1 Petrus 3: 13-22

In die Nuwe Testamentiese tyd moes iemand wat die Joodse godsdiens wou aanneem, eers besny word en dan is die proseliet gedoop. Die doop was ’n inlywingsritueel wat die oorgang van die dood na die lewe uitgedruk het. So het die proseliet van Israel deel van die verbondsvolk geword.

Die doop as ritueel was dus reeds bekend toe Jesus gedoop is. Net voor sy hemelvaart gee Hy dan ook aan die dissipels die opdrag om mense wat tot bekering gekom het, te doop. In die Skrifgedeelte wat ons uit die Eerste Brief van Petrus gelees het, skryf Petrus oor die doop, maar dan teen die agtergrond van die vervolging en lyding van Christene. Petrus berei die Christene voor om in ’n wêreld van vervolging en lyding te leef. Gelowiges moet onthou dat Christus gely het en dié wat Hom volg en dien ook sal ly, maar die helse lyding wat Hy beleef het, sal ons nooit beleef nie. 

Die grootste behoefte van die mensdom destyds en vandag is om lank en in gemak te leef. Tog is die mens se grootste nood ons sonde – sonde teenoor God self en die mense rondom ons. Die sonde skei ons van God en lei na die hel waar die mens vir ewig buite of sonder die teenwoordigheid van God sal moet bestaan.

Die Jode, maar ook die Grieke en die Romeine, moes gedurig offers bring en tog kon die offers nooit hul sondeskuld betaal nie en dus het die oordeel van God altyd vir hulle gewag. Jesus Christus bring die volkome en finale offer vir die sonde van diegene wat in Hom glo.

Petrus herinner die lesers aan die sondvloed. Die Here het geen ander keuse gehad as om die mensdom uit te wis nie. Tog was daar een man en sy gesin wat met eerbied vir en gehoorsaam aan God geleef het. Hierdie man was Noag. Agt mense word gered en die ark hou hulle veilig terwyl die water die aarde verswelg. Daarom is die oudste doopkapelle agtkantig gebou. Dit herinner my weer aan die agtkantige doopvont wat in die katakombes onder die stad Rome te siene is. Daar waar Christene tydens die vervolging onder die stad gewoon het.

Die vloedwaters laat Petrus aan die doop dink, maar die vloedwaters is hier die antitipe vir die doop. Alhoewel die onderdompeling wel die vuilheid van die liggaam van die mens afwas, is dit nie die water wat die mens se sonde afwas nie. Die water is die teken wat ons herinner dat ons sondes en sondeskuld deur die bloed van Christus aan die kruis gereinig word. Daarom maak die hoeveelheid water ook nie saak nie. Die doop is ook die seël, die waarborg van God dat die dopeling ook deel van sy nuwe verbondsvolk word. Gaan lees gerus weer die doopformulier om te hoor wat die Drie-enige God met die doop aan die dopeling beloof.

In Handelinge 2 lees ons Petrus se preek op Pinkster net ná die uitstorting van die Heilige Gees. Die mense is diep getref en vra toe vir Petrus en die ander apostels: Wat moet ons nou doen, broers? Die antwoord ken ons ook: Bekeer julle en laat julle gedoop word en julle sal die Heilige Gees ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.

Op ander plekke in die Nuwe Testament lees ons dat mense tot bekering kom en hul hele huis gedoop word, hul kinders en selfs hul slawe.

Dié wat gedoop is, sal nooit voor die regterstoel van God verskyn nie en daarom herinner die doop elke gelowige dat hy of sy aan God behoort en dit roep ons op om met nuwe krag en gehoorsaam aan God, aan Christus te leef.

Die doop is ons waarborg dat Christus die Oorwinnaar is en die getroue gelowige sal in alle omstandighede ook in Christus se oorwinning deel.

Amen.