’n Reis begin soms lank voor die eerste treë en eindig lank voor die laaste, en elke reis het sy eie karakter, kontoere en horisonne.

Só mymer die skrywer van East of Eden en Travels with Charley: In Search of America, John Steinbeck. Met Charley, sy vierpootvriend, het hy die wêreld met pensketse, spyskaarte en geselsies ontdek en soos ander getuig – reise lei nie net verby bekende horisonne na nuwe wêrelde nie. Daar is ook oomblikke sonder woorde, oomblikke van besinning.

Voor Covid sy spoor in die wêreld getrap het, het ek en my vrou van Dervla Murphy kennis geneem. Hierdie Ierse fietsreisiger, bekend vir haar boek Full Tilt, Ireland to India with a Bicycle (1965), het vroualleen sand en sneeu, vlaktes en hoogtes kafgetrap en herinneringe van ’n nou vergange wêreld nagelaat.

Ander het ook ons aandag getrek. Jeugdiges, middeljariges en nog ouer het via YouTube, webtuistes en reisbeskrywings hul ervarings gedeel, en dit het daartoe gelei dat ons in 2019 ons nooiensvaart aangepak het. Gedurende Mei en Junie van daardie jaar kon ons, ook ons jongste van 15 jaar oud, stukkies van Nederland en Duitsland verken.

Vir fietsreisigers is Europa ’n fietsparadys; trouens, die Eurovelo fietsreisnetwerk strek kruis en dwars van die Middellandse See tot agter die eertydse Ystergordyn. Ons het weggeskop met die Eurovelo 15, ’n roete wat langs die Rynrivier strek.

Nederland is gerat vir fietsreisigers. Knoopkaarte maak dit maklik om van punt tot punt die roete te beplan, en na ’n dag se trap het kampterreine ’n welkome lafenis gebied. Behalwe die kampterreine (sommige gratis, soos die Paalkamperen), bied die gasvryheidstoepassing Warmshowers geleentheid aan fietsers om mense van die land en omgewing te ontmoet.

In Afrikaans kon ons kennis maak met ’n verskeidenheid mense, soos dr LJ Geluk en sy eggenote van Rotterdam. Na ’n dag se trap (en verdwaal) nooi hulle ons vir laatmiddagkoffie en snoeperye. Dr Geluk is ’n ou vriend van die Hervormde Kerk en ons gesels oor prof Ben Engelbrecht. Prof Ben was lidmaat van Gemeente Pretoria en ek was sy dominee. Tydens ’n huisbesoek gee prof Ben my ’n blou boekie in die hand: My besoek aan Nederland: 2 November 1975 tot 2 Desember 1975, en daarin skryf hy:

Direk na my aankoms het ek die eerste deel van my program asook die reëlings van my reis en verblyf in Nederland ontvang nl tot die 17de November 1975. Ds Gijmink as één ondervoorsitter van die NZAW reël naamlik vir die Suide en die Weste van Nederland, terwyl die ander ondervoorsitter, ds LJ Geluk van Zwolle, vir die ander deel nl die Noorde en Ooste van die land gereël het.

Sorgvuldig, deeglik, het hy sy gesprekke en waarnemings opgeteken, soos dié met drr H Berkhof, J Veenhof, W van’t Spijker en prof J van der Linde. Behalwe sinodesittings van die Nederlandse Hervormde en Gereformeerde Kerk, het hy eredienste bygewoon, onder meer in die Willem de Zwijgerkerk. Die orrelspel voor die erediens was Christ unser Herr zum Jordan kam (Johann Sebastian Bach, 1685-1750).

Ons het prof Ben op 27 Junie 2011 uit Gemeente Wonderboom begrawe; oom Leun is ’n bejaarde mens en die sewentigs se stemme is aan die verstil.

Van Rotterdam is ons na Duitsland, na Düsseldorf, en daar het ons kaalvoet in die Ryn gaan staan terwyl enorme vragskepe voor ons die skemer klief.

Vroeër, in Xanten, het ons die Hafentempel en Romeinse fort besoek. Toe kon ons in die wagtorings opklim en verder kyk – na die invalle van die Germane en die gang van die evangelie van Christus na hulle wat later die Romeinse Ryk omarm en die wortel word van ons gang in Afrika. Die wortel is diep geplant: van Bentheim (Duitsland) na Ouddorp (Nederland), Mauritius en die Kaap die Goeie Hoop, vandaar na Tulbagh en Franschhoek, en tussen die blaaie van registers en notules van Gemeentes Roodezand, Potchefstroom en Marico merk huwelike, dope en sterftes ons gang.

In Oktober 2021 het Covid effens verflou.

Die Hemel-en-Aarde-roete was volgens die resensie op die webtuiste van Bicycle South ’n roete vir redelik fikse fietsers en lei van Stellenbosch, oor die Franschhoekpas verby Pniel na Greyton en deur die Overberg. Vandaar strek dit kuslangs deur Hermanus, Onrus, Kleinmond, terug na Kaapstad.

GoogleMaps se blou lyn kronkel padlangs deur besienswaardighede soos die Hugenotemonument, Franschhoek-motormuseum en Anton Rupert se wynlandgoed en museum.

Wat GoogleMaps nie wys nie, is die reën op Franschhoekpas wat oor ons wange biggel, en wanneer die wolke wegtrek, die blou vertes en dynserige straaltjies vaal tussen die wingerde.

Net anderkant Franschhoek op pad na Theewaterskloofdam, oornag ons by die Volle Evangeliekerk se kampeerterrein. Cornu le Fleur, die plaaslike pastor, laat weet alles is reg – warm storte wag en die hekwag sal vir ons die slaapplek oopsluit. Ons kan ’n donasie onder die kussing los.

Die stilte het kom lê en in die donker, bo die kabbelende bergstroompie, het ’n uiltjie gekras en ’n ander werklikheid het begin vorm aanneem. Dít kon ons sien aan die seinlose selfone wat ons gewoonlik na Facebook, WhatsApp en ander knutselary lei. In die stilte kon ons die Psalms oopmaak, lees en dankie sê. Dankie vir die skepping, die mooi wat vreugde bring én die swaar wat maal. En dankie vir mekaar. Ons kinders. Ons Goeie Herder wat ons verste horisonne dra.

Daar was nog waarvoor ons sou dankie sê: ’n troppie skape anderkant Greyton, plate proteas teen die hange van Jongensfonteinberg, ritselende koringare wat bult op voor die wind huppel, bokbaaivygies op kindergrafte buitekant Pniel, tjienkerientjees en kopiva wat langs die pad dans, bobbejane wat vroegoggend in die reën klont en die koue see wat oor rotse breek en bruis.

En ander se deernis.

In Greyton hou ’n dame langs ons stil en kuier-kuier oor ons waarvandaan en waarheen en vertel van haar reise, terwyl die verkeer agterlangs opdam. Voor Rooiels, toe ons teen die wind die hoogte uit, klop ’n klompie van die fietsryklub ons op die skouers en moedig aan. En toe ’n fietsketting breek na ’n stywe dag met die wind van voor, en ons die kampeerplek laat weet ons gaan na donker kom, stuur die ontvangsdametjie ’n teksboodskap: Waar is julle? Ons kom haal julle.

Om fietslangs te reis, beteken kwesbaarheid, dit stroop sekerhede, bied struikelblokke, opdraandes en met tye ’n wind van voor. Maar dit lei ook na hoogtes en stiltes, na skoonheid en waarheid, na God se Godwees en sy Menswees met ons.

(Dr Christo Pretorius is leraar van die saamwerkende gemeentes Pretoria en Wonderboom-Suid)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap