Virtuele werklikheid is ’n nuwe bevrydende manier van bestaan. Dit was die woorde van Jaron Lanier, ’n tegnologiepionier en -denker, in 1988. Meestal word virtuele werklikheid geassosieer met die tegnologie van virtual reality soos dit ervaar kan word deur middel van kopstukke, handskoene en selfs volledige lyfpakke.

Die ervarings van virtual reality word beskryf as immersief, meesleurend, tydloos, liggaamloos. Hoe werklik is dit wat in die virtuele ervaar word? Is dit bloot net ’n simulasie van die werklikheid? Is dit bloot net ’n kunsmatige werklikheid? Val dit dalk in die beskrywing van ’n klug-werklikheid; of is “die virtuele” dalk ’n deel van dit wat ons “die werklike” noem, maar dit is nog net nie duidelik verwoord en verklaar nie? En, kan teologie enigsins iets hieruit leer?

Die oomblik wanneer ’n mens hierdie vrae opneem, ontdek jy ’n gaping in hoe daar oor die onverklaarbare gedink word. Denkers word op heelwat maniere deur die onverklaarbare gekonfronteer – dit is die onsigbare, ondefinieerbare, onbepaalbare, onbegrensbare; maar tog is dit meer as bloot verbeelding – dit dwing hardnekkig teen ’n mens aan dat dit nogtans wél bestaan – dit kan nie ontken word nie. Nou klink dit amper of ek oor geloof praat en die Heidelberger se ’n sekere kennis en ’n vaste vertroue dien as handige woorde om iets van hierdie oortuiging te verwoord. Elders in die teologie verwoord ons dit dalk as die kerklike eenheid wat sigbaar sowel as onsigbaar is; God se wese wat die gansandere is; geloof wat ’n eksistensiele ervaring is; die kerk wat in Christus is – om maar net enkele voorbeelde te noem.

Om virtualiteit te verstaan en dit binne ’n teologiese raamwerk te plaas, het ek navorsing gedoen deur dissiplines wat buite die konvensionele raamwerk van teologie val, te betrek: onder andere rekenaartegnologie, tegnologiefilosofie, kommunikasiekunde, hermeneutiek, epistemologie en metafisika. Ek meen dat virtualiteit, hetsy soos gevind in tegnologie, filosofie of teologie, aan die hand van drie konsepte verstaan kan word: aktualisering, tydruimtelike irrelevansie, en kollektiwiteit.

Aktualisering

Aanvanklik wil ’n mens die woord verwerkliking vir hierdie konsep gebruik – amper soos die saad waarvan Paulus praat in 1 Korintiërs 9. Daar is inherent iets in saad teenwoordig wat deur ’n proses verwerklik word in die boom of vrug wat daaruit groei. Dit is die analogie wat kon dien om te verduidelik dat iets soos ’n gedagte wat nog net virtueel is, verwerklik word wanneer dit ten uitvoer gebring word in ’n woord of ’n daad.

Die Middeleeuse Dun Scotus het na aanleiding van Thomas van Aquino se kennisleer die term virtualiter gebruik om die eienskappe van die moontlike wat in iets opgesluit is, te verwoord. Hy leen die terme potensialiteit en aktualiteit by Aristoteles om dus te verduidelik dat al kan die mens nie alles van God af weet nie, is dit (wat ons nog nie weet nie) steeds virtualiter deel van die bestaan van God. Wanneer dit deur God geopenbaar word, word die moontlike dan die werklike. Belangrik om raak te sien, is dat Scotus meen daar is ’n beweging vanaf moontlikheid na werklikheid.

Vir eeue was dit ’n onbevraagde formulering. Dit was Gilles Deleuze wat in 1966 gestel het dat dit nie gaan oor virtuele werklikheid nie, maar oor die werklikheid van die virtuele. Hy is algemeen bekend as die filosoof van die virtuele. Hy meen dit is onmoontlik om enigsins te onderskei of daar ’n beginpunt tussen die werklike en die virtuele is. Dit is soos ’n lint waarvan die twee punte aanmekaar geheg is en wat in ’n heliks gedraai is. As ’n mens met jou vinger al langs die lint afgaan, is jou vinger die een oomblik aan die buitekant van die lint en die volgende oomblik aan die binnekant van die lint. So ook is die verband tussen die werklike en die virtuele on-onderskeibaar, die een is deel van die ander, en albei werk wederkerig op mekaar in. Ontologies is hulle gelykwaardig.

Die meer aardse voorbeeld hiervan is vanuit die rekenaarbedryf. Vandag is die tendens dat fisiese rekenaars gevirtualiseer word om “in die wolke” te kan wees. Anders as by Dun Scotus dus, lyk dit of die hedendaagse proses eerder by die fisiese of werklike begin en oorgaan na die virtuele – waneer dit gebeur, word dit aktualisering genoem; let dus op die onderskeid tussen verwerkliking en aktualisering.

My navorsing het gaan kyk hoe Dietrich Bonhoeffer virtualiteit toepas in sy ekklesiologie, spesifiek in sy werk Sanctorum Communio (gemeenskap van gelowiges). Hy gebruik die konsep Christus als Gemeinde existierend (Christus wat as kerk bestaan) en meen dan dat hierdie konsep aktualiseer in die gemeenskap van gelowiges in hierdie wêreld. Aktualisering het vir Bonhoeffer hoofsaaklik drie perspektiewe: die gemeenskap van die gelowiges is die aktualisering van die kerk van Jesus Christus; in Christus word die nuwe lewensbeginsel van die kerk geaktualiseer; en die kerk aktualiseer die liefde van Christus.

Tydruimtelike irrelevansie

Dit is nie die opheffing van tydruimtelikheid self nie, maar die opheffing van die beperking van tydruimtelikheid op menslike interaksie. Op die oog af lyk dit na ’n geïsoleerde individu vasgenael voor ’n skerm, maar in wese is dit ’n nuwe beweeglikheid wat kontinente en tydsones oorspan. Pierre Lévy wys dat hierdie nuwe beweeglikheid nie net in ’n rekenaarwêreld plaasvind nie – wêreldwyd is daar ’n oplewing in reis en toerisme. Die ontkoppeling van tydruimtelike oriëntasie verbreed menslike ervaring en verwysingsraamwerke. Virtuele werklikheid is sodoende die verruiming van menslike begrip van werklikheid.

Vir die gelowige is geloof deel van werklikheid. Ook hierdie deel van werklikheid word verruim wanneer die virtuele gesnap word. Bonhoeffer toon ’n plaaslike gemeente is terselfdertyd die liggaam van Christus in die fisiese omgewing én deel van die groter grenslose gemeenskap van gelowiges. Die gemeenskap van gelowiges is nie onderhewig aan tydruimtelike beperkings nie, maar waar die evangelie deur die Woord verkondig word, is die gemeenskap van gelowiges ten volle teenwoordig. Dit is ’n gemeenskap vir alle tye en plekke. Sy presiese woorde was: Elke individuele plaaslike kerk is die liggaam van Christus, maar tog is daar een liggaam, en slegs die universele kerk aktualiseer alle geloofsgemeenskappe saam tot die liggaam van Christus. Hierdie tipe gemeenskap word nader beskryf met die begrip kollektiwiteit.

Kollektiwiteit

Tegnologies-geïnduseerde aktualisering, wat agnosties is teenoor tydruimtelikheid, het nuwe menslike interaksie tot gevolg. Teenoor die heersende gees van individualisme, ontwikkel ’n kollektiewe saamwees van mense. Die onderliggende hiervan is kollektiewe intelligensie wat herdefinieer hoe mense tot kennis kom en waarheid vorm (epistemologie). Wentzel van Huyssteen skryf oor die rol van die kenner wat vervaag. ’n Aanlynensiklopedie soos Wikipedia illustreer dat kennis kollektief gevorm word – juis nie noodwendig deur kenners nie. Almal dra by tot die vorming en ruiling van kennis volgens ’n nuwe stelsel van selfregulasie. Kennis het nie meer ’n lokaliteit nie, maar is verweef in ’n netwerk van moontlikhede. Dit vúl die leemtes van vorige modernistiese epistemologiese modelle en sluit kulturele en sosiale interdissiplinariteit in. Menslikheid word die nuwe verhandelbare kommoditeit van die kennisera.

Alles is egter nie net goed nie. Kollektiwiteit soos sosiale-mediaplatforms lei dikwels tot afstomping van waardes en ontneem menslike bestaan van betekenis. Die teenwig hiervoor, meen Lévy, is gemeenskap – gemeenskap in die vorm van ’n selfstandige naamwoord, ’n byvoeglike naamwoord én ’n werkwoord. Hierdie gedagte word ook gevind by Bonhoeffer. Die waarde van deelwees van kerk (met ’n ontydruimtelike kerkverstaan), meen Bonhoeffer, is juis gemeenskap. Hierdie gemeenskap gee weer nuwe waarde en ’n herontdekking van wie ons is, van wie ons as persoon is, en wie ons as persoon ten opsigte van die ander is. Met-mekaar en vir-mekaar werk wederkerig op mekaar in, in die kerk. In Christus is alle gelowiges gelykwaardige deelnemers aan en vormers van die geloofsgemeenskap. Ek merk op dat gewone lidmate byvoorbeeld deur WhatsApp-groepe bedieningsnetwerke skep wat konvensionele gemeentegrense by verre oorskry. Die rol van die predikant is nie meer bloot om die pagter van die geloof te wees nie. Eerbare en opregte gelowige menslikheid is waarna gesmag word.

In die kerk se uitdaging om hoop vir ’n tegnokratiese samelewing te wees, sal insig in virtualiteit van deurslaggewende belang kan wees.

(Dr Deon du Toit is ’n beroepafwagtende predikant van die Kerk)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap