Jesus loop op die see

Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is ’n spook. Hulle het hard geskreeu, want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan… (Markus 6: 47-51)

Ek het, toe wilde storms gewoed het,
diep onder, vaste rots gevind.
Die woord wat my van ramp behoed het:
God is my Vader; ek sy kind.
My anker is dáár vasgemaak
– ek glo! – niks sal dit los laat raak.

Dié vastigheid het die Getroue,
my Heiland, met sy dood gelê.
Ek is Gods kind en in vertroue
kan ek dit glo; sal ek dit sê.
Al kom daar onweerswolke aan,
die woord is vas: Die rots bly staan.

(Izak de Villiers,
Gesang 501: 1-2, Liedboek van die Kerk)