Sedert die vorige uitgawe van Die Hervormer is nog twee van die NHKA se emerituspredikante oorlede.
Ds DS (Daan) Smit (73) is Sondagoggend 23 Oktober oorlede na ’n ernstige beroerte in September. Die gedenkdiens op Vrydag 28 Oktober vanuit Gemeente Van der Hoff in Groblersdal is gelei deur ds JP (Johan) du Preez. Ds Smit is op 18 Januarie 1976 georden, en het gedien in Witbank, Witbank-Noord, Piet Retief/Pongola, Piet Retief en Van der Hoff. Hy het in 2013 emeritaat aanvaar, en het steeds van 2016 tot sy opname in die hospitaal in September vanjaar nie-amptelik gehelp met die bediening in Roossenekal. Ons innige simpatie gaan aan ds Smit se vrou, Aletha, en hul familie.
Ds MCE (Eksteen) Botes (66) is Saterdagoggend 12 November oorlede na sy stryd met kanker. Die gedenkdiens het op Vrydag 18 November vanuit Gemeente Nelspruit plaasgevind. Ds Botes is op 29 Januarie 1984 georden, en het gedien in Glencoe, Malelane en Nelspruit, Hy het in 2021 emeritaat aanvaar, en daarna gedien in Gobabis, Outjo en Otjiwarongo. Ons innige simpatie gaan aan mev Helene Botes en hul familie.
