Die 41ste Algemene Kerkvergadering (AKV) het in 1925 geklink deur harde stemme, met ink op papier sonder enige inligtingstegnologie. Met die 74ste AKV in 2025 is ’n vergadering ondenkbaar sonder skootrekenaars, grootskerms, slimfone, klankstelsels en IT-kundiges.

1925 was ’n ander wêreld: Generaal JBM Hertzog was die Unie van SA se eerste NP-premier. Die Krugerstandbeeld is verskuif van Prinsepark na die plein voor die Pretoria-spoorwegstasie. George V en Mary was ons Britse koning en koningin. Dit was die roaring twenties met jazz en die stomfilms van Charlie Chaplin. Vroue begin korter rokke dra met bob-hare, en mans dra nou fedora-hoede. Met ponde, sjielings en pennies is vanaf 13 Junie goedkoper vakansie-treinkaartjies gekoop om by die AKV te kom. In die stad kon ’n trem jou by jou hotel of losieshuis en die vergaderplek op- en aflaai. Die Residentie Hotel, Eendracht Losieshuis en ander is aanbeveel in De Hervormer. Etes is by die verblyfplekke genuttig. Afgevaardigdes is aangeraai om vroegtydig losies te bespreek omdat die Prins van Wallis op 19 en 20 Junie die stad besoek en ’n toestroming van mense verwag word. Juis hierdie besoek word toe ter vergadering ’n warm besprekingspunt. Uiteindelik is besluit dat die vergadering Vrydag die oggendsessie af kry om die toekomstige Edward VIII te gaan bekyk. 16 teenstemme is aangeteken. Die voorsitter is toestemming verleen om ’n eetmaal vir die prins op die Saterdag by te woon.

Vanjaar word gereed gemaak om 350 afgevaardigdes te ontvang in Midstream, suid van die stad. 1925 se AKV was die grootste sedert die eerste in 1853: 129 lede waaronder 20 predikante en twee hooggeleerde professors van TUK. Elke gemeente kon twee ouderlinge en een diaken stuur; verkieslik persone wat tot aan die einde kon bly en oor genoeg fondse kon beskik vir verblyf. Stemme het toe alreeds opgegaan vir die verkleining van die AKV in die toekoms. Volle ampsgewaad vir al die dae van die vergadering is nougeset nagekom: swart manelpakke met wit strikkies, togas en beffies. Stel jou voor – net broeders, sakhorlosies, keile en swart kerkhoede. In 1925 was daar 51 gemeentes verdeel in drie ringe, te wete die Westelike, Oostelike en Noordelike ring. Die vergadering het besef hulle staan op die drumpel om in nog ringe te verdeel, want die lidmaattal groei en meer gemeentes word gestig. Vandag lyk ons situasie anders. Die sieletal was toe 42 891 en die lidmaattal 19 034, maar sommige gemeentes se statistieke het ontbreek. Vir die eerste keer was daar nou gemeentes in die Oranje-Vrystaat, Natal, Oos-Afrika, Wes-Afrika, en Rhodesië. Daar is selfs gepraat oor moontlike bediening in Argentinië. 11 studente het teologie studeer.

Die vergaderplek was Gemeente Pretoria se Du Toitstraat-kerkgebou op hul groot oop kerkplein waarvandaan afgevaardigdes die Apiesrivier kon sien sonder geboue wat die uitsig belemmer het. Die gebou was maar pas 20 jaar oud. Die ou doopvont en voorleeskateder uit daardie dae is nou in die SP Engelbrecht-museum. Die gaspredikantpaar was dr HD van Broekhuizen wat sy verjaardag gevier het op die openingsdag, en mev Ellie, gebore Eloff, ’n kleindogter van Paul Kruger. Die jonge Herman was een van die eerste rugbyspelers in ’n Suid-Afrikaanse nasionale span in 1896. In September 1925 is hy verkies tot die Volksraad. Die oue heer Petrus van der Burg was die orrelis. Ook sy rookpyp en koor-dirigeerstok word bewaar in ons Kerkmuseum. Koster PBB Schutte het ’n reuserol gespeel dat alles glad moes verloop. Sittingsure was 09:00-12:30 en 14:30-17:30; en die aand-openingserediens en een ander marathonsessie tot 22:00. Tydens pouses het die Dorkasvereniging, ook genoem die ywerige Marthas, koffie en koek bedien, sonder ’n kerksaal, moontlik onder ’n tydelike bokseilafdak.

’n Maand vooraf is per pos ontvang in gedrukte vorm: een A4-bladsy agenda, vier A4-bladsye verslag van die Kommissie en beskrywingspunte. Die finansiële verslag is tydens die vergadering uitgedeel. Die hele NH Kerk is gevra om die Sondag voor die AKV ’n dag van gebed vír die AKV te hou.

Om 09:00 Woensdag 17 Junie begin die AKV met die sing van Psalm 68, Skriflesing Psalm 90, en gebed deur die uittredende voorsitter ds Brandt.  Geloofsbriewe (dokumente wat bewys dat die betrokke kerkraadslede amptelik gekies en gestuur is) word toe ingehandig en nagesien. Tien gemeentes het geen geloofsbriewe ingegee nie en was dus afwesig. Op Trichardtsfontein s’n het die skriba se handtekening ontbreek. Dieselfde dag (17de) is dit na die skriba gepos via die poskantoor op Kerkplein, en Saterdagoggend (20ste) is dit terugontvang (vandag vanaf Secunda se omgewing). Dit wys hoe betroubaar die posdiens was te danke aan ’n uitstekende spoorwegdiens.

Notules is in ink geskryf en daarna met tikmasjiene getik, hardop gelees tydens elke sessie én volledig gepubliseer in De Hervormer in daaropvolgende maande vanaf Desember 1925.  Vir die eerste keer is die notule naas Nederlands nou ook in Afrikaans opgeteken deur die viseskriba.

Elke afgevaardigde bring in sy handtas die Almanak, De Hervormer, die Kerkwetten en Bepalingen, sy Psalmen en Gezangenboek, Bijbel, ’n notaboek, potlood (inkpot en -pen op jou skoot sou nie deug nie!), tersaaklike dokumentasie, en genoeg kontant. ’n Voorstel dat lede gegroepeer per gemeente en dan per ring sal sit, is nie aanvaar nie. Daar is gewaarsku dat in onze kerk te veel ‘geschiemd’ en te veel kaukus gehouden word. ’n Onopregte geknoei en ’n opposisiegees – veral tussen Hollander en Afrikaner – kon deur sulke teenoorstellende sitplekke versterk word.

Die openingsrede deur die hoogeerwaarde voorsitter was hê mekaar lief. Geen eerbewyse is toegeken nie, ook geen spesiale gaste is uitgenooi nie – dit was ’n gewone kérkvergadering. Die naaste hieraan was oud-ouderling senator ADW Wolmarans met adviserende stem en emeritus CW du Toit (83) wat ter vergadering verwelkom is. Aan ds Begeman wat pas die 15de 94 geword het, is goeie wense tuis oorgebring. Die oudste lid van die vergadering, ds Van Belkum (74), is heel aan die einde van die vergadering die seënbede uit Psalm 134 toegesing. Die jongste lede was die Dreyer-tweeling Johannes en Theuns (26 jaar oud). Prof SP Engelbrecht (34) is aangewys as argivaris vir die Kerkargief gehuisves in die Uniegebou. Op 30 Junie is sy seun Gerhardus gebore. Mnr HJLT Roorda is nou vas aangestel as administrateur van die NHK – nie meer net ’n driejaarlikse benoeming nie.

Die Kommissie was: ds Louis E Brandt (Vereeniging/Heilbron) herkies as voorsitter (tydperk voorsitter 1916-1937), met ds Simon Vermooten as sekundus. Ds Adriaan J Barger (Middelburg) as skriba (tydperk skriba 1922-1937), met ds Daniël F Erasmus as sekundus. Dinsdagmiddag 23 Junie het Munro Studios die vergadering se groepsportret kom kiek. ’n Uitstappie deur ’n groot groep afgevaardigdes die Sondag na die Hartbeespoortdam het die oë laat rek oor Sabbatsontheiliging.

Rondvraag om te hoor of iemand nog iets op die hart het, was nog aan die heel einde deel van die agenda. Slegs 63 uit 129 lede was bittereinders; 49 was afwesig met verlof. Afsluiting Saterdagnamiddag 27 Junie, die tiende dag, was ’n slotgebed en seën uitgespreek deur die voorsitter. Vanjaar duur die AKV net  vier en ’n half dae. Die ou mense sou vreemd gevoel het op ons 74ste AKV – ons ook op hul 41ste. Maar ons vergader steeds oor ons Kerk.

(Hooffoto: Ds LE Brandt, Ds AJ Barger en Mnr HJLT Roorda)

(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)