Op verskillende plekke in die Bybel lees ons van die vreugde waarmee gelowiges vervul is. Dink maar net aan Psalm 16: 11: U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap; en Psalm 30: 12: Ek was in rou, maar U het my van vreugde laat dans.

Nie net Dawid kan oor sy vreugde getuig nie – elke gelowige kan dit doen. Ons kan selfs beweer dat vreugde een van die kenmerke van ’n Christelike lewe is. Ons besef selde dat die Christelike godsdiens ’n godsdiens van vreugde is. In die kerk gaan dit oor die geluk om mens te wees – mens te wees binne die kragveld van die liefde van God in Jesus Christus. Wanneer ons deur die Doop in die kerk opgeneem word, is daar vreugde by die hele familie en gemeente. Die aflegging van geloofsbelydenis is ook ’n vreugdevolle geleentheid aangesien jongmense besluit het om die toekoms met hul familie en kerkgenote te deel. Selfs ’n begrafnis staan, te midde van die hartseer, in die teken van die opstandingsvreugde.

Die vreugdevolheid van die Christelike lewe mond uit in die feeste van die kerk. Ons vier Kersfees en Paasfees. Ons vier die daar-wees en die hier-wees van die drie-enige God en ons vier die teenwoordigheid van die Here aan die Nagmaaltafel. Vanuit die perspektief van ons voortdurende feesvierings kan gesê word dat geloof vreugde aan die lewende God, liefde vreugde aan ’n God-vervulde lewe en hoop ’n vreugdevolle verwagting op die toekomstige wêreld van God is.

Ons kom die vreugde oor die liefde van God in Christus teë in verskillende gedeeltes in die Bybel. Maria sing in Lukas 1: 46 in vreugde oor die grootheid van die Here en juig oor God, haar Verlosser. Die engele verkondig in Lukas 2: 10 aan die skaapwagters die groot vreugde van die geboorte van die Heiland. Kerke buite die Westerse Christendom verstaan hierdie vreugde méér radikaal as ons. Die Oosterse Christendom interpreteer die geboorteplek van Jesus nie as ’n mensgemaakte stal nie, maar as ’n Godgegewe spelonk. Agter hierdie uitleg lê die oortuiging dat Jesus se geboorte te make het met God wat vreugde vind in gemeenskap met mense en nie met God se reaksie op die sonde nie. Wanneer vreugde vanuit God se wil verstaan word, kan makliker gesê word vreugde is die krag om te lewe en bemagtiging om lief te hê, en dat dít die lus wek om skeppend nuut te begin.

God se vreugde

Dit is ’n Bybelse gedagte om menslike vreugde in God se vreugde te begrond. Alreeds in die Ou Testament, in Sefanja 3: 17, lees ons: Die Here jou God is by jou… Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou… Hierdie motief vind ons radikaler uitgewerk in die Nuwe Testament. Hier kry ons te make met die vreugde van die soekende en vindende God en die vreugde van diegene wat die geskenkte liefde en genade van God aanvaar. Wanneer die Nuwe Testament noukeurig gelees word, besef ’n mens dat vreugde oorspronkliker as lofprysing (doksologie) is. Voordat ons loof en prys, is daar vreugde oor die geskenkte liefde van God, en God verheug Hom dat sy skepsels vreugde ervaar oor die genade van sy liefde.

Lof volg duidelik op die vreugde – iets wat nie deur diegene wat aanhoudend aandring op lofprysingseredienste begryp word nie. Die drie gelykenisse in Lukas 15: 1-32 verduidelik hierdie betoog. Daar is telkens vreugde dat iets gevind is en daar is vreugde in die hemel oor elkeen wat hom bekeer (Luk 15: 7-10). Ons kan sê dat hierdie gelykenisse oor die vindvreugde van God handel (Luk 15: 20, 24) en dat die vreugdevolle God vreugde in ons lewens wil sien. Die probleem, egter, is dat ons nie vreugde wil deel nie, en veral nie in ander se vreugde wil deel nie. Ons kan simpatie betoon, en selfs saam met ander ly, maar ons kan nie in hul vreugde deel nie aangesien ons te inhalig en nydig is (Luk 15: 32). Volgens Paulus verwag die Here van ons om in die kerk medewerkers te wees om ander se vreugde te bevorder (2 Kor 1: 24) – ’n uitdaging wat nogal moeilik is vir ons as selfbehepte mense.

Vreugde en plesierigheid

Dit is belangrik om te besef dat daar ’n groot verskil is tussen vreugde en plesierigheid (joy and fun). Ons leef in ’n “plesiergemeenskap”. Mense hou graag partytjie met harde musiek. Mense wil hulself nie hoor dink nie en nie na ander luister nie. Elkeen moet slegs besig wees met sy eie drome, wense en verbeelding. Één partytjie bevredig egter nie. Mense soek na meer en meer plesier – ook in die kerk. Die lewe moet ’n partytjie sonder einde wees, en niemand moet hierdie partytjie bederf nie – al bevredig dit nie werklik nie. Só kan ons tog nie lewe nie, en daarom nooi ons mense uit om egte vreugde in die geloof te vind. Plesier is ’n oppervlakkige belewenis en lewensgevoel; vreugde, daarenteen, is aanhoudend en standhoudend en vorm ’n hele lewensinstelling. Vreugde vul die tyd, terwyl plesier kortstondig is en blote tyd-verdryf. Die diepste rede en motief agter die partytjiekultuur is verveeldheid, gebore uit ’n bepaalde veragting van die lewe. Christelike vreugde bevry ons van verveeldheid en ’n weghardloop van die lewe aangesien ons vreugde vind in God en ons naaste. Wanneer ons besig is met God en ons naaste, is daar nie tyd vir verveling nie, maar leef ons vervulde lewens.  

Vreugde en lyding

Ons weet dat die lewe baie hartseer, smart en tragiek oplewer. Talle mense worstel daarmee om die boodskap van vreugde met hul bestaan van hartseer en lyding te versoen. Daar word gesukkel om hulle met die woorde van Jesaja 35: 10 te vereenselwig: Dié wat deur die Here verlos is… sal juigend in Sion aankom… hulle sal vol vreugde en blydskap wees; ellende en smart sal verdwyn.

Daar is vanuit die Bybel minstens twee perspektiewe op hierdie aangeleentheid wat waardevol is. Die eerste het met Paulus se logika van “hoeveel-te-meer” te make. In Romeine 5: 20 en 8: 34 lees ons van hierdie argument. Hoe meer die sonde, hoe meer raak die genade. Christus moes aan ’n kruis sterf, maar meer nog, Hy het die dood oorwin. Met hierdie argument word die onvolmaaktheid, lyding en swaarkry nie weggepraat nie, maar dít is nie al nie. Daar is méér te sê oor die lewe en oor God, en dit wat méér gesê kan word, is die rede agter die vreugde.

Die tweede perspektief het met die Christelike liefde te make. Die liefde stel jou in staat om te treur oor ons ellendige bestaan en om verslae te wees oor die tragiek van die lewe. Die liefde verhoed jou egter om terug te trek; dit keer ’n verlies aan belangstelling en skep die wil om te lewe. Aanhoudende liefde is egter net moontlik wanneer dit put uit die vreugde van die evangelie. Wanneer die vreugde oorsprong en eindpunt van ons lewe is, wanneer dit in die kruis van die lewe die begin van die nuwe lewe laat sien, kan ons diegene om ons bly liefhê – die voorwaarde om belangstelling in die lewe te behou. Wanneer daar belangstelling is – belangstelling in die lewe – kan daar sprake van liefde wees. Moet dus nie eens probeer om “diens te lewer in die wêreld” as daar nie belangstelling in die evangelie en die kerk is nie. Agter die gebrek aan belangstelling skuil die vreugdeloosheid – maar gelukkig kan daar aan vreugdeloosheid iets gedoen word. Wat gedoen kan word, is om te glo in die vreugde wat die evangelie bied.

(Hierdie artikel het verskyn in die September 2015-uitgawe van Konteks, in die rubriek Aspekte van die Christelike lewe)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap