Gister speel ek en my seun ʼn rekenaarspeletjie. Dit is ʼn motorresies. Ons jaag deur die strate met renmotors en hy kry tog te lekker wanneer ek kort-kort die pad byster raak en my vuurwa in digitale stukke uitmekaarval. Elke keer as dit gebeur, dan vibreer die kontrole in my hand – ʼn ervaring wat meer as een sintuig van my lyf opeis. Ek laat my nie onderkry nie en soos ek elke keer weer probeer, word ek ingesuig in hierdie virtuele wêreld van verbyflitsende tonele en meegesleep deur die opwinding van spoed en kompetering. Toe ek weer sien, het daar nie minute nie maar ure verloop sonder dat ek dit agtergekom het. Fassinerend! dink ek, die greep wat hierdie tegnologie-geïnduseerde virtuele wêreld op my kan hê en ure van my tyd en konsentrasie kan opsuig. En ek besef, tegnologie het ʼn onkeerbare invloed op ons lewe. Sonder dat ons dit besef het, het die wêreld waarin ons leef ʼn virtuele wêreld geword.

Naby ons is ʼn melkdepot/deli wat geen kontant meer aanvaar nie, net virtuele geld – syfertjies wat van een bankrekening afgetrek word en by ʼn ander bankrekening gevoeg word. Dit is ook hoe die VSA onlangs hul ekonomie “gered” het – deur bloot syfertjies by te voeg sonder dat dit enigsins verband hou met tasbare bates. Die kere dat ek harde kontant in my hande voel, word al hoe minder. ʼn Vriend van my verkoop trekkers. Daar is reeds modelle beskikbaar wat geen drywer benodig nie. Al die landerye is met GPS-tegnologie geplot op ʼn rekenaarprogram, en al wat die boer moet doen, is om “Enter” te druk dat die trekker outomaties sy skut verlaat en met presisie ʼn land gaan ploeg of beplant.

Ons werklikheid het grootliks virtueel geword. Anders as wat ʼn mens verwag, is virtualisering ʼn omskakeling van die werklike na die virtuele. Die werklike motorresies word omgeskakel na ʼn virtuele resies. Die virtuele word ʼn uitbreiding, ʼn toevoeging of ʼn verruiming van die werklike. Hierdie omskakeling skep soveel meer moontlikhede as wat die werklike toelaat. ’n Mens kan nou ervaar wat dit is om in ʼn vegvliegtuig te vlieg, dokters kan moeilike operasies simuleer, oorlog kan vanaf leunstoele gevoer word, skole hoef nooit weer boeke aan te koop nie, inkopies kan te eniger tyd op ʼn skerm gedoen word, en vir sommige beteken dit hulle hoef nie weer uit die huis uit te gaan nie. Dis soos ʼn kraaines in ʼn visserslyn – elke draadjie kan uitgepluis word en elke kronkel is vol nuwe moontlikhede wat met opwinding ondersoek kan word.

Virtualiteit laat ons anders begin dink, anders oor kommunikasie, anders oor skryf, anders oor leer, anders oor vermaak en anders oor … God?

Inderdaad anders oor God. Eintlik besef ons, vir gelowiges bestaan die konsep van iets wat groter en tasbaarder is as dit wat ons die fisiese werklikheid noem, lankal reeds. En die omskakeling van die tasbare werklike na iets wat virtueel werklik is, het vir ons reeds plaasgevind: Jesus was werklik op aarde, sigbaar, tasbaar, maar Hy het gesterf en weer opgestaan. Die opgestane Heer is vir ons as gelowiges deel van ons werklikheid. Ons sou nie ʼn probleem daarmee hê om Christus se teenwoordigheid in ons lewe as “virtueel” te beskryf nie, want Hy is vir ons geensins minderwaardig aan dit wat ons werklikheid noem nie. 

Gelowiges se konsep van werklikheid oorskry die bloot sigbare en tasbare. Ons kan die konsep van die virtuele daarom gerus deel van ons geloofstaal ook maak, want ons weet lankal reeds wat dit beteken.

Ons omarm die virtuele, want werklikheid is vir ons in die verhouding met die Grootse.

af
af
Deel met behulp van
Copy link