Tydens die 72ste Algemene Kerkvergadering (AKV) is gevolg gegee aan die moontlikheid dat bestaande ringe oorweeg om met naburige ringe saam te smelt in ’n poging om die funksionering van ringe te verhoog. Die besluit na aanleiding van Beskrywingspunt 29 was: Die AKV gee opdrag aan die Kommissie van die AKV om, in oorleg met ringsvergaderings, ’n herindeling van ringe in die Kerk te maak.
In sommige ringe in stede soos Pretoria is dit dalk minder noodsaaklik omdat daar steeds voldoende gemeentes en ampsdraers is wat die effektiwiteit van ringswerksaamhede handhaaf. In plattelandse gebiede, egter, het sommige ringe sodanig verklein dat die normale werksaamhede eie aan ringe onder druk gekom het.
Laat ons maar met mekaar eerlik wees en vra hoe effektief ringe in die Kerk oor jare gefunksioneer het. Vergaderings van die ampte in die Kerk is nie hiërargies opgestel nie, wat daarop neerkom dat die AKV (en sy Kommissie) nie ’n hoër vergadering is as ’n ringsvergadering nie. Elke vergadering se samestelling, werkopdrag en werkwyse is kerkordelik vasgestel en funksioneer op voetspoor van die Woord onder leiding van die Heilige Gees. Daarom is die opening en afsluiting nie kosmeties of uit gewoonte nie, maar ’n biddende pleidooi van ’n Kerk in diens van die Heer van die kerk, Jesus Christus (Ef 1: 22-23).
Ervaring in die Kerk is nie alles nie, maar dikwels besonder handig. Daarom kan dalk ietwat sinies opgemerk word dat oor jare die indruk ontstaan het dat die een vergadering maar soos die ander is en die probleme in die betrokke ring van verlede jaar vanjaar nog daar is, maar dat getroos huis toe gegaan kan word nadat die vergadering verdaag het, met die oortuiging dat Pretoria die antwoorde sal verskaf of die spreekwoordelike haas uit die hoed sal haal.
Groter effektiwiteit van ringsvergaderings kan hopelik dié impasse deurbreek sodat rotasie tot sy reg sal kom en groter betrokkenheid bewerkstellig kan word, in die vorm van visitasiekommissies en ringskomitees. Groter afstande wat dalk na die ringsvergadering afgelê moet word, kan ondervang word deur jaarliks op ’n sentrale punt te vergader.
Dit is ook nodig om vir mekaar te sê dat hoedanig ringe saamgestel is al dan nie, wat die kerkordelike inhoud is van hoe die Kerk meen kerklike dienswerk op ringsvlak moet gebeur, alles staan of val by ampsdraers en lidmate wat uitvoering aan kerklike dienswerk moet gee. Vergaderings en bykomende vergaderings is slegs om die Kerk se werk beter te doen en mekaar te bemoedig en by te staan, omdat uitdagings in die buurgemeente dikwels ook in die eie gemeente ter sprake kom en die hoof gebied moet word. Daarom is die Kerk daar waar die Woord verkondig en die sakramente bedien word. Meer nog, daar waar gelowiges die indruk kry dat hulle deel is van die kudde en derhalwe vir mekaar omgee in die belewenis dat Christus in hul midde is.
Die herder-kudde-model vir kerkwees het nie uitgedien geraak nie, inteendeel. Maar die herder-kudde-model is nie gelyk aan wat genoem kan word ’n konsertmodel nie, waar lidmate kerk toe gaan of nie, sonder enige pastorale navraag en bemoediging, en waar hulle onaktiewe toeskouers geraak het. Dit verwoord onbetrokkenheid en vereng tot ’n kerk vir elkeen wat wil. Dit is ook nie gelyk aan ’n ambulansmodel waar die dooies begrawe en siekes vertroos word en die res met rus gelaat word nie. Die herder-kudde-model het nie uitgedien geraak nie, want die Herder ter sprake is die goeie herder wat selfs sy lewe aflê vir die skape (Joh 10: 11), wat óók gesê het: Gaan doen jý ook so (Luk 10: 37). Dit is waarom dienswerk beklemtoon word tot singewing van kerkordelike verwagting in die lig van die Woord.
Die besluit van die AKV verdien om oorweeg en uitgevoer te word. Dit is eintlik ’n eenvoudige kerkordelike proses wat op een dag afgehandel kan word. Die betrokke ringe wat samesmelting oorweeg, se ringskommissies kan vooraf oorleg met mekaar pleeg om te beplan hoe uitvoering aan die saak gegee kan word. Die betrokke ringe wat samesmelting oorweeg, kom op een dag byeen waartydens gesamentlik geopen en die aanwesiges welkom geheet word. Daarna verdeel die gesamentlike vergadering in die bestaande ringsvergaderings waartydens onder leiding van die uittredende ringskommissie, die bestaande voorsitter en skriba, die geloofsbriewe behandel word om uit te maak wie ter vergadering is, wat belangrik is vir die konstituering van die saamgevoegde vergadering. Daarnaas word ook die ringsverslag van die uittredende ringskommissie behandel. Dan word die besluit geneem dat die betrokke ring saamsmelt met die ander ringe ter sprake en teenwoordig, om ’n saamgevoegde ringsvergadering te vorm. Hierna kom al die aanwesiges byeen en konstitueer as ’n saamgevoegde ringsvergadering. Na afloop daarvan gaan die vergadering voort met die normale werksaamhede eie aan ringsvergaderings.
Die Kommissie van die AKV het in ’n skrywe gedateer 23 April 2020 die aangeleentheid verder gemotiveer as ’n poging om meer werkkragte in ringe te konsolideer, goeie leierskap in elke ring te verseker, ’n daadwerklike verskil te maak in die gemeenskap, en waar moontlik meer koste-effektief te werk.
Die mening word hiermee geboekstaaf dat ringe ernstig aandag behoort te gee aan die voorgestelde samevoeging van ringe as ’n poging om ’n bepaalde verstardheid wat in ringe merkbaar is, te deurbreek. Dit is veral bruikbaar om breër na die saak te kyk as bloot dat ’n saamgestelde ring ’n groter geografiese gebied beslaan en dalk soms by geleentheid ietwat verder gereis moet word. Laasgenoemde sou dalk honderd jaar gelede verswarend gewees het, maar word hedendaags deur gerieflike vervoer en moderne kommunikasiemodelle aansienlik vergemaklik. Die Kerk as geheel funksioneer landwyd en oor landsgrense heen ten spyte van afstand.
Daar is ook ’n verdere perspektief wat aandag verdien en eintlik ’n ou debat is. Dit is naamlik die aangeleentheid rondom ’n verkleinde AKV, wat jare gelede reeds ter tafel gekom het maar telkens afgewys is, en die keuse vir ’n sogenaamde kerkraadsinode gehandhaaf is tot op datum. Dit beteken dat elke kerkraad ampsdraers afvaardig na die AKV en nie soos by die diakonaat nie waar afgevaardigdes na die Algemene Diakensvergadering deur die ringsvergadering afgevaardig word, wat as ’n trapsgewyse wyse van afvaardiging bekend staan.
Die moontlikheid bestaan dat groter ringsvergaderings die proses kan vooruitloop om opnuut aandag te gee aan die verkleining van die AKV, wat by implikasie daarop neerkom dat ringe omvorm tot vergaderings wat ’n groter verantwoordelikheid dra in die besluitneming van die Kerk. Die werkopdrag van die AKV volgens die Kerkorde, Ordinansie 4.4.3 (ii), bestaan daarin om besluite oor die leer en belydenis, liturgie en vasstelling en uitvoering van die Kerkorde te neem. Dit is gelyk aan die tradisionele drieslag eie aan die agenda van sinodale vergaderings, naamlik belydenis, liturgie en die kerkorde. Maar, in wese het dit oor jare daarop uitgeloop dat die AKV ’n sinodale vergadering geword het wat oor alles besluite neem, wat onbedoeld daarop uitgeloop het dat van Pretoria, van die Kommissie van die AKV, groter verwagtinge gestel is as wat kerkregtelik nodig is. Dit is veral aangehelp deur die nie-roterende voorsitter van die AKV, gegrond op die besondere charisma van die dienende voorsitter wat vir sommige belangrik is.
Hierdie is ’n persoonlike mening gegrond op die praktyk, maar kerkordelik geweeg as ’n hermeneutiese appèl om kerk van die Woord te wees.
(Dr Barry van Wyk, emeritus, is leraar in Rust der Winter, Waterberg en Zoutpansberg)
