Hulle het aan Hom hulde bewys
Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. En omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie na Herodes terug te gaan nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land toe teruggegaan. (Matteus 2: 9-12, AFR1083)
Wyses het u ster gesien;
self gegaan om U te dien.
Aan U het hul eer betuig,
by die krip hul neergebuig.
U, ons ster, ons lig, o Heer,
maak ons wys, laat ons U eer.
Jesus, U aan God gelyk,
U kom na die menseryk.
U die Heer, het niks ontsien –
U word kneg, U kom ons dien.
Gee aan ons dieselfde gees
om tot diens bereid te wees.
(Andries Breytenbach,
Gesang 376: 1-2, Liedboek van die Kerk)
