Gedurende Oktober 2025 is twee van die NHKA se emerituspredikante oorlede.

Ds JF (Jan) Wilson (69) is Woensdag 1 Oktober oorlede. Hy was kort ná die 70ste AKV in 2013 in ’n ernstige motorongeluk betrokke, en het oor die afgelope 12 jaar verskeie gesondheidsuitdagings gehad.

Ds Jan is in November 1980 gelegitimeer en op 30 November 1980 in Voortrekkerhoogte georden. Hy het sedert 1983 in Klerksdorp-Suid gedien en het in 2014 siekte-emeritaat aanvaar, en in 2023 emeritaat. Ds Jan Wilson was ’n legende in Klerksdorp. Met sy motorfiets het hy kilometers afgelê om lidmate en kollegas te besoek. Met sy geen-nonsens-aanslag het hy ’n blywende nalatenskap gelos. Hy het alkoholiste gerehabiliteer wat vandag nog steunpilare in die Kerk is ná dekades se soberheid.

Hy was veral die laaste jare aktief met hospitaalbesoek wat hy met sy rolstoel gaan doen het. Hy het ook, soos sy gesondheid toegelaat het, nog gepreek ná sy ongeluk, en sy opregte geloof en blymoedige houding het oud en jonk geïnspireer.

Sy gedenkdiens het Saterdag 11 Oktober in Gemeente Klerksdorp-Suid plaasgevind. Ons innige simpatie gaan aan sy familie en naasbestaandes.

Dr DJC (Daan) van Wyk sr (85) is Vrydagoggend 17 Oktober oorlede nadat hy vroeër die week beroerte gehad het. Hy het die laaste maande ernstige gesondheids-probleme ondervind.

Dr Daan is in Desember 1963 gelegitimeer en op 22 Februarie 1964 in Kroonstad georden. Hy het gedien in Kroonstad, Springs, Verwoerdburg, Johannesburg-Wes, Warmbad en Rust der Winter, en was onder andere redakteur van Die Hervormer en voorsitter van die Kommissie van die AKV. Hy het baie diep spore getrap in die NHKA.

In 2022 het dr Daan nog ’n publikasie met oorpeinsinge uit die Psalms saamgestel, en so pas weer een oor die koninkryk van God. Laasgenoemde het verskyn die dag van sy beroerte, en hy kon dit nie ontvang nie.

Die gedenkdiens het plaasgevind op Vrydag 24 Oktober in Gemeente Pretoria-Oos. Ons innige simpatie gaan aan mev Frieda van Wyk, dr Daan van Wyk jr, die ander kinders, kleinkinders en familie, en die menigte vriende en oudlidmate.