Ek sal jubel oor u genade

U verlossingswerk, o God, is oneindig groot; groot is die dinge wat U gedoen het! Wie is soos U, o God? U het talle benoude ervaringe oor my gebring, maar elke keer weer my lewe gered, my elke keer weer weggeruk uit die mag van die dood. … Ek sal jubel as ek tot u eer sing, omdat U my gered het. Ek sal die hele dag deur praat van u verlossingswerk… (Psalm 71: 19, 20, 23 en 24, AFR1983)

Gun my dat ek vir die geslagte
voortdurend kan vertel
van u verlossingswerk.
Groot is u dade en oneindig
die werk wat U gedoen het.
God, U het geen gelyke.

Ek sal U loof om u getrouheid.
Herstel my in my eer
dat ek ú eer besing.
Oor U sal ek dan juig en jubel
omdat U my gered het,
my God, getrou en heilig.

(TT Cloete,
Psalm 71: 8 en 10, Liedboek van die Kerk)