Ons is kerk, maar ís ons kerk? Die vraag is reeds jare gelede in Die Hervormer deur ’n kollega gevra. Die indruk bestaan dat die vraag nie einde het nie en nie meteen afgehandel is nie.

Die Nederlander dr Oepke Noordmans het opgemerk dat die woord kerk klaarblyklik nie begryp wil word nie. Dit ly geen twyfel nie en is voor die hand liggend dat daar ín die Kerk en ván die Kerk heelwat te sien en met die oog waar te neem is. Indien iemand navraag sou doen oor waar die eie Kerk te vinde is, sou dit kon beteken dat by ’n gemeente besoek afgelê kan word tydens ’n erediens. Verder sou die vergaderings van die Kerk bygewoon kon word om te hoor hoe klink die debatte van dié Kerk wat onder leiding van die Gees en op grond van die Woord besluite neem tot die Kerk se welwese. Maar die spreekwoordelike wandelgange van die Kerk sou ook besoek kon word om te hoor hoe ampsdraers en lidmate praat oor die Kerk en veral oor die toekoms van die Kerk in die heersende wêreld waarin die Kerk leef. Waar die geeste gehoor en die menings geuiter word, bly dit steeds vas staan dat die uitdaging eintlik maar net is om kerk te wees, en dit beteken kerk van die Woord.

Dit beteken dat nie in rustigheid verval kan word om met selftevredenheid te doen soos ons in die verlede gedoen het nie. Kerk van die Woord rig die voortdurende appèl  tot heroorweging en het die blik agteraf tot gevolg wat die vraag vra of dié besluit en dié antwoord of dié opmerking korrek was. Uit die aard van die saak is die norm nie inherent aan die ek nie, maar buite die spreker in die voortdurende verwagting na korreksie deur Woord en Gees. 

In die debat oor die Kerkwapen was behoud belangrik sodat die waarnemer kan weet waar ons vandaan kom, so is geargumenteer. Krities kan maar gevra word of die kruis nie belangriker is as ’n ossewa of ’n voorlaaier nie? Indien erfenis en verlede belangrik geag word, sou die gedagte van ’n staatskerk liefs gelaat kan word en die ontdekking volg dat eendrag wat mag tot gevolg het, tog ietwat kerkvreemd is. So het die ontdekking uiteindelik gevolg dat ’n rasmatige kerkordelike bepaling onbruikbaar is en nie aan die kapstok van Skriftuurlikheid en inklusiwiteit hang nie. Kerk van die Woord verg geen verdere byvoeglike omskrywing nie. 

Die institutêre sy van die Kerk spreek ook verhoudinge aan, onder andere. Met betrekking tot verhoudinge kom kollegialiteit tussen bedienaars van die Woord ter sprake met die verwagting dat die Kerk daaraan gekenmerk sal word, dan nie? Nie net tussen kollegas nie, maar verhoudinge in die algemeen, ook tussen almal wat iewers onder die gemeenskap van gelowiges in die erediens en daarbuite naby aan mekaar kom. 

Die Kerk as instituut verg vergaderings en besluite, bankrekenings en beleggings, lidmaatgetalle en statistieke, offergawe en fondsinsamelings, maar ook gewone gelowiges waarvan sommige ook ampsdraers is. Indien iemand wat kerklik soekend is, op die kruispad van menslike kom en gaan raakgeloop word, sou meteen en sonder twyfel na die Hervormde Kerk verwys word met die opmerking dat dit die regte kerk is? Regtig, of as daar twyfel mag bestaan, waarom? 

As die Kerk, die eie Kerk, sonder meer aanbeveel is, kan die vraag met reg gevra word: Word die institutêre sy van die Kerk bedoel, of word die kerk as liggaam van Christus bedoel? Dat daar dus ’n kritiese afstand is tussen die kerk as instituut en die kerk as liggaam van Christus is waar, maar dit is ook waar dat die afstand steeds kleiner moet word. Die kerk as instituut moet daar wees en sal daar wees, maar mag nie in die plek van die Kerk gestel of daarmee gelyk gestel word nie, selfs nie onbewustelik nie. Want, wat bepaal die toekoms van die Kerk? 

Stemme soos: Die Kerk het misluk, statistieke dui op die naderende ondergang, besparing is noodsaaklik want sodoende word’n skatryk besparing in die hand gewerp, prediking en kerklike debatte met ’n neerslagtige inslag, moedeloosheid, ’n gebrek aan entoesiasme vir die Kerk en sy werk, is teenproduktief om die minste te sê. Daar was goeie redes en gebeure wat oor die afgelope twee duisend jaar plaasgevind het wat tot mislukking van die Kerk kon lei, maar dit het nie. 

Die waarskuwende en immer nuut ontdekking wanneer die kerk ter sprake kom is bepalend, nie sonder meer sigbaar of meetbaar nie, maar nie om dié rede afwesig nie. Geloof wat werklik ’n verskil maak, is die geloof teen alle ervaring in, het Luther by geleentheid gesê. Die Kerk leef tussen Doop en Nagmaal, die Nagmaal drie maande later ja, maar eintlik na die Nagmaal wat die Here voorsien het in die koninkryk van die Vader (Matt 26: 29). Dit lê in die toekoms, anderkant die grootste menslike vyand die dood, daaroor het hulle ’n lofsang gesing (Matt 26: 30) (Ps 114-118). Die kerk, ook en veral die Hervormde Kerk, se toekoms is nie tiperend van die mineur toonaard van ’n klaaglied nie, maar word verwoord deur ’n loflied wat anderkant bankrekenings, beleggings en statistieke gesoek moet word. Die eindeloos dringende vraag aan elke bedienaar van die Woord is: Sê my asseblief, jy hoef my seker nie te antwoord nie, maar antwoord tog dan ter wille van eie en kerklike welwese: Glo jy dit van harte? Evangelie en Kerk lê in mekaar se verlenging, en daarom hoef nie meerderwaardig van die Kerk afstand geneem te word nie. Evangelie, Woord van God, kan nie sonder kerk nie, en kerk kan nie sonder die Woord van God nie. 

Die kritieke vraag is egter: Wat kom in elkeen se gedagtewêreld na vore wanneer die kerk ter sprake kom? Dit is wonderlik om vir die Here te werk, maar nie altyd so aangenaam om vir die Kerk te werk nie, hoekom? Daar word onder die indruk verkeer dat die kerk ’n besigheid is, ’n klub, vereniging, vakbond waar stakings, weerstand deur kort van draad wees, afskeidings en dreigemente klaarblyklik normaal geword het. Ag, aandag kan ook gegee word aan kollegiale koudheid, stilte as antwoord, verdagmaking, sommer net gewone liefdeloosheid wat nie pas by die uitnemende amp van bedienaar van die Woord nie. Toegegee, aan die duskant van die graf is die volmaaktheid nog nie, maar ’n kritiese blik agteraf op die eie doen en late is tog moontlik. 

Derhalwe, kerk en instituut staan in mekaar se verlenging, maar dit is nie die instituut wat die kerk moontlik maak nie, dit is net andersom. Die terrein waar die reaksie op die Woord grondvat is die kerk, nie noodwendig die Hervormde Kerk nie, maar die kerk, die een heilige, algemene, Christelike kerk. Daarvan probeer die Hervormde Kerk om ook ’n verskyningsvorm te wees. Dit beteken niemand wat by die Kerk betrokke is op welke manier ook al, kan te tuis word in die Kerk nie en die kerklike medemens behandel soos ’n vreemdeling nie. Terselfdertyd sou dit ook ’n aanklag wees om ontuis in die Kerk te wees, of die Kerk dood te smoor met swaarmoedigheid en vooroordeel. Die Kerk, ja ook die Hervormde Kerk, het ’n blink toekoms, die Woord sê dit. 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link