Ek is die Here

Ek is die Here, daar is geen ander nie. Ek maak die lig en skep die donker; Ek gee voorspoed en skep rampspoed. Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge. Laat die reën uitsak, hemel, laat redding reën, wolke, breek oop, aarde, laat voorspoed ontkiem, laat trou uitspruit. Ek is die Here, Ek skep hierdie dinge. (Jesaja 45: 6b-8, AFR1983)

Ons Vader, alles in die lewe
het deur u wil tot stand gekom.
U Gees het oor die vloed geswewe –
die aarde is u eiendom.
U’t lig geskep naas duisternis,
naas nag ’n dag wat helder is.
Met see en silwer waterstrome,
met dal, gebergte en rivier,
met stapelwolke, blomme, bome
het U u handewerk versier:
U’t gras geskep, U is die bron
van elke ster, die maan, die son.
U hande skep die weerligstrale,
die donderwolk wat water dra:
U bring die storms oor velde en dale
en skenk die kalmte ook daarna.
U het die diere bly laat juig;
die reënboog teen die lug laat buig.

(Ina Rousseau,
Gesang 459: 1-3, Liedboek van die Kerk)