Waarom het dit so lank geneem voordat die sielkundige impak van Covid-19 besef is, en word dit nie maar oordryf nie?

Dit is die vraag wat Antoinette Louw aan haar pa, prof Dap Louw, buitengewone professor in sielkunde, in ’n onderhoud vir LitNet (6 Augustus 2020) gevra het.

Prof Louw het geantwoord: “Eerstens, en ter versagting. Dit is ’n nuwe ramp wat ons in die gesig staar, ’n pandemie waarvan die aard, gevolge en duur aan ons grootliks onbekend was en steeds is. Tweedens word sigbare en meetbare gevolge van ’n pandemie (bv die sterftesyfer) altyd as belangriker beskou as die meer ‘verborge’ effek soos psigiese versteurings. Derdens is daar, al is dit moeilik verstaanbaar, steeds vir sommige persone ’n stigma wat aan geestesgesondheid kleef. Die gevolg is dat emosionele probleme en psigiese versteurings nie so maklik gerapporteer word nie en die voorkomssyfer daarvan gewoonlik onderskat word.

En nee, die sielkundige gevolge word beslis nie oordryf nie. Die bewyse en oorsake is daar vir almal om te sien: Feitlik die hele wêreld is in ’n grendelstaat vasgevang, duisende mense sterf daagliks aan die virus, die werkloosheidsyfer styg dramaties, die ekonomie is op sy knieë – terwyl bevrediging van een van die mens se belangrikste funksioneringsbehoeftes, naamlik die een aan sosiale interaksie en gepaardgaande emosionele veiligheidsnette, grootliks geneutraliseer is. Dít teen die agtergrond dat ons nie weet wat nog op ons wag nie; die vrees vir die onbekende word immers deur baie sielkundiges as die mees fundamentele vrees van die mens beskou. Hierdie volgehoue vrees vir die onbekende gevare kan ons op so ’n wyse, en selfs subtiel, beïnvloed dat ons eie optrede vir ons vreemd en onvoorspelbaar raak.”

Die sielkundige gevare van Covid-19 word volgens prof Louw onder andere geïllustreer deur onlangse navorsing van die Kaiser Family Foundation. Daarvolgens het meer as 50% van volwassenes gerapporteer dat hul geestesgesondheid beïnvloed is (en wat van diegene wat nie wou rapporteer nie?). “Simptome sluit in stres, angs, depressie, irritasie, aggressie, geheueversteurings, konsentrasieprobleme, asook slaap- en eetversteurings. Ewe sorgwekkend is die bevinding dat hospitaalwerkers wat in die verlede onder kwarantyn was, tot drie jaar daarna aan posttraumatiese stresversteuring (bv onaangename terugflitse, nagmerries, angs en depressie) gely het. ’n Faktor wat dikwels geïgnoreer word, is die feit dat stres die liggaam se biologiese immuunstelsel verswak, wat die persoon meer kwesbaar maak vir die koronavirus en ander siektes.”

Trauma

Trauma (Griekse woord) beteken “verwond” of “beskadig”. Hierdie verwonding of beskadiging gebeur veral op emosionele vlak, afgesien van die feit dat trauma ook skade op fisieke vlak kan teweegbring. In albei gevalle is genesing nodig.

Met fisieke beserings weet ons instinktief watter metodes om te volg. Wanneer dit egter by emosionele beserings kom – ons eie of dié van ander – is ons gewoonlik onkundig. Feit is dat traumaslagoffers ongekende simptome en emosies ervaar en nie weet wat om daarmee te maak nie. Die menslike psige het nodig om betekenis te heg aan emosionele pyn. As ek weet hoekom ek voel soos ek voel, is dit makliker om die ongemak wat ek beleef te hanteer. Iemand wat van Covid herstel het, merk hieroor op: “Die hantering van eie trauma is nie maklik nie aangesien my emosies en psige deur die virus gekontamineer is en my optimale funksionering inhibeer.” Daarom is professionele hulp nodig.

Daar is twee groepe trauma. Trauma as gevolg van situasiegebonde insidente is gekoppel aan ’n spesifieke situasie soos gewapende roof, ’n motorongeluk, afdanking by die werk, ’n terminale siekte, natuurramp(e), verkragting, ernstige fisieke besering, geboortetrauma of die dood van ’n geliefde. Ontwikkelende trauma is traumatisering oor ’n tydperk, insluitende langdurige huweliksprobleme, fisieke of emosionele mishandeling, tieners in afbrekende verhoudings, verbrokkeling van ’n belangrike verhouding, ’n swak selfbeeld, seksuele molestering, finansiële stres of die voortslepende Covid-pandemie.

Dit is belangrik om te verstaan dat ’n bepaalde insident op sigself nie bepaal of dit traumaties is of nie, maar wel iemand se intens persoonlike ervaring van die insident. Verskillende mense kan totaal en al uiteenlopend op dieselfde insident reageer. Dit is ook nie voorspelbaar hoe iemand  op ’n voorval gaan reageer nie.

Wanneer trauma egter gediagnoseer word, is die volgende belangrik:

  • ’n Mens kan voorbereid wees op die insident self, maar onvoorbereid op die emosionele impak daarna.
  • Stel vas of die persoon se normale hanteringsmeganismes hom/haar in die steek gelaat het. Iemand wat byvoorbeeld opgelei is in selfverdediging maar wat tydens die kapingsdrama niks kon doen nie, voel daarna totaal pateties.
  • Is daar verlies betrokke? Wat is die ergste wat gesteel is? Antwoorde kan iets wees soos my menswees, veiligheid, waardigheid, beheer oor my lewe. Die verlies kan ook wees my kar, juwele of ledemate.
  • Stel vas of die insident ’n onherroeplike verandering vir die persoon teweeggebring het. Mense se lewe na die traumatiese ervaring is nooit weer dieselfde nie.

Hierdie vier kriteria is nie in ’n spesifieke volgorde nie. Enige ervaring wat vir die pyn verantwoordelik is, kan egter teen hierdie punte getoets word om vas te stel hoe groot die emosionele impak daarvan is.

Sielkundiges meen dat daar ’n ooreenkoms is tussen ’n huidige trauma en ’n traumatiese ervaring wat diep in die persoon se verlede weggebêre is. Die oorheersende emosie by ’n slagoffer ná ’n trauma-insident kan dikwels verbind word met ongeneesde trauma uit die slagoffer se verlede. Hoe ook al: Trauma ruk jou lewe tot stilstand. Hierdie stilte bied geleentheid om te evalueer, te ondersoek en te groei.

Daar is vrae wat kan help: Wie is jy? Waarheen is jy op pad? Wat moet jy weggooi, wat dra jy vir jare saam met jou wat nie meer nodig is nie? Wat moet jy byvoeg? Waarvan moet jy genees?

Onthou, tyd genees nie emosionele wonde nie – hoe langer jy wag om jou trauma te konfronteer, hoe meer onderdruk jy die pyn en hoe groter en vrotter word die wond. Verwonde mense verwond weer ander mense. Waak veral teen ontkenning.

In effek gaan dit oor die verlies van beheer oor jou lewensituasie – beheer wat jy eintlik as gegewe aanvaar het, maar waarvan jy eers die ware intense impak besef as jy dit nie meer het nie. Trauma verg dus ’n aktiewe en doelgerigte inkoop en betrokkenheid van die getraumatiseerde persoon by en met ’n berader.

Posttraumatiese stresversteuring (PTSV)

Jare na ’n traumatiese gebeurtenis of ervaring kan daar steeds simptome wees, soos angsaanvalle, gebrek aan konsentrasie, hoofpyne, onvermoë om suksesvol te verbind in verhoudings, rusteloosheid, depressie en selfdoodneigings. Die simptome van PTSV skop in wanneer ’n slagoffer van ’n traumatiese insident nie die trauma konfronteer en verwerk nie.

PTSV kan ontstaan uit enige van die volgende vorme van trauma indien die emosionele pyn nie verwerk word nie:

  • Primêre trauma verwys na die primêre insident.
  • Trauma van die kinderjare wat insluit seksuele molestering, emosionele en fisiese mishandeling en vernedering kan ook in PTSV ontwikkel as dit nie hanteer word nie.
  • Sekondêre trauma verwys na insidente ná die primêre trauma waar die persoon weer getraumatiseer word, byvoorbeeld ’n ervaring by die polisiekantoor na ’n verkragting.
  • Kollektiewe trauma is traumatiese insidente wat deur ’n groep, ’n hele gemeenskap, selfs ’n hele land ervaar word. Dit kan ’n kollektiewe emosionele opskudding en selfs verlamming tot gevolg hê. Kollektiewe trauma speel ’n sleutelrol in die identiteit van ’n gemeenskap.
  • Tweedehandse trauma: Enige hulpverlenende professie wat elke dag blootgestel word aan traumagevalle, kan indirek getraumatiseer word. Ook die publiek wat elke dag blootgestel word aan die media se daaglikse rapportering oor trauma. Ook wanneer ’n nabye persoon, soos ’n vriend of vriendin, kind, eggenoot, broer of suster of ouers trauma ervaar, kan ’n mens tweedehands getraumatiseer word.

Hoe nou gemaak?

Trauma sal daar altyd wees. Eenvoudige antwoorde bestaan ongelukkig nie. Enkele riglyne mag dalk help: Verstaan jou trauma. Besluit om die trauma en die emosionele pyn wat daarmee gepaardgaan, in die oë te kyk en dit te verwerk. Kry betyds hulp indien nodig.

Martin Luther het tydens die Swart Dood wat sowat 60% van Europa se bevolking uitgewis het, die volgende gesê: Ek sal God vra om ons op grond van sy genade te beskerm. Dan sal ek ook die nodige beroking doen om die lug te help reinig, ek sal medisyne toedien en self inneem, die plekke en persone vermy waar my teenwoordigheid nie nodig is nie, om sodoende te voorkom dat ek self aansteek en op my beurt weer ander aansteek wat as gevolg van my onverskilligheid tot hul dood mag lei. Indien God besluit om my te neem, mag ek besig wees om te doen wat Hy van my verwag terwyl ekself nie verantwoordelik is vir my eie dood of die dood van ’n ander nie. Indien my naaste my egter nodig het, sal ek nie plek of persoon vermy nie, maar gaan en doen wat God van my verwag.

Sien dit, sê Luther, as Godvresende geloof omdat dit nie vermetel of roekeloos is en God beproef nie.

(Dr Christo van der Merwe is emerituspredikant en betrokke by die Kerk se Welstandsprogram)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap