Niemand van ons weet hoeveel dae van 2023 ons gaan beleef nie. Ons tyd is nie in ons eie hande nie. God is die Beskikker van ons lewenslot. Elke dag is gawe uit sy hand en om elke dag te kán lewe, is net vanweë die genadige beskikking van die lewende God.
Ten spyte van alles wat om ons wankel en alles wat bevraagteken word en die feit dat die kerk van Jesus Christus, ook die Hervormde Kerk, met uiterste uitdagings te doen het, bly ons geborge in die hand van die lewende God. Dit beteken nié dat ons net voorspoed gaan beleef en geen moeilikhede op ons pad gaan kom nie. Dit gaan weinig help as ons paniekbevange leef en alles in ons vermoë probeer dat dit tog net beter kan gaan. Ons moet vir seker ons gawes en talente gebruik en tot eer van God lewe. Hoe hard ons ook probeer en hoeveel ons ons ook bekommer, dit gaan geen enkele uur tot ons lewe byvoeg nie (Matt 6: 25-34). Wat ewig vas en waar is, is die belofte van God dat Hy ons beskerm waar ons ook gaan, nou en vir altyd (Ps 121).
Wat elkeen van ons wél weet, is dat ons elke dag 24 uur het. Onomkeerbaar en onveranderlik bly die ure van elke dag dieselfde. Inderdaad nie deurlopend ewe veel lig en donker elke dag nie, maar elke dag 24 uur. Die uitdaging is om van elke uur eienaarskap te aanvaar en dit só te benut dat ons sinvol kan rekenskap gee van die tyd wat ons gegun is.
Dit is ook waar van ons gemeentelike en kerklike lewe. Vir baie lidmate is kerklike betrokkenheid die bywoning van die erediens op Sondag. Dit is ook nodig, maar daar is soveel meer wat u en ek, die kerk van Jesus Christus, kan doen! Geleenthede om te dien en tye wanneer ons mekaar kan ondersteun en bemoedig. Die wêreld en sy mense het dit so nodig om deur ons dade en ons woorde bekendgestel te word aan die enigste God. Die drie-enige God in Wie ons glo: Vader, Seun en Heilige Gees. Ons redding van die mag van die sonde en ons bemoediging in ’n troostelose wêreld is die kragtige evangelie: Jesus Christus is die Here!
Ons hoor en sê baie keer ons leef net een keer. Dit is waar. Maar die eintlike waarheid is dat ons net een keer sterf. Ons leef elke dag uit die genade en liefde van God. TT Cloete beskryf dit só:
Net één
Jy kry één lewe. Net één.
Versorg en koester dit,
vier dit en vind vreugde daarin.
Jy kry net één. Net één.
Neem dit van kleintyd af in vol besit.
Kweek jou eie smaak. Besin
betyds. Weet waar om op te hou.
Leef feestelik maar jy kry
net een. Vermy om blasé
te word. Leef spaarsaam. Onthou
daar’s baie soorte vraat- en vetsug
en oorgewig. Kom liefs tenger
onversadig en honger
maar voldaan terug.
U en ek het die geleentheid om van elke dag van ons lewe die beste te maak. As gelowiges het ons die verantwoordelikheid om elke dag in die voetspore van Christus te volg. Laat ons daarom vanuit ons gelowige-wees in ons daaglikse lewe voluit leef. Dikwels is ons van mening dat ons eers groot dinge moet doen om regtig ’n verskil te maak. Juis die klein dingetjies waarin ons getrou is, loop uit in die groot dade wat die Here verrig.
Om eenvoudig in ons persoonlike en huislike lewe te bou op die verhouding wat God met ons in Christus begin het, vestig die vaste fondament waarop ons die aanslae van elke dag kan trotseer. Ons daaglikse aanbidding in ons leef- en werkruimte vind hoogtepunt in die erediens op Sondag waartydens ons met die hele gemeente as geloofsfamilie in die openbaar sing en luister en aanbid. Wanneer ons gedurende die week in die wêreld leef, getuig ons lewe van afhanklikheid van en diensbaarheid aan ons hemelse Vader.
Laat ons elkeen met oorgawe in die kerk van Jesus Christus leef en werk. Ons bely en aanvaar dat die Here Self sy kerk vergader deur sy Gees en Woord en dat ons daarvan lewende lid is en ewig sal bly (Heidelbergse Kategismus Sondag 21 vraag en antwoord 54). U en ek vind ons tuis daar waar die Here ons elkeen roep en waar Hy ons elkeen in die gemeente gebruik om diensbaar te wees. 1 Korintiërs 12: 27 sê: Julle is die liggaam van Christus, en elkeen afsonderlik lid daarvan. In die gemeente vind die gelowige ’n geestelike tuiste en werk mee aan die gemeente as tuiste vir ander. Mag dit van elkeen van ons ampsdraers, lidmate en gemeentes gesê word dat ons waarlik die Here dien.
Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het tydens die bosberaad ter voorbereiding van die termyn se werksaamhede indringend gepraat oor die bou van vertroue, versterking van onderlinge geloofsbande, en dankbare diensbaarheid. Die Kommissie het die wens uitgespreek om by elke gemeente in ringsverband besoek te bring. Die boodskap is een van bemoediging en ondersteuning met die vraag: Hoe kan ons help?
Al het die jaar reeds gevorder, wens die Kommissie graag al die predikante, ampsdraers, lidmate en kinders van gemeentes, asook die personeel van die Sinodale Dienssentrum, die seën van die Here toe met al die werksaamhede. Bewus van al die uitdagings in die land en in elkeen se omgewing, is dit ons gebed en vertroue dat die Heer van die kerk ons met wysheid en insig sal seën. Mag ons elkeen ook in biddende afhanklikheid van die Here diensbaar leef: mekaar ter wille, tot eer van God en tot uitbouing van sy koninkryk.
(Ds Leon Geel sr is visevoorsitter van die Kommissie van die AKV en leraar in Gemeente Grimbeekpark)