Daar is ’n verskil tussen ’n gemeente en ’n gemeenskap.
’n Gemeente is belangrik. Dit is waar ons bid, sing, luister, dien en saam die Here aanbid. Dit is waar ons kinders gedoop en ons geliefdes begrawe word, en waar ons aan die Here se tafel sit. Dis waar ons leer wat dit beteken om aan Christus te behoort.
Maar iewers langs die pad het ek begin wonder of daar nie soms iets ontbreek nie. Of ons dalk baie tuis geraak om kerk toe te gaan, sonder om werklik saam te leef. Of ons so besig geraak het met programme, vergaderings en eredienste dat ons vergeet het hoe diep Jesus se roepstem om gemeenskap werklik gaan.
Ek was maar jonk en onervare toe ek die bediening betree het. As ek nou terugkyk, besef ek dat deel van my soeke my eie onvermoë was. Ek kon die gemeente se besigwees sien, maar ek was nie wys genoeg om die gemeenskap wat reeds bestaan het, raak te sien nie. Ek het nie al die diep vriendskappe en getrouheid raakgesien nie en ook nie hoe mense mekaar stil-stil emosioneel gedra het nie.
My soeke het my op vreemde paaie geneem. Ná vyf jaar in die bediening was ek skielik in die VSA op ’n sabbatsjaar as vrywilliger by L’Arche Chicago. Ek het gedink ek gaan help. Ek was verkeerd.
L’Arche is nie ’n plek waar sommige mense help en ander gehelp word nie. Dit is ’n intensionele gemeenskap waar mense met en sonder intellektuele gestremdhede soos familie saam leef. Hulle eet, werk, lag en huil saam.
Daar leer jy gou dat jy nie net die een is wat gee of net die een is wat ontvang nie. Elkeen bring iets. Elkeen dra iets. Elkeen het gawes en beperkinge.
My titel en grade het net mooi niks beteken nie. Dinge het soveel stadiger gebeur. Iemand vat lank om aan te trek. Iemand vertel dieselfde storie oor en oor. Iemand raak ontsteld oor iets kleins. My geaardheid was om vinniger te wil beweeg en dinge reg te maak.
Maar L’Arche het my geleer dat liefde teen die spoed van die stadigste mens beweeg en dat my reg nie die enigste reg is nie.
Gemeenskap vra tyd en geduld. Dit vra dat jy ophou om mense as projekte te sien wat reggemaak of bedien moet word. Ek het meer ontvang en geleer by diegene wat ek aanvanklik gemeen het ek moet help. Hulle het my geleer om stadiger te leef, beter te luister en minder bekommerd te wees oor prestasie en uitset, en veel meer begaan te wees oor teenwoordigheid.
Toe dit tyd word om terug te keer na Suid-Afrika en na die bediening toe, was ek huiwerig. Nie omdat ek nie die kerk lief het nie, maar omdat ek bang was om iets van dit wat ek by L’Arche beleef het, te verloor. Ek was bang dat ek weer sou terugval in ’n wêreld van titels, programme en kerk doen sonder daardie diep gevoel van behoort.
En as ek eerlik is, het dit soms vir my gevoel asof my vrees waar geword het. Nie omdat daar nie opregte liefde in gemeentes is nie. Daar is baie. Maar ek het ontdek dat net omdat ons ’n gemeente is, beteken dit nie outomaties dat ons gemeenskap het nie. Gemeenskap gebeur nie vanself nie. Dit vra tyd, teenwoordigheid, kwesbaarheid en intensie.
Tydens die 2025 Lentekonferensie het ds Jaco Strydom vir my iets gesê wat my moeë, soekende hart moes hoor: Jy sal al die politiek van die kerkinstituut kan hanteer as jou tuiskoms weer in opregte gemeenskap is.
Skielik het ek besef ek hoef nie tussen die twee te kies nie. Ek hoef nie die kerk te los om gemeenskap te vind soos die vorige keer nie. Maar ek sal doelbewus moet sorg dat my lewe gewortel bly in ’n plek waar mense mekaar werklik ken en dra.
Toe ek weer sien, woon ek in een van die Echo Jeugontwikkeling se kommunes in Villieria – hierdie keer terwyl ek steeds voltyds in die bediening is.
Echo is anders as L’Arche. Dit is ’n gemeenskap van jongmense met moeilike stories. Jongmense wat deur trauma, armoede, verlies, verslawing, geweld en verwerping gegaan het. Tog vind jy dieselfde heilige ritmes van saamleef, saam kook en saam eet. Geselsies op die stoep. Die chaos van mense wat saam bly. Die klein oorwinnings van hoop wat groei.
By Echo het ek weer gesien dat ons nie mense regmaak nie. Jy stap langs hulle. Jy bly. Jy luister. Jy hou aan hoop wanneer hulle self nie meer kan nie. En ja, daar is dae wat ek ná ’n lang dag van dominee-wees by die huis instap en daar reeds vyf huismaats wag. Iemand wil kla, iemand benodig ’n pleister, iemand wil raad vra en daar is altyd vuil skottelgoed.
Maar dis juis daar, in daardie klein, gewone, soms uitputtende oomblikke waar die mooi van gemeenskap lê. Dit beteken ons lewe is ineengeweef. Dit beteken daar is mense wat jou nodig het en mense vir wie jy ook nodig het. Dis nie altyd gerieflik of maklik nie.
Gemeenskap is beslis nie romanties nie. Dis morsig en dit vra opofferings, maar dalk is dit juis waarom dit so heilig is. Ware gemeenskap word nie gebou wanneer alles maklik is nie. Dit word gebou wanneer mense kies om te bly.
Vir lank het dit vir my gevoel asof ek tussen twee wêrelde leef – die wêreld van gemeente en die wêreld van gemeenskap. Dit was baie verwarrend. Maar die afgelope tyd begin ek stadigaan iets anders ontdek. Miskien hoef dit nie óf die een óf die ander te wees nie.
By Echo, en ook al hoe meer in die gemeente, begin ek iets van ’n samevloeiing beleef. Ek begin sien hoe die kerk op haar mooiste lyk wanneer sy nie net ’n plek is waar mense aanbid nie, maar ook ’n plek waar mense behoort. Waar ons nie net saam glo nie, maar ook saam leef en ek begin onthou hoe ek dit al op ander plekke in die Kerk gesien het.
Dit gebeur nie groot en dramaties nie. Dit gebeur in klein oomblikke – in mense wat ’n rolstoel help inlaai ná die diens, in iemand wat vriende rondry en kos aflaai, in ’n huisbesoek, ’n WhatsApp-boodskap en in opregte omgee.
Dit laat my dink aan die vroeë kerk in die boek Handelinge. Hulle het nie net eredienste bygewoon nie. Hulle het hul lewens gedeel. Hulle het saam geëet, saam gebid, saam gehuil en saam gedra. Hulle het werklik aan mekaar behoort.
Ons leef in ’n tyd waar baie mense ongelooflik eensaam is. Ons gaan kerk toe, maar ons deel nie noodwendig ons lewens nie. En daarom dink ek my soeke is nie net my eie nie. Ek dink baie van ons is op soek na iets meer as bloot ’n gemeente. Ons is op soek na gemeenskap. Nie noodwendig ’n perfekte gemeenskap nie, maar ’n plek waar daar ruimte vir gebrokenheid is. ’n Plek waar mense mekaar se laste help dra en waar ons nie hoef voor te gee nie.
Ek leer nog. Ons leer nog. Maar hoe langer ek daarmee leef, hoe meer wonder ek daaroor of dit nie juis is wat God se bedoeling met die kerk was nie: Nie net as ’n plek waar ons saam aanbid nie, maar ook as ’n gemeenskap van mense wat aan Hom en aan mekaar behoort. Is dit nie wat ons as gemeentes weer moet word nie?
(Ds Rue Hopley is leraar in Gemeente Wapadrant)