Die konsep pay it forward kom van die vroegste tye af en ons vind dit in die antieke letterkunde reeds vanaf die Griekse komedies tot by briewe van Benjamin Franklin.
Ralph Waldo Emerson het die teorie hiervan ontwikkel in die artikel Compensation wat hy in 1841 geskryf het: In the order of nature we cannot render benefits to those from whom we receive them, or only seldom. But the benefit we receive must be rendered again, line for line, deed for deed, cent for cent, to somebody.
Die persoon wat die frase pay it forward waarskynlik die eerste keer gebruik het, was die skrywer Lily Hardy Hammond in 1916 in haar boek In the Garden of Delight waar sy skryf: You don’t pay love back; you pay it forward.
Die wetenskapfiksieskrywer Robert Heinlein kry krediet vir die term pay it forward deur die term in sy boek Between Planets in 1951 te gebruik. Hy stig latere jare die menseregte-organisasie die Heinlein Society, wat bekend gestaan het vir die pay it forward-filosofie – om ander mense te leer hoe om dit te doen.
Die frase het in 1999 ’n bekroonde boek Pay It Forward tot gevolg gehad, geskryf deur Catherine Ryan Hyde, wat ’n jong protagonis uitbeeld wat ’n pay it forward campaign op skool van stapel stuur. Dieselfde skrywer stig die Pay It Forward Foundation wat daarop ingestel is om verskeie goeie dade rondom die wêreld verder te versprei.
Haar boek word aangepas vir die bekende film Pay It Forward in 2000, wat verder help om die frase ’n huishoudelike naam te maak. Elke jaar op 28 April sedert 2007 staan die dag amptelik bekend as Pay It Forward Day.
Die NHSV se toekenning van studielenings aan Hervormde studente is deel van ons diensbaarheid aan ons Hervormde jeuglidmate. Alle NHSV studielenings moet terugbetaal word volgens die reëls vervat in die aansoekvorm, en die aansoekers en hul ouers/borge teken daarvoor en stem dus in om die ooreenkoms na te kom.
Ongelukkig kry ons te doen met enkele studieleninghouers en hul ouers/borge wat hierdie reëls verontagsaam en bloot weier om gehoor te gee aan die getekende ooreenkoms wat tussen hulle en die NHSV aangegaan is. Hulle stap eenvoudig weg sonder enige skuldgevoelens.
Dankbaarheid is ’n konsep wat integraal deel is van ons alledaagse lewe. Deur jou studielening terug te betaal, is jy ook deel van die pay it forward-aksie en wys dit ook jou dankbaarheid teenoor die NHSV wat jou gehelp het toe jy dit broodnodig gehad – nou is dit jou beurt as studieleninghouer om jou lening terug te betaal sodat ons ander studente soos jy kan help. Baie dankie aan die leninghouers wat getrou hul lenings afbetaal!
Ons is dankbaar vir elke gemeente wat hul deurkollekte van Sondag 12 Februarie 2023 afstaan aan die NHSV se Studieleningsfonds – julle is deel van ons diensbaarheid in die kerk en ons pay it forward-aksie.
Baie dankie aan elke NHSV tak wat jaarliks ook vir ons fondse oorbetaal vir die NHSV se Studieleningsfonds. Julle maak ons hande sterk om ons doel uit te leef om Hervormde studente te help met studielenings.
Dit is wanneer ons gee, dat ons ontvang. Mag ons diensbaarheid in die Kerk so ver strek dat die pay it forward-rimpels daarvan net wyer en wyer strek en ons medemense in nood bereik.
We make a living by what we get, but we make a life by what we give. (Winston Churchill)
(Mev Mari-lizé Beukes is voorsitter van die NHSV Hoofbestuur)