Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) het tydens die 74ste Algemene Kerkvergadering (AKV) op 9 Oktober 2025 die saak van teologiese opleiding ter tafel gelê. Tydens die 73ste AKV in 2022 is die Kuratorium getaak om die moontlikheid van die verkorting van teologiese opleiding te ondersoek.

Die voorstel wat gedien en deur die AKV goedgekeur is, vereis ’n vierjarige kwalifikasie in teologie, Grieks en Hebreeus op minstens tweedejaarsvlak, asook die voorgeskrewe aantal voorgraadse modules aan die Hervormde Teologiese Kollege (HTK). Dit wysig die vorige verloop van teologiese opleiding wat ook ’n meestersgraad vereis het, naamlik ’n MDiv. Sien aangeheg die formele verwoording van hierdie besluit:

BESKRYWINGSPUNT 18: KURATORIUMVERKORTING VAN STUDIEJARE VIR TEOLOGIESE OPLEIDING

Na aanleiding van die versoek deur verskeie vergaderings om ondersoek in te stel na ’n verkorte teologiese opleiding, stel die Kuratorium die volgende beskrywingspunt voor:

  1. Die AKV besluit dat teologiestudente van die Kerk minstens ’n vierjarige kwalifikasie in teologie verwerf; met Grieks en Hebreeus op minstens tweedejaarsvlak; asook die voorgeskrewe aantal voorgraadse modules aan die HTK.
  2. Die AKV gee opdrag dat die HTK ’n beroepsgerigte Lisensiaat in Teologie ontwikkel wat as voorvereiste gestel word om as predikant van die NHKA georden te word.
  3. Die AKV verwag van teologiestudente wat tot die lisensiaat toegelaat is, om vir die tydperk van die lisensiaat in ’n gemeente onder toesig van ’n mentorpredikant te werk.
  4. Ná afhandeling van die Lisensiaat in Teologie en die dienstydperk in ’n gemeente kwalifiseer studente om deur die proponentseksamenkommissie geëksamineer te word.
  5. Die HTK kry opdrag om studente tydens hul voorgraadse studies grondig voor te berei vir bediening in gemeentes.
  6. Wysigings word in Ordinansie 3.2.1 van die Kerkorde gemaak om soos volg te lees: Opleiding en vorming van predikante: Voornemende predikante van die Kerk word in goedgekeurde kursusse aan ’n universiteit of ’n tersiêre instelling wat deur die Kuratorium goedgekeur word, opgelei, in samewerking met die Hervormde Teologiese Kollege.