Ek het twee keer erg getwyfel, so erg ek onthou dit maar alte goed. O, ek het honderde, dalk duisende kere al getwyfel, oor kleinigheidjies, maar dié twee keer was ernstig. Ek kon dit nie afskud nie, en ek het noodgedwonge ander planne met my lewe begin maak.

Dít het ek my toe al voorgeneem: Ek gaan niemand mislei nie; en ek gaan ook niemand saam met my in die vertwyfeling aftrek nie.

Die eerste keer dat dit gebeur het, was ek ’n brose tiener op universiteit. ’n Vriend noem jong dominees babas met ronde pienk wangetjies en sterretjies in die oë. Só was ek ook. Met ontgroening het een van die ooms op die Van der Hoffkamp my spottend gevra: Weet jou ma jy’s hier? Dit was genadiglik vóór studente van die Kerk gekeur is vir studie in die Teologie – ek sou nóóit dié toets kon slaag nie!

Geroepe, tot jou eerste Griekse toets, het iemand grap gemaak, en dit was amper waar: Hebreeus het mý gepootjie. En toe begin die teologie my martel, net effens erger as wat die gemeente later sou regkry, want in die gemeente was my geloofsharnas al terug, en het die ondervinding van studentedae ’n lagie pantserwerk daaraan toegevoeg. Op UP was ek nog naak, nie naastenby opgewasse nie.

Ek weet jy twyfel ook.

Taaibos het die Ienkkonsert gewen met ’n revue wat die spot gedryf het met studierigtings: Liggaamlike Bewegingskunde was BA-Speletjies, BCom kom vanself. Teologie was in die kol met BA-Maniese Depressie. Ook op hierdie blad se kommentaar lees ek van hartverskeurende vertwyfeling.

Terugskouend, en dis wat ek jou wil vertel, het drie mense my gered. Dit sal nie help jy vra hulle nie, hulle weet dit nie eens nie. Ek het nie eens een keer by een van hulle gaan sit dat hulle my kop aan die kant kon maak nie. Dominees, aldrie van hulle, het ek hulle net gehoor preek: Roelf Coertze, Piet Geyser en Tony Simpson. Tony was die uitsondering onder hulle: Hy was ons gemeentepredikant, en het benewens sy preke, my die Geloofsleer ook ingeprent. En later het hy die Gemeentelike Evangelisasie Toerustingsprogram (GETP) geskryf. Erediens en prediking, en goeie leermeesters het my woord vir woord weer aanmekaargesit.

Met die tweede twyfel was die Kerk ver. Ek was in Engeland, swaar gewond deur die Kerk, op vlug van gemeente, smagtend na God, verlangend na my kinders, ouers en familie, sukkelend en, helaas, ook siek. Ook daar was ek nie buite God se bereik nie. Vriende het hulle oor my ontferm. Willem het weekliks die 80 kilometer na my toe afgelê, kwansuis agter Susan se soetkoekies aan, en saam met my by my kombuistafel gesit en huil. Vir Andrew het ek op ’n dag koffie gekoop en gekla ek verstaan vir God nie meer nie. Sy eenvoudige antwoord was: What’s to understand? Believe!

Ek het geleer vrede maak met wat ek nie kan kleinkry nie, God se grootheid doodluiters geglo.

Ek het geleer aanvaar dat die Bybel ’n antieke geskrif is vol preke wat nie bedoel om te lieg nie, maar ook oorloop van mense se eie gevoelens oor God, gevoelens wat ons met hulle mag deel, of dalk nie. Geloof is die deurslaggewende feit waarby die Bybel hou, nie noodwendig die gebeure waarvan die Bybel ook vertel nie. Gelowig vertel hierdie mense ons wat met en in hulle gebeur het. Leuens is dit nie, dalk net nie so ooglopend so waar soos ’n koei nie.

Twyfel ek nou nie meer nie? Van die konsistoriegebed af tot op die kanseltrap kry ek hartkloppings, moet ek myself herinner om asem te haal en bid ek verwoed. Maar dalk is dit meer vrees as twyfel? Miskien twyfel ek dan in myself, of ek dit reg het, en of ek maar mag preek? As ek tuis my Bybel oopmaak, vir preekmaak of om net deur hierdie dag te kom, vra ek die Here moet my eerlik maak, my eg hou, my vreesloos laat vra na die antwoorde op die raaisels wat my twyfel aanblaas. O, ek is nou nog soekend, en soms vind ek selfs! Ek twyfel beslis, maar op die oomblik, Goddank, ontspoor dit my (nog) nie (weer nie).

Ondervinding het my geleer dat teologie gepraat moet word, oor geloof gesels moet word, met God en saam met mense.

Ek is oortuig dat ons oor alles kan praat, ook oor ernstige twyfel en hardnekkige ongeloof, as jy net weet hoe. Oor twyfel moet jy jou nie te veel skaam nie, nie só dat jy van praat wegskram nie.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap