Dr Martin Jansen van Rensburg

Ubi caritas et amor, ubi caritas Deus ibi est. Waar daar liefde en deernis is, daar is God die Heer. Die bekende lirieke van Gesang 526 word gereeld gehoor wanneer ons die wonder van God se teenwoordigheid besing. Die teenwoordigheid van ons Here en God verander die lewe  en gee hoop en vrede. Waar God is, daar is liefde en deernis.

Voor van links na regs: Dr Martin Jansen van Rensburg; diak Dirk Stoltz; diak Elmien Botha; diak Mac van Zyl; diak Andries Pretorius; ds Quinten Schimper.
Agter van links na regs: Diak Ben van Buuren; diak Hans van der Merwe; diak Petrus Nel; ds Gerhard Stoltz; diak Gommie Prinsloo.

Hierdie waarheid het ons opnuut weer ontdek met die Ubi caritas-simposium wat van 30 April tot 2 Mei plaasgevind het en gevolg is deur die Agtste ADV wat op 3 Mei in sitting was. Diakens wat afgevaardig is deur hul onderskeie ringsvergaderings asook ander belangstellendes het in Pretoria by Gemeente Wonderboom vir die geleenthede byeengekom. Die nood van ons mense en die barmhartigheid wat gevra word, is opnuut onder die vergrootglas geplaas.

Die openingserediens is behartig deur verskeie predikante wat betrokke is by die werksaamhede van die ADV. Elkeen het vanuit sy of haar eie diensveld ’n ander perspektief op barmhartigheid gegee. Die reismotief in Lukas en Handelinge is as teologiese vertrekpunt geneem, en Jo Black se lied Skepe is as metafoor gebruik om te verduidelik hoe die diakonaat vanuit die veilige hawe van gemeentes en vergaderings beweeg na waar daar nood is. Soms lyk dit asof ons nie uitkom daar waar nood is nie. Om ’n verskil te maak, is dit nodig dat elke lidmaat en ampsdraer die stormwaters van die lewe sal aandurf en diegene wat nood het sal bereik, of sal gaan haal, en hulle sal bring na die veilge hawe van die Here se liefde.

Tydens die openingsgeleentheid is die Jan Reynierz-erepen-ning oorhandig aan ds Naas Lombard van Suidoos-Witbank vir buitengewone diakonale diens in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Ds Lombard het oor baie jare in verskeie diakonale rade asook Die Ondersteuningsraad en Rata gedien. Hy was, om die metafoor van die skepe te gebruik, ’n skip wat nie geskroom het nie om die uitdagings van die stormwaters aan te durf.

Tydens die simposium het die volgende diakonale diensvelde elkeen ’n aanbieding gedoen:

Armoede: Dr Martin Jansen van Rensburg was die inleier. Die diensveld se fokus is mense wat in armoede leef. Tydens die simposium is aandag gegee aan mense wat in skuilings woon – die bestuur van die Tower of Life in Krugersdorp was deel van die bespreking. Daar is ook die Woensdagaand ’n besoek gebring aan mense wat op straat bly ten einde hul verhale te hoor.

Kindersorg: Ds Frikkie van Wyk was die inleier. Kinderpornografie en boeliegedrag was die fokus. Hoe hanteer ’n mens dié euwels, en hoe kan ons ons kinders daarteen beskerm?

Lewensveranderende siektes: Ds Lisa-Mari Prinsloo was die inleier. Die emosionele uitdagings van depressie en trauma was die fokus. Wat uit die sessie na vore gekom het, is dat dit nie saak maak wat iemand oorgekom het nie, dit kán ontlont en hanteer word. Daar is altyd hoop.

Afhanklikheid: Ds Quinten Schimper was die inleier. Die effek van verslawing is ondersoek – veral die ondersteuning aan die familie van die verslaafde is belangrik.

Mense met gestremdhede: Ds Errol Sheppard het die sessie gefasiliteer. Mense met gestremdhede se uitdagings was die fokus, en die groot waarheid is dat hulle ten spyte van hul gestremdheid steeds ’n vol lewe kan lei. Wat belangrik is, is dat elke mens – ongeag wie hy of sy is – menswaardig behandel moet word.

Bejaardesorg: Ds Louw van der Linde het die uitdagings van ouer wordende persone beklemtoon. Die uitdagings van ouer persone en hul familie is bespreek. Die bekostigbaarheid van bejaardesorg is ’n groter wordende uitdaging. ’n Boereorkes en ’n dansgroep, albei bejaarde groepe, het gewys dat ouer persone steeds ’n vol en aktiewe lewe kan lei.

Die Agtste ADV het op Vrydag 3 Mei begin met die verkiesing van die Kommissie van die ADV: Voorsitter diak Mac van Zyl; skriba diak Elmien Botha; visevoorsitter diak Andries Pretorius; viseskriba diak Dirk Stoltz; Kommissielede diak Gommie Prinsloo, ds Quinten Schimper, diak Ben van Buuren, dr Martin Jansen van Rensburg, diak Hans van der Merwe en diak Petrus Nel. Die sekunduslede is diak Jaco Viljoen, ds Frikkie van Wyk, diak Pieter Schreiber, ds Lisa-Mari Prinsloo, ds Stephen de Beer, ds Errol Sheppard, diak Jacques Roos, ds Jasper van der Westhuizen, diak Wilna Gates en diak Fanus van der Merwe.

Behalwe dat die Agtste ADV gefokus het op die diakonale werksaamhede van die NHKA in die breedste sin van die woord, met al die uitdagings en storms wat daarmee gepaard gaan, is ook gefokus op die volgende:

Besluit 86 van die 71ste AKV wat handel oor ’n gedeelde strategie vir diakonaat. Met die 72ste AKV wat later in 2019 plaasvind, gaan daar moontlik op grond van die besluit van gedeelde strategie besluit word om die diakonaat volledig deel te maak van die AKV. Dit bied heelwat voordele vir die Kerk ten opsigte van samewerking van die verskillende ampte en groter besluitnemingsvermoë. Daar is egter ook die gevaar dat die vordering wat die ADV oor jare gemaak het om die selfstandigheid van die diakonaat te vestig, tot nuut kan gaan indien nuwe diakonale strukture in die vorm van ’n Werkgroep Diakonaat of ’n soortgelyke bestuurskomitee nie in die lewe geroep word nie. Die fokus van so ’n bestuurskomitee of raad sal wees om die diakonale werksaamhede van die NHKA te koör-dineer en te bestuur.

Daar is ook besluit dat op gemeentelike vlak gekyk moet word na ’n Gemeentelike Diakonale Komitee (GDK) en op ringsvlak na ’n Ringsdiakonale Komitee (RDK). Sonder om terug te keer na die strukture, is ’n beroep op gemeentes en ringe gedoen om seker te maak dat die diakonale werksaamhede nie skipbreuk ly nie.

Die ADV het oor meer as 20 jaar nou saamgewerk met eers Die Ondersteuningsraad en later Rata, die NHSV, OTMT (Ons Tuis en die Monument-tehuise wat fokus op bejaardesorg), die Kinderhuise en die DPS-sisteem, asook TOIBO (Transoranje Instituut vir Buitengewone Onderwys). In samewerking met die diensorgane, het die diakonaat van die Hervormde Kerk oor baie jare ’n verskil gemaak in die lewens van baie mense.

Tydens die sitting van die Agtste ADV was diak Hans Janse van Rensburg baie ernstig siek. Hy is oorlede net na afloop van die ADV. Hy was vir baie jare betrokke by die diakonaat binne en buite die Hervormde Kerk. Hy het hom veral toegespits op armoedeverligting en was aan die stuur van Doulos Armoedeverligting. Die Hervomde Kerk betuig haar meelewing met sy familie.

(Dr Martin Jansen van Rensburg is ’n lid van die Kommissie van die ADV en leraar in Gemeente Delmas)

 

Ds Naas en Annette Lombard

Dr Martin Jansen van Rensburg

Van links na regs: Diak Elmien Botha; diak Anita Joubert; mev Petro Robertson

Share via
Copy link
Powered by Social Snap