Lees Genesis 2: 8 en 3: 24; Jesaja 41: 2-4; Matteus 2: 1-2; Openbaring 22: 16
Toe ek nog ’n kind was in Gemeente Piet Retief, het van die dominees wat daar kom preek het, genoem dat die evangelie soos ’n goue draad deur die Bybel loop. ’n Klompie jare gelede lees ek in ’n teologiese boek ’n opmerking oor die ooste. Hierdie opmerkings het my aandag getrek, en ek het besluit om meer daaroor uit te vind.
Dit het my by Genesis 2: 8 gebring: Die Here God het toe ’n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon (AFR1983). Ons moet besef dat hierdie tuin God se tuin is en dat Hy toelaat dat die mens daar mag woon. Wat God skep of aanlê, behoort aan Hom.
Hierdie is ’n teks met besondere betekenis. Om iets aan te lê, beteken om behuising te verskaf, ’n woonplek daar te stel. Wat egter baie belangrik is, is wáár hierdie woonplek is. Vir baie lank het ek (ons?) gereken dat Eden iewers in Israel of in een van die buurlande is – vandag se Iran, Irak of selfs Turkye. Maar die raaisel word vir ons opgelos as ons kyk wat die woord ooste in die oorspronklike taal beteken, naamlik vanuit die voorkant.
Ons het hier te doen met die Israeliete se rigting van oriëntasie. Hulle kyk ooswaarts, na daar waar die son opkom, waar die nuwe dag verskyn, waar die toekoms lê én waar die lig en die lewe is. Die lewensruimte wat God verskaf, is dus nie eerstens ’n aardse plek nie, maar daar waar die lewe is, en dit is by God wat die ware lewe is en skep. Eden is God se hemelryk. Dit sal dus niks help om Eden iewers op aarde te gaan soek nie, ons kry en betree dit elders. Waar en hoe, sal later blyk.
Vanweë die sondeval het God hierdie lewensruimte gesluit met ’n gerub (engel), wat die toegang aan die oostekant bewaak. Maar in sy groot genade bly God getrou aan sy heilsplan met die sondaarmens: Hy sluit ’n verbond, bly betrokke by sy volk Israel dwarsdeur hul geskiedenis. In die Psalms hoor ons hoe gelowiges hul vertroue en afhanklikheid van die Here bely, hul nood bekla en lof aan God besing, en hoe Hy hulle verhoor.
Treffend kom God se ontferming oor sy volk na vore in Jesaja 41: 2-4: Wie is dit wat hom uit die ooste laat opstaan het…? Die “hom” is koning Kores van Persië wat die Babiloniërs verslaan het. En die “Wie” is God self wat hier handel om Israel uit die Babiloniese ballingskap te verlos. So bring God uit die ooste redding vir sy volk om terug te keer na Jerusalem en die land van hul tuiste, Israel.
Die tema van die ooste en God wat reddend handel, spoel oor na die Nuwe Testament as ons in Matteus 2: 1 lees: …daar het sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom… En verder: …ons het sy ster sien opkom…
Die Seun van God het gekom om sondaars uit die doodse donker van sonde te verlos, en na die ewige lig van God se hemelryk te lei. Hy, die helder Morestêr (Op 22: 16), wat in die ooste verskyn, het Edenspoort weer oop laat gaan.
Dit is opvallend dat telkens as die ooste ter sprake is, dit gaan oor God en sy reddende genade vir sondaarmense soos ons. Dit is die goue draad van die evangelie wat dwarsdeur die Bybel loop en wat steeds met oortuiging verkondig moet word.
Die Seun van God, Jesus Christus, het die ewige lewensruimte by God weer toeganklik gemaak vir elkeen wat in Hom glo en Hom met dankbaarheid dien. Daar is nie ’n ander evangelie nie, en nie ’n ander weg tot God se hemelryk nie. Jesus Christus, die helder Môrester, is die enigste Weg, die Waarheid en die Lewe. Ons wag met verlange dat die Môrester gou sal verskyn.
