by een punt uit, en dit is hoeveel jy tekortskiet in heiligheid. Niemand kan die wet nakom nie. Wie van die wet ’n maatstaf maak vir redding, is klaar verlore. Maar wie die evangelie van Christus glo, word deur God in genade aangeneem, want Jesus het die eise van die wet nagekom en volbring.
Die Gees bring vryheid
Die evangelie vra geloof, en saam met geloof kom die Heilige Gees. Die Gees van God roep jou tot vryheid. Jy hoef nie heeltyd te wonder watter wette jy oortree en in watter graad nie. Jy is verlos van die wet as maatstaf vir God se aanvaarding. Jou redding is gewaarborg deur die kruis van Christus. Maar nou – dit beteken nie dat jy willens en wetens teen God se wil kan optree nie. As ’n mens die wil van God reg verstaan, moet jy dit positief interpreteer. Die toets lê in jou gedrag teenoor ander mense.
Paulus praat van ons sondige natuur. Dit is daardie natuurlike geneigdheid om ons eie belang voorop te stel in alles wat ons doen; om gedurig die samelewing te beïnvloed en te tap tot jou eie voordeel. Dit beteken noodwendig dat jy ander mense moet benadeel. Hierdie geneigdheid staan direk teenoor dit wat die Heilige Gees wil hê. Die Gees bring jou by teenoorgestelde waardes, almal positief belyn met wat God wil hê. Paulus noem hulle: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Die Gees laat jou twee keer dink. Om in die Gees te leef, is om soos ’n goeie tennis- of krieketspeler tyd te hê om die spoed, hoek, draai, vlug en spring van die bal te sien, en dan te kies watter hou jy gaan speel. Oefening skep tyd vir oorweging en twee keer dink oor jou reaksie.
Ons is kinders van God. Met opbouende vermaning kan ons mekaar ondersteun en help om uitvoering te gee aan die waardes van die Heilige Gees. Elkeen wat glo, het immers die Gees as eerste gawe ontvang. Ons is deel van die mensdom wat denkend na die werklikheid kyk en deelneem aan die eksperimentele vloeibaarheid daarvan, maar ons is meer as dit. Ons is verloste gelowiges wat leef uit die Heilige Gees. Die Gees is God se stuwende krag wat mense se lewens belyn met die waardes van God. Ons moet opgewonde wees om daardie dinamika in ons persoonlike lewe en in die kerk te ervaar.
(Dr Piet van Staden is emerituspredikant en leraar in Stellenbosch/Worcester)
